DINK GRÓÓT

Seisoen 3 | Episode 12

Sywurms | Koivis-boerdery | Gemmer

Sywurms

Simonia kuier by die Rous-gesin van Pretoria wat met sywurms boer. Ma Wanda vertel hul interessante uitgebreide gesin het begin met haar man, ‘n mediese dokter, wat baie in Hammanskraal werk en dat die Here hulle gelei het om ‘n hele spannetjie kinders aan te neem wat vandag almal by die boerdery betrokke is.

Wanda en haar kroos het sowat 1 200 sywurms, en om hulle te versorg, vertel sy, is harde werk. Die wurms moet twee keer per dag gevoer word en elke tweede dag moet die houers skoongemaak word. Elke aand kom die hele gesin saam en bestee ‘n uur saam met mekaar – en talle bokse vol sywurms.

Simonia wil weet hoe ‘n mens met sywurms kan begin boer. Wanda verduidelik dit is maklik en goedkoop – selfs gratis, as jy die eiers present kry. Al wat dan nog nodig is, is ‘n moerbeiboom. Sy sê ‘n mens kan ook feitlik dadelik begin wins maak. Sodra hul wurms uitbroei, vertel sy, verkoop die kinders dit teen R2 stuk onder hul vriende en ook via ‘n WhatsApp-groepie.

Die gesin se toekomsplanne is om uit te brei, ‘n mark vir die sy, asook werksgeleenthede, te skep.

Koivis-boerdery

S:083 948 7007
E: info@nembwe.com

NEMBWE ORNAMENTAL FISH FARM

Anrich bevind hom vandeesweek by die Nembwe Ornamental Fish Farm in Kuilsriver, waar eienaar Neil Calver besig is om sy passie vir koi wat hy van kindsbeen af koester, op ‘n groot skaal te verwesenlik.

Neil vertel dat hy die mannetjies en wyfies in die winter van mekaar skei en dan, in die somer, ‘n aantal met die gewenste kenmerke selekteer om mee te teel. Hy wys vir Anrich ‘n pragwyfie van sowat twee jaar oud – en met ‘n prysetiket van R8 500.

Anrich wil weet wat dit sou kos om ‘n koiboerdery in ‘n mens se agterplaas op die been te bring. Neil reken dit sal jou tussen R20 000 en R30 000 uit die sak jaag om iets op ‘n baie klein skaal te begin, insluitend 10 visse: vier wyfies en ses mannetjies. Na sowat drie maande – die tyd wat dit neem vir ‘n koi om ‘n bemarkbare grootte te bereik – sal jy in staat wees om visse te begin verkoop.

Sy grootste koste met Nwembe, vertel hy, is elektrisiteit en die tyd wat hy moet insit, want koiboerdery is arbeidsintensief. Die visse en die waterstelsels moet daagliks op verskeie vlakke geïnspekteer word, en die visse moet drie keer per dag kos kry.

Gemmer

S: 082 787 8783

BATELEUR BOERDERY

Mali kuier by Steyl Willemse, die trotse eienaar van Bateleur Boerdery in Hazyview. Steyl vertel hy het aanvanklik met piesangs en gemmer geboer, maar het onlangs ook macadamias en avokado’s begin verbou. Laeveld Agrochem-agent, Natie van Staden, sluit by hulle aan en vertel vir Mali meer omtrent sy betrokkenheid, veral op die gemmerfront, asook van die tipes siektes – van aalwurm en snywurm tot swamme – waarvoor Laeveld Agrochem spesiale spuitprogramme ontwikkel.

Mali wil by Steyn weet of sy verhouding met Laeveld Agrochem ‘n vennootskap is, en Steyl se antwoord is eenvoudig: “Absoluut”. Hy sê hy en Natie is ‘n goeie span, en hy noem dat hy ook baie opgewonde is oor Laeveld Agrochem se verbintenis tot tegnologiese vordering, onder meer deur hul Agri Technovation-span.

Terug na episodes