DINK GRÓÓT

Seisoen 3 | Episode 13

Oestersampioene | Erdwurms | Gemengde boerdery

 

Oestersampioene

S: 078 133 8069
E: info@miraclemushrooms.co.za

Oestersampioene het vir die eerste keer tydens die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland die lig gesien. Vandag word dit wêreldwyd verbou en Simonia gaan draai in Benoni aan die Oos-Rand waar twee manne met planne ‘n reusesukses van hul sampioenboerdery gemaak het.

Jaco Raath en sy vennoot, Ryno Bornman, is reeds meer as tien jaar lank in die bedryf en het grootskaalse sukses met hul aanvanklik klein onderneming behaal waarvoor Jaco deeltyds en Ryno voltyds werk.

Die manne neem vir Simonia op ‘n toer deur hul agterplaas-onderneming, van die stoom- en ontwikkelingskamers tot die groeikamer en verpakkingsruimte waar die eindproduk in bakkies verpak word vir verspeiding na kettingwinkels en varsproduktemarkte.

Miracle Mushrooms, sê Jaco, is beslis winsgewend. Vanweë die hoë insetkoste, het ‘n mens egter hoë volumes nodig om die rande aan die rol te hou.

Die insetkoste vir die grootte onderneming wat Jaco en Ryno bedryf, is sowat R1 miljoen, wat alles insluit. Het jy dít tot jou beskikking, kan jy binne ses weke begin produseer.

Om met oestersampioene te boer, is beslis volhoubaar, reken Jaco. “Sodra jy die mark gepenetreer het, is die toekoms blink vorentoe,” sê hy.

Sy en Ryno se toekomsplanne is om hul produksiekapasiteit te verhoog, en hulle is ook besig om met ander tipes sampioene te eksperimenteer.

 

Eco worm farms

S: 083 290 2116

Anrich bevind hom in Dieprivier in die Wes-Kaap, langs ‘n treinspoor waar Esther Bourke-Wright ‘n florerende erdwurmboerdery bedryf. Sy het aanvanklik niks van erdwurms geweet nie, vertel sy, maar baie daaroor gaan oplees. Uiteindelik het sy klein begin en het sedertdien groot spronge gemaak, insluitend haar toerusting en stelsels wat sy self ontwerp, en ook laat patenteer het.

Esther maak vir Anrich touwys oor haar vernuftige stelsels en wys vir hom die kaliber “BBP-behandeling” wat erdwurms en “red wriggler”-wurms by Eco Worm Farms kry.

Om, soos Esther, van ‘n klein begin in ‘n klein ruimte tot ‘n winsgewende, volhoubare onderneming – steeds in ‘n klein ruimte – te groei, neem sowat vier jaar.

Van Wyk familieboerdery

 

VAN WYK BOERDERY – Gemende boerdery

F: 011 316 5650

Mali se bestemming is weliswaar ‘n stukkie hemel in Elandsfontein, net buite Pretoria. Hy gesels met Riaan van Wyk, wat, saam met sy broer, die sewende geslag Van Wyks is wat hul slag op dié sonderlinge plaas wys.

Riaan vertel dat die Van Wyk-familieboerdery aanvanklik uitsluitlik op suiwel gefokus het, maar dat hy en sy broer dit in ‘n gemengde boerdery omskep het deur geleidelik mielies, soja, braaikuikens en beeste by te bring.

Die Van Wyk-broers het die afgelope vier jaar ‘n verhouding met Laeveld Agrochem, wat van krag tot krag gaan. Riaan waardeer by uitstek hul veeartseny-afdeling wat hom baie help met, onder meer, inentings. “Dis baie lekkerder om ‘n verteenwoordiger hier te hê wat na jou toe kom as om heeltyd veaarts toe te gaan,” verduidelik hy.

Laeveld Agrochem is ook tans besig om te help met proewe rondom die ontsmetting van water vir die boerdery se braaikuikens, en lewer op hierdie gebied ook uitmuntende en innoverende diens.

Terug na episodes