Swaantelery | Koringgras | Macadamia-neute
Swaantelery
S: 082 888 0512
E: venue@swanz.co.za
SWANZ
Reeds as ‘n klein dogtertjie van vier jaar oud, was Esmeralda Welthagen gefassineer deur watervoëls. Vandag is sy die trotse eienaar van Swanz, waar sy swane teel en verkoop aan die publiek, sowel as troulokale.
‘n Swaanpaartjie, sê sy, sal jou vandag tussen R6 500 en R7 500 uit die sak jaag, waarna jy vir hulle ‘n dammetjie met lopende water moet bou en dan twee tot drie jaar moet wag sodat hulle behoorlik gevestig raak en die wyfie begin broei.
Telers mag slegs volgroeide swane verkoop, maar Esmeralda beskou die twee tot drie jaar wat dit neem vir die kleintjies om te groei glad nie as verlore tyd nie. Dis vir haar ‘n groot vreugde om ekstra tyd met die grasieuse voëls deur te bring, wat sy voer met eendkorrels, fyngemaakte mielies en gras.
Die goeie nuus omtrent Swanz word versprei via sosiale media en die internet.
Koringgras
S: 071 175 9937
ORGANICS BY NATURE.
Anrich kuier by ‘n onderneming wat letterlik nog net weke oud is, en wat die resultaat is van ‘n hartseer storie wat in ‘n boodskap van hoop verander het. Nadat Natalie Sewell met kanker gediagnoseer is, het sy haar leefstyl verander, onder meer deur ‘n alkaliese dieet te begin volg wat ‘n wye verskeidenheid sogenaamde “superkosse” insluit. Dit is presies waar koringgras in haar prentjie begin pas het, en steeds pas.
Kort daarna het sy en haar wederhelf, Peter, besluit om ‘n plasie te koop wat hulle ook in staat gestel het om ‘n beter werk-leef-balans te handhaaf. Terwyl Peter steeds in die korporatiewe wêreld werk, wy Natalie haar toe aan die kweek van koringgras en mikrogroengewasse. Al dié gewasse groei baie vining, en elke Saterdag verkoop sy haar oes by die Silverton Boeremark in Pretoria. Die mark is vir haar baie belangrik, vertel sy – nie net as ‘n afsetpunt nie, maar ook as ‘n manier om meer omtrent hul kliënte se behoeftes uit te vind sodat sy en Peter hul produkte dienooreenkomstig kan aanpas
Macadamia-neute
S: 083 4599176
PANGANE & SONS
Mali bevind hom op ‘n plaas wat eers deel van die Kruger Wildtuin was in ‘n stadium toe die huidige eienaar, Elias Pangane, se pa ‘n wildbewaarder vir SANParke was. Elias vertel vir Mali die storie van hoe die plaas in die Pangane-familie se besit gekom het, en hoe hy self in 2012 teruggekeer en besluit het om self te boer. Hoewel die boerdery aanvanklik ‘n stokperdjie was, het die potensiaal en winsgewendheid van macadamianeute vir Elias laat besluit om ‘n besigheid daarvan te maak. Sy vennoot in sukses is Laeveld Agrochem-agent, Natie van Staden, wat hom met raad, daad en gewasbeskermingsprodukte duisend bystaan, en wat hoë lof het vir die manier waarop Elias sonder enige afwyking en met enorme sukses Laeveld Agrochem se programme volg.