Terugskouing



Die program skop af met ‘n finale herinnering aan die definisie van ‘n nisboer – ‘n boer wat ‘n gewone produk op ‘n nismanier verbou, of ‘n nisproduk op ‘n gewone manier verbou. Daarna sien kykers weer die finale Vyf van die Bestes-ranglys:
- Kleinskuur Aquaponics
- Tilapia Farming
- Reeds Organics
- Organic Health
- Afrisnail
Te midde van ‘n feestelike atmosfeer word teruggekyk op die hoogtepunte van die reeks as ‘n geheel, asook elke aanbieder se persoonlike hoogtepunte. Elke plaas se meriete word opnuut bespreek en geloof, en die onderskeie boere gesels ook lekker saam. Die spesiale gas is Johan Botes van Springdeals Rabbitry, wat nie die ranglys gehaal het nie, maar steeds die paneel baie beïndruk het met die mate waarin sy konynboerdery aan al die sleutelvereistes van die nis-ideaal voldoen.
Een van die vele hoogtepunte van die geleentheid is die spyskaart wat van voorgereg tot nagereg bestaan uit die nisboerderyprodukte van die seisoen – van slakke en tilapia tot konynpastei. Gesondheid in die rondheid is eweneens aan die orde van die dag met miniglasies koringgras-sap en appelasyn.
Twee onthullings word gemaak met die program wat einde se kant toe staan. Eerstens verduidelik Corné dat die fees juis by Moyo Ushaka in Durban gevier word omdat dit die vertrekpunt is vanwaar Seil-Safari 2019 sal anker lig in die opwindende nuwe MSC Musica . Hy kondig ook aan dat al die wenboere en hul gades uitgenooi is om die reis gratis mee te maak.
Tweede aan die beurt is Anrich wat die verrassende uitslag van Nisboere Seisoen 3 se Faceboek stemming bekendmaak:
- Tilapia Farming
- Kleinskuur Aquaponics
- Springdeals Rabbitry
- Organic Health
- Afrisnail
En so loop Nisboere Seisoen 3 tot ‘n einde – vol welwillendheid en hoop vir die toekoms.