Seisoen 2 | Episode 9

Natuurlike skaapwolduvets en -kussings | Stedelike landboukundige inisiatief | Vye

 

Vandeesweek is daar groot verwikkelinge op die program en die bord. Maar eers gaan Simonia in die middestad van Johannesburg uitvind hoe ‘n mens op ‘n gebou se dak boer. Chris gaan vind meer uit omtrent wolprodukte by Chrissiesmeer, en Anrich bevind homself op ‘n vyeplaas.

[timed-content-server show=”07/09/2018 20:00 Africa/Johannesburg”]

Natuurlike Skaapwol-Duvet en Kussings

F: 017 847 2004 / 079 886 9923 / 083 452 2233
E: mcclouds@942.co.za
A: S 26˚ 16′ 52.33″ E 30˚ 12′ 31.92″
W:  www.mcclouds.co.za

McClouds

Chris bevind hom in Suid-Afrika se meredistrik, in Chrissiesmeer, waar ‘n jong entrepreneur vir hom wys hoe ‘n mens ‘n goeie lewe kan maak met wol, veral as jy vinnig met produkte vorendag kom.

Die 23-jarige Alexia Hechter het haar skoolopvoeding tuis voltooi, gaan mode-ontwerp swot op Stellenbosch, Chrissiesmeer toe gekom en nog nooit weer teruggekyk nie.

Reeds in haar skooljare het Alexa haar ma met haar wolbesigheid op die dorp gehelp, en toe sy na universiteit terugkom, het sy die besigheid oorgeneem.

Chris wil weet wat sy alles met die skape op die plaas doen, waarop Alexia antwoord dat sy die wol vir duvets gebruik en dat hulle ook wol spin. Wol, vertel sy, is hipo-allergenies, wat dit ‘n beter keuse maak as dons waarvoor mense allergies kan wees.

Alexia se toekomsplan is om haar produkte deur die internet te verkoop, en met die oog hierop het sy al die aanlynreus Amazon gekontak. Sy hoop ook om haar fabriek groter te maak en meer produkte te ontwikkel.

Volgende sien Chris hoe wol in verskillende fases lyk, hoe dit verwerk en gewas word, en hy vind uit dat Alexia en haar span 180 kg – sowat een baal wol – per maand verwerk.

Haar personeel bestaan uit een man wat die hele week lank die wol help kardeer, twee meisies in die dorp wat duvets maak, en drie wat in die winkel help sodat Alexia tyd het vir boeke doen.

Alexia se handelsmerk is Wool: Sleapwear & Loungewear, en die McClouds-winkel waar sy dit verkoop, is pragtig. Die twee hoofprodukte is wolduvets en drie tipe kussings.

Met Chrissiesmeer wat ‘n stil dorp is, wonder Chris waar Alexia haar kliënte kry. Sy verduidelik dat McClouds op die N17-snelweg op pad na Swaziland is. “Mense wat soontoe gaan, stop gereeld hier,” verduidelik sy. “Daar is ook verskeie trou-venues buite die dorp wat naweke baie besig is. As gaste verveeld raak, kom hulle dorp toe.”

Alexia se advies aan voornemende wol-entrepreneurs is dat die tipe werk harde werk is wat nie altyd gewaardeer word, maar daar is darem ‘n silwer randjie om die donker wolk… “Dis lekker as jy daarvan hou,” verduidelik sy, “dan moet jy deurgaan met die plan.”

 

Stedelike Landboukundige Inisiatief

F: 0813141972
E: ntlantla@gegeziorganics.co.za

Simonia kuier in Johannesburg se middestad by ‘n baie unieke en suksesvolle boer. Nhlanhla Mdati het nege maande gelede begin met sy Urban Agri Initiative om te bewys dat hierdie tipe boerdery nie net volhoubaar is en tot ‘n kommersiële besigheid kan groei nie, maar dat dit ook werksgeleenthede skep.

Simonia wil weet hoe hidroponika werk en Nhlanhla verduidelik die verskillende tegnieke en ook hoe die onderskeie stelsels werk.

Daarna besigtig hulle ‘n indrukwekkende basilieplant en Simonia wil weet hoe Nhlanhla dit regkry om so ‘n groot plant te kweek. Hy verduidelik dat die hoë voedingstofvlakke beteken dat gewasse nooit na water hoef te soek nie, omdat dit 24 uur per dag beskikbaar is.

Simonia spreek haar verbasing uit dat die projek nog net nege maande aan die gang is. Nhlanhla vertel dat sy onderneming nou in die kommersiële fase is. Tydens die vorige fase moes hy bewys dat dakboerdery volhoubaar kan wees en ook werksgeleenthede kan skep vir mense van 18 tot 35.

