DINK GRÓÓT

Seisoen 3 | Episode 15

Palermo-rissies | Dakverbouing | Laerskool Constantiapark

 

Palermo-rissies

GRACELAND HYDROPONICS

 

F: 27 12 255 0149

Simonia kuier by Graceland Hydroponics naby Brits, waar Johan Joubert met Palermo-soetrissies boer. Johann vertel hy het die korporatiewe wêreld in 2003 vaarwel toegeroep, ‘n paar tonnels gekoop en met komkommers begin boer. In 2007 het hy uitgebrei na sy huidige plaas en steeds met komkommers geboer. Die draaipunt het in 2014 gekom toe hy tydens ‘n besoek aan Nederland vir die eerste keer Palermo-rissies onder oë gekry het. In 2015 het hy dié sonderlinge gewas begin verbou en in 2016 het hy ‘n World Palermo Partner geword, wat beteken hy is een van slegs twee boere wat tans Palermo-soetrissies in Suid-Afrika verbou.

Plaasbestuurder Rudi Weyers gaan wys vir Simonia hoe die onderneming lyk en hoe dit werk, en Johan verduidelik dat die gehalte van Graceland Hydroponics se Palermo-rissies van deurslaggewende belang is, omdat hulle uitsluitlik aan Pick n Pay lewer, wat baie spesifieke standaarde stel.

Simonia proe ‘n Palermo en stem saam met Johan dat dit ‘n baie unieke smaak, sonder enige nasmaak, het. Op haar vraag wat met rissies gebeur wat nie die Pick n Pay-toets slaag nie, antwoord Johan dat dit beesvoer word, vandaar die feit dat die diere so rond en vet is.

Rudi reken aspirant-nisboere wat hierdie tipe onderneming van die huis af wil bedryf, moet met ‘n kleiner tipe struktuur begin, wat ‘n koste van sowat R300 per vierkante meter sal beloop. Johan reken dat ‘n mens, afhangende van jou gewasse en die marktoestande, binne vier tot vyf jaar ‘n wins kan begin toon. Sy raad aan voornemende boere is om met tussen 10 en 20 tonnels van sowat 30 m x 10 m te begin.

Dakverbouring

URBAN PLANTATION

 

Anrich bevind hom by Urban Plantation naby Somerset-Wes, waar Shirley Plant en Claudia Grobler mikrogroentes verbou en verkoop, en waar hulle ook die gepaardgaande tegnologie van die hand sit. Hul visie is skoon en groen voedselsekerheid, en hul toekomsplanne behels plantasies op mure en dakke van geboue.

Shirley, wat haar loopbaan in die restaurantwese begin en daarna ‘n pad deur landbou en bankwese geloop het, het ná haar aftrede besluit om te begin boer. Dit is ‘n beroep – of roeping – met aansienlike uitdagings, insluitend die tot onlangs voortslepende droogte in die Wes-Kaap. Shirley wys en verduidelik vir Anrich eers hoe hulle alle reënwater bewaar, en daarna hoe Urban Plantation se trolliestelsel die verbouing van mikrogroente optimaliseer. 

Anrich wil weet hoekom sy juis mikrogroente gekies het, en Shirley antwoord dat dit ‘n hoë-waarde produk is wat hulle kontantvloei bevorder, en dat dit ook gaan om die tegnologie wat hulle gebruik en hoe dit toegepas word. Sy wys daarop dat die stelsels wat hulle te koop aanbied op enige plek gebruik kan word – van ‘n tennisbaan of parkeerarea tot vraghouers of dakke.

Haar en Claudia se insetkoste om Urban Plantation op die been te bring, was sowat R4 miljoen, hoewel hierdie bedrag op- of afgeskaal kan word na gelang van individuele behoeftes.

Daarna ontmoet Anrich vir Claudia wat vertel dat sy by uitstek aangetrek is deur Urban Plantation se toewyding tot voedselsekerheid. Sy wy ook meer uit oor die supergesondheid van mikrogroente, en laat vir Anrich ‘n happie koljander proe wat sy laggend reken “soos ‘n boereworsslaai smaak”.

Die mark vir mikrogroente, verduidelik sy, is nie sonder uitdagings nie. Sy en Shirley het hul produk te midde van ‘n resessie bekendgestel, en moes boonop aan verbruikers verduidelik presies wat dit is en watter gesondheidsvoordele dit inhou.

Desnieteenstaande bly hulle onwrikbaar verbind tot hul visie en Claudia is veral opgewonde oor die potensiaal van werkskepping en vernuwing wat hul tipe verbouing van mikrogroente vir stede kan inhou.

Vir aspirant-mikrogroenteboere, reken Claudia, is Urban Plantation se Farm in a Crate-stelsel nommerpas. Dit bevat alles wat ‘n mens nodig het om jou boerdery aan die gang te kry, en jy behoort na sowat twee en ‘n half jaar die aanvangskoste van R50 000 te verhaal het.

Laerskool Constantia

ENTREPRENEURSDAG BY LAERSKOOL CONSTANTIAPARK

Vandeesweek gaan kuier Mali nie op ‘n kommersiële plaas nie; die span gaan vind uit wat gebeur by die Graad Sewes van Laerskool Constantiapark se entrepreneursdag. Voor die groot dag, het die Graad Sewes kleurvolle plakkate opgesit en van klas tot klas gegaan om vir almal te verduidelik presies wat hulle entrepreneursdag alles behels. En op die groot dag self, het die graad in geur en kleur uitgehaal en gewys – met alles van watertand melkskommels tot ‘n mengeldrankiestalletjie met ‘n Hawaii-tema en hoela-dansende manne!

Die skoolhoof, A.J. Oosthuizen, sê hy wil graag glo dat kinders die ingesteldheid van super-entrepreneurskap kan hê sodat hulle eendag hul eie ondernemings kan begin, sodoende geld kan genereer en uiteindelik tot die land se ekonomie kan bydra. As ‘n mens kyk na die kreatiewe flair en skitterende sukses van Entrepreneursdag 2018, is dit beslis ‘n droom wat net wag om verwesenlik te word!

Terug na episodes