Haasvleis | Gemeenskapgroentetuin | Sitrus



Haasvleis
S: 072 975 5149 / 083 285 0612
E: johan@jhlsbotesvervoer.co.za
SPRINGFIELD RABBITRY
Chris kuier by Springfield Rabbitry naby Rustenburg, waar hy gesels met die boer, Johan Botes. Johan vertel dat die plaas sedert die begin van die jaar aan die gang is en dat hulle reeds sowat 800 wyfies sterk staan. Al die konyne op Springdeals is New Zealand Whites, want, verduidelik Johan, dié ras is ‘n puik vleiskonyn en dit is minder vatbaar vir siektes as, byvoorbeeld, hoenders.
Om ‘n struktuur soos Johan s’n op te rig, met die nodige konyne, sal ongeveer R12 miljoen kos en dit sal om en by vier en ‘n half jaar neem om gelyk te breek. Chris vind ook uit hoe ‘n konyn- met ‘n beesboerdery vergelyk, hoeveel konyne ‘n mens nodig het om ‘n bees se prys te kry, en hoe lank dit neem voordat ‘n konyn bemarkbaar is.
Johan se toekomsvisie is om na die buurlande uit te brei om voedselsekerheid in die area te help bevorder.

S: 083 508 1066
E: cityfarm@ozcf.co.za
ORANJEZICHT CITY FARM
Anrich kuier by ‘n sonderlinge plasie in die skadu van Tafelberg, waar hy effens voos gewaai word deur die Suidooster. Josephine Fitzmaurice, die bestuurder, vertel vir hom van die logistieke uitdagings, maar voeg by dat dié tuinplaas haar absolute passie is. Een van die hoogtepunte, sê sy, is die 1 000 tot 1 200 kinders wat die plaas elke jaar besoek. Sy en haar kollegas maak ‘n punt daarvan om die kinders se leerplanne na te gaan om te verseker dat wat hulle op die plaas wys word, aanvul wat hulle in die klaskamer leer.
Volgende gesels Anrich met Kurt Ackerman wat vir hom vertel van die geskiedenis van die grond – van die era, ‘n paar eeue gelede, toe dit ‘n familieplaas was wat bankrot gegaan het, tot die tyd, 12 jaar gelede, toe dit ‘n vullishoop en ‘n bymekaarkomplek vir dwelmhandelaars was. Danksy die ingryping van die plaaslike buurtwag, is dié duister bedrywighede egter in die kiem gesmoor en vandag word nie net talle weeklikse houers groente op bestelling vir kliënte voorberei nie, maar elke Saterdag kom besoek ook sowat 1 000 mense die plaas. Hul benadering, vertel Kurt, is eties, en hul eintlike doel is om mense met mekaar te verbind.
Les bes wil Anrich weet hoeveel dit sou kos om hierdie tipe inisiatief aan die gang te kry. Kurt verduidelik dat dit weens ‘n verskeidenheid faktore moeilik is om ‘n spesifieke bedrag vas te maak, maar reken dat ‘n mens na ‘n belegging van sowat R3 miljoen kan kyk.
Sitrus
NEW DAWN FARMING ENTERPRISE
Mali kuier by boer Daniel Victor. Daniel vertel dat New Dawn bestaan uit 18 plase en dat die onderneming gegrond is op vennootskap eerder as mentorskap, die doel synde om die gemeenskap deur middel van opleiding by landbou te betrek.
New Dawn se fokus is op sitrus en mango’s. Die sitrus word meestal uitgevoer, terwyl die mango’s plaaslik van die hand gesit word.
Mali wil by Nicky Chiloane weet wat sy boodskap aan ander begunstigdes sou wees. Nicky antwoord dat hulle moet hou by wat hulle doen en dat hulle geduldig moet wees, omdat New Dawn om ‘n langtermyn visie gaan.
Kom dit by die plaas se verhouding met Laeveld Agrochem, wys Daniel daarop dat hulle nie altyd self al die kennis het nie. Laeveld is baie belangrik wanneer dit kom by besluitnemingsprosesse, verduidelik hy, en die produkte wat hulle gebruik, sluit onkruiddoders en plaagmiddels in. “Hulle kom ‘n lang pad met die gemeenskap, en hulle ken die behoeftes van die boer,” sê hy.
Daniel is entoesiasties oor die toekoms. Alles dui op ‘n positiewe rigting, is sy slotsom.
S: 071 682 9959
E: christellev@ndfe.co.za