DINK GRÓÓT

Seisoen 3 | Episode 14

Wilde-knoffel | Appelasyn | Graanboerdery & Genesis-gebruiker

Wilde-knoffel

PINK GERANIUM NURSERY

W: http://fisk.co.za/retail/the-pink-geranium/

Anrich kuier by Pink Geranium Nursery naby die Bolandse dorp, Paarl. Op dié interessante nisplaas is daar weliswaar plate pragtige pienk blomme, maar dis nie geraniums nie; dis ‘n variant van wilde-knoffel wat, saam met baie ander variante, met wetenskaplike vernuf geteel word deur die eienaar van die onderneming en top- tuinboukundige, James Fisk. Die doel hiervan is om vorendag te kom met nuwe kultivars wat meer weerstand bied teen ‘n verskeidenheid omstandighede – van warm en koue dae tot min en baie reën – wat dit dan ook vir die Europese en Noord-Amerikaanse mark geskik maak.

James boer baie intensief, ‘n belangrike deel van sy plaas synde ‘n laboratorium waar nuwe genetika getoets word. Hy vertel sy suksesvolle onderneming het 27 jaar gelede begin toe hy wilde-knoffel langs die pad verkoop het. Na ‘n paar jaar kon hy ‘n stukkie grond koop, en vandag besit hy ook die grond waar hy op so ‘n hoë vlak eksperimenteer, uithaal en wys. Sy raad aan voornemende wilde-knoffel enterpreneurs is dat hulle ‘n passie daarvoor moet hê.

 

Appelasyn

TRODAM SHIRES

F https://web.facebook.com/TroDamShires?_rdc=11&_rdr

Veel verder Noord, bevind Chris hom eweneens op ‘n plaas, maar dié keer in ‘n motorhuis in Delmas, waar Damian Clamp elke maand 750 liter appelasyn maak wat gebruik kan word vir alles van algemene gesondheid tot slaaisous, marinade en blatjang.

Damian vertel hy het die appelasyn aanvanklik net vir eie gebruik gemaak, spesifiek kosmeties en vir gesondheid. Later het hy ‘n paar botteltjies aan vriende uitgedeel, positiewe terugvoering gekry en besluit om die oefening op ‘n groter skaal aan te pak – nie net deur meer asyn te maak nie, maar ook variasies soos rum en esdoring, in groottes wat wissel van 500 ml tot vyf liter.

Hy gaan wys vir Chris hoe en waar die proses plaasvind, en vertel dat sy toekomsplanne behels om mintens 10 000 liter per maand te lewer, sy eie appels te begin verbou, en alles op die plaas te hou.

 

Graanboerdery & Genesis-gebruiker

OPPERMAN BOERDERY

Mali se bestemming vir die week is Opperman Boerdery, die indrukwekkende kommersiële plaas waarop die 32-jarige Jaco Opperman en sy broer mielies en sojabone met groot sukses en op groot skaal verbou. Die broers, vertel Jaco, boer al baie lank, maar het met baie min begin.

Mali vra vir Jaco uit oor die siektes waarmee hulle op die plaas te kampe het en Jaco wei uit oor die probleme, maar ook dat Laeveld Agrochem voortydig en volgehou met oplossings vorendag kom. Hy het vier jaar gelede saam met Laeveld Agrochem begin werk, en vandag verkies hy dié span bo enige ander, omdat hy die maatskappy as ‘n beter vennoot beskou en sy agent, Stefan, ook as ‘n vriend.

Wat Jaco betref, lyk die toekoms vir jong boere in Suid-Afrika rooskleurig. Hulle moet net bereid wees om hard, en saam met ander te werk, sê hy.

Jaco is ook aktief betrokke by, en gee aan sy werkers Genesis-kospakkies, ‘n verrykte poeier wat met water gemeng word om ‘n supervoedsame en energieryke maaltyd te skep.

Terug na episodes