Sy plan met die huidige ruimte is om ander daktuine in te bring en uiteindelik die hele gebou te betrek en ook die beste tegnologie in te bring.

Simonia wil weet of die Kamer van Mynwese alles befonds het en Nhanhla verduidelik dat die Kamer geld verskaf het vir die loodsprojek wat ‘n groot sukses was. Die meeste van sy oes is verkoop aan restaurante en kafees in Marshalltown.

Sedertdien gaan Urban Agri van krag tot krag, met sy groei wat bepaal word deur die hoeveelheid geld wat hy maak.

Van buite af stap die twee na ‘n biblioteek waar Nhlanhla vir Simonia ‘n sak kalsium-nitraat wys en verduidelik hoe hierdie tipe makrovoedingstowwe toegedien word.

Simonia wil weet wat die voordele van ‘n dakboerdery is. Nhlanhla antwoord dat dit onder meer lê in makliker toegang tot markte ten opsigte van afstand, wat kostes sny. Verder het die produksie van voedsel in stede ‘n baie lae omgewingsimpak, met lae koolstofuitlatings en besoedelingsvlakke.

Sy advies aan voornemende dakboere is om passievol te wees oor wat hulle doen, om ‘n visie te hê en baie tyd in te sit – sewe dae per week, met 12 tot 18 uur skofte. Hy wys daarop dat baie kommersiële boere, omdat hulle jare lank reeds boer, dakboere kan klop met betrekking tot prys, volume en marktoegang.

Daarom moet dakboere konsekwent werk en fokus op die ontwikkeling van ‘n besigheidsmodel, die oplossing van probleme wat hulle identifiseer en om in die proses stelselmatig beter te word met wat hulle doen.

 

Vye

F: 072 6494290 / 021 701 7172
E:  info@thefigary.com 
A: Osdrift Enterprises, Aan de Doorns, Worcester, 6850
W: http://www.thefigary.com

The Figary

Anrich kuier op die plaas Osdrift naby De Doorns in die Wes-Kaap, wat pronk met 625 boompies per hektaar, versprei oor 38 hektaar, waar die gemeeskap met oestyd saamspan en reeds vroeg opruk want, verduidelik bestuurder Kallie Kok, as die son warm raak, word die vye pap.

Kallie is egter nie die enigste Kok op die plaas nie. Sy vrou, Charmain, is by kwaliteitsbeheer en sy vertel vir Anrich wat hierdie bepalend belangrike proses behels. En is daar nog ‘n paar geslagte van Kokke wat wat betrokke is by die verbou en oes van die gesogte gewas wat net reg gepluk moet word, anders kan ‘n mens dit nie gebruik nie.

In die verpakkingsaanleg wys en verduidelik Areezah Cedras, ‘n algemene werker wat vir die tweede opeenvolgende jaar in gehaltebeheer bevorder is, vir Anrich hoe die vye deur die verskillende produksiefases beweeg.

Volgende gesels Anrich met Nicola Hugo wat op Osdrift grootgeword en onlangs The Figary begin het. Die rede hiervoor, verduidelik sy, is dat net sowat 50% van vye wat gepluk word, vir uitvoer verpak kan word. Dit het haar die idee gegee om met ‘n droëvye besigheid te begin. Vandag word haar produkte in pragtige pakkies en verskillende groottes verpak, van 200 g tot ‘n grootmaat 1 kg sak.

Die laaste bestemming op Anrich se besoek is ‘n kuiertjie met … Stefan Hugo en sy oulike kleindogter, met Nicola wat ook saamgesels.

Anrich wil meer weet van die plaas se oorsprong en naam Osdrift. Stefan verduidelik hoe dit gebeur het en dat die naam geskiedkundige waarde het. Hy vertel ook dat hy by vye uitgekom het na ‘n lang soektog en baie probeerslae met gewasse van bloubessies tot sceletium. “Vye se rendement is ‘n bietjie hoër as dié van gewone kommoditeite in die area,” sê hy, “Daarom spesialiseer ek nou in vye in plaas daarvan om te diversifiseer.”

Anrich is ook nuuskierig om uit te vind wat Nicola gedoen het voordat sy haar eie klein vyebedryf begin het. Sy vertel dat sy sosiale antropologie geswot het en in 2012 op die plaas kom bly het en begin betrokke raak het. “Vye het my ingesluk; ek is nog nooit weer weg nie,” verduidelik sy glimlaggend.

Les bes reken Stefan die toekoms vir vye lyk goed. Hulle bedien die wintermark in Europa, hulle groei en hy is opgewonde.

[/timed-content-server]