Seisoen 2 | Episode 7

Pynappels | Artisjokke | Koffiebone

 

Die Nisboere-span se reis begin weer by Clean Air Nurseries, die spogplaas van Gideo van der Merwe, 2017 se Nisboer van die Jaar.

Vandeesweek gesels hulle heel eerste oor die Vyf van die Bestes-bord wat gewoonlik elke week verander. Simonia wys daarop dat net een uit laas week se drie boere die bord gehaal het, waarna Anrich noem dat hierdie week se boere ‘n kans het om die prentjie te verander.

Chris self, met sy passie vir koffie, gaan by ‘n koffieboer in Natal kuier. Simonia gaan meer uitvind oor ‘n vreemde tipe groente in ‘n baie bekende tuin, en Anrich gaan soet pynappels proe in die Oos-Kaap.
[timed-content-server show=”06/25/2018 20:00 Africa/Johannesburg”]

Pynappels

Clifford Farm 

W:  https://www.agrisa.co.za/bingqala-pineapple-co-op/
F :+27 76 292 7001
E:  litha@amatenzaconstruction.co.za

Anrich vertel as jy op Clifford-plaas in die Oos-Kaap wil uitkom, jy minstens een kilometer op grondpad moet ry. Nadat hy die nodige stof opgejaag het, kuier hy by Litha Zitshu, bestuurder en lid van die Bingqala Pineapple Co-op in die Peddie- distrik van die Oos-Kaap.

Clifford Farm, vertel Litha, het in 2014 begin met befondsing van die Departemente van Grondontwikkeling en Landelike Hervorming. Hulle het R400 000 gekry om die projek mee aan die gang te kry, met die voorwaarde dat hulle elke jaar met 30 hektaar moes uitbrei. Vandag beslaan Clifford Farm reeds 583 hektaar en die voorneme is om alles te bewerk.

Anrich wil weet hoekom die vennote juis pynappels gekies het en Litha verduidelik dat pynappels nie baie besproeiing nodig het nie, maar dat ‘n mens net konstant kunsmis moet toedien om ‘n goeie-gehalte eindproduk te verseker.

Litha was egter nie altyd ‘n boer nie. Hy was oorspronklik ‘n onderwyser, maar weens die skaarste van werk het hy besluit om na boerdery oor te skakel.

Na geselsies oor hoe om pynappels te pluk en die manier waarop Litha en sy span water uit die berg herlei na die landerye, bespreek Anrich en Litha ‘n bietjie terug in die geskiedenis. Anrich noem dat die grond voorheen deur ander mense gebruik is om pynappels te verbou en … verduidelik dat wit kommersiële boere onder die Ciskei-regering betrokke was, maar dat hul geld opgeraak het. Die probleme, vertel hy, het ontstaan na die 1994-verkiesing toe parastatale liggame ineengestort het.

Vandag lyk die toekoms egter blink op Clifford Farm, met vragte vol gesonde, watertandlekker pynappels wat gelaai word vir vervoer na die fabriek waar hul sap uitgedruk word vir uitvoer na Europese lande, Asië en die VSA.

Hierna gee Litha vir Anrnich ‘n paar riglyne oor hoe ‘n mens te werk gaan om pynappels te plant en les bes sê hy sy visie vir Clifford Farm is om dit uit te brei en produksie te verbeter, sodat hul produk meer markte bereik om meer geld en geleenthede vir die plaaslike Bingqala-gemeenskap te genereer.

Artisjokke

Margaret Roberts Herbal Centre

W: www.margaretroberts.co.za/
F: 071 1616 441
E: margretroberts@lantic.net

Simonia bevind haar in die prentjiemooi tuin van Sandy Roberts, dogter van die oorlede kruie-ghoeroe, Margaret Roberts, in die agaliesberg buite Johannesburg. Simonia wil weet waar haar geskiedenis met aardartisjokke begin het en Sandy vertel haar grootouers het altyd vir hulle artisjokke gebring in pragtige mandjies wat met blare uitgevoer was.

Sy verduidelik verder hoe die plant as risome groei, dat aardartisjokke vol kalsium, fosfaat en yster is en gebruik kan word as medisyne vir alles van snye, kneusplekke en absesse tot selfs verstuitings. ‘n Mens moet egter versigtig wees met die plant in sy rou toestand, maan sy, want dan is dit totaal toksies.

Die tuin as geheel, sê Sandy, is volhoubaar, en op Simonia se vraag of sy dit geniet om kinders te leer plant, antwoord sy dat sy dol is daaroor, omdat hulle so graag hul eie tuine wil hê.

Afgesien van die risome waaruit die artisjokke gekweek word, pronk Sandy se tuin met ‘n wye verskeidenheid ongewone plante, asook basiese kruie. En vir aspirant-tuiniers wie se groen vingers jeuk, is daar boeke beskikbaar wat hulle kan vertel presies hoe om te werk te gaan.

Volgende gaan sit Simonia en Sandy aan by ‘n tafel waar hemelse groentesop met jasmynblommetjies vir geur op hulle wag – en vir Simonia die geleentheid gee om uit te vind oor die tuin en die restaurant. Sandy vertel sy het die restaurant jare gelede begin – eintlik uit frustrasie met mense wat nie kruietees wou drink nie, maar altyd op soek was na baie sterk koffie. Die volgende stap was resepte vir lieflike ongewone geregte, en vandag word daar ook kookklasse aangebied, asook opleiding vir skole en ander opwindende geleenthede.

Sandy se advies aan voornemende groenteboere is om onmiddellik organies te gaan en met goeie kos en wonderlike saad te begin. “Begin klein en laat dit groei,” sê sy.

Koffie Bone

Beaver Creek Coffee Estate

A:   Beaver Creek Estate, Izingolweni Road, Port Edward,
E:   info@beavercreek.co.za
F:  +27 (0) 39 3112347
W:  https://www.facebook.com/beavercreekcoffee/

Chris bevind homself aan die suidkus van Natal by Beaver Creek Coffee Estate wat deel vorm van die koffieherlewing in Suid-Afrika, waar hy kuier saam met besturende direkteur, Dylan Cumming.

Dylan vertel dat sy pa in die 1980’s die plaas omgeskakel het van ‘n piesangplaas na ‘n koffieboerdery. Nadat Dylan sy studies voltooi het, wou hy by besigheid betrokke raak, maar het besluit om eers terug te trek plaas toe om te besluit presies wat hy wil doen. Sy broer het die vorige jaar ook teruggekom en was besig om die besigheidskant van die boerdery te bestuur. Dylan, daarenteen, het betrokke begin raak by die roostery en die verpakking, saam met sy oupa.

Beaver Creek is ‘n familieboerdery waarby almal betrokke is. Dylan vertel dat sy oupa, wat ses jaar gelede oorlede is, by feitlik alles betrokke was en dat hy tot ‘n week voor sy dood nog besig was met rooster- en ingenieurswerk. Sy ouma is steeds by die fabriek betrokke, en sy ma en pa en broers elders by die besigheid. Hy het ook ‘n suster in Kaapstad wat die webwerf hanteer.

Volgende wil Chris weet watter tipes koffie op Beaver Creek verbou word, en Dylan vertel hulle het begin met Arabica SL28, ‘n kultivar van Kenia. Dié kultivar, sê hy, is in die 1960’s ingebring as ‘n alternatief vir suikerriet aan die noordkus, en later ook die suidkus, nadat die suikerprys begin val het. Sedertdien het Beaver Creek nog drie kultivars begin verbou.

Chris vra uit oor die verskil tussen die kultivars en Dylan verduidelik dat daar groot smaakverskille is en vertel dat Beaver Creek se eerste produksie in die laat 1980’s plaasgevind het.

Die manne se volgende stop is die fabriek waar die prosessering plaasvind en waar Chris nie net meer omtrent die roosterproses en die kleur van koffiebone uitvind nie, maar ook die heerlike geur van die koffie inadem.

‘n Hoogtepunt is die sogenaamde “coffee experience room” waar toere eindig, waar proesessies plaasvind en waar barista-opleiding – kompleet met opleiding in “latte-kuns” – gedoen word. Dit is ook hier waar Chris Beaver Creek se Arabica SL28 proe – ‘n koffie wat, vertel Dylan, tien keer so sterk is soos ‘n koppie filterkoffie. Chris sluk, sy oë rek en hy reken as hy dit moet opdrink, hardloop hy Kaap toe.

Chris wil weet hoe die koffie versprei word en Dylan verduidelik dat van die koffie uitgevoer word. Die meeste koffie wat hulle verkoop, is gerooster en verpak, en dan is daar verskillende groottes wat versprei word na kleinhandel-afsetpunte, deli’s en plaaswinkels, asook die gasvryheidsbedryf, insluitend hotelle en B&Bs.

Dylan se advies aan aspirant-koffieboere is dat hulle moet kyk na ‘n tydperk van ongeveer drie jaar vanaf die plant van ‘n een jaar oue saailing tot produksie, met 2 500 bome per hektaar. Die beste manier, reken hy, is om saad te koop wat dan moet ontkiem, aangesien bome jou tussen R45 en R65 elk uit die sak sal jaag. Na drie jaar kan jy ‘n oes van sowat een ton per hektaar te wagte wees.

Les bes wil Chris weet hoekom so min mense in Suid-Afrika koffie verbou. Dylan verduidelik dat koffie reeds in die 1890’s in Suid-Afrika verbou is, met boere wat later jare met regeringsteun ook met ander gewasse soos tee en suikerriet begin eksperimenteer het. Die bedryf het egter ineengestort weens goedkoop ingevoerde produkte en ‘n mark wat kitskoffie verkies, en boere het teruggekeer na piesangs en suikerriet.
[/timed-content-server]