Eende | Slakke | Wurms
In vandeesweek se episode gaan kuier die span in ‘n klompie interessante, en potensiaal winsgewende, agterplase. Anrich bevind hom in die Oos-Kaap onder eksotiese eende, Simonia gaan kyk wat kruip rond onder planke voordat dit land by restaurante, en Chris gaan draai in Mpumalanga om uit te vind hoe kompos en wurms in rand en sent omskep kan word.
[timed-content-server show=”06/18/2018 20:00 Africa/Johannesburg”]
Eende
Kingston Farm
A: Shaw Park Rd (538.38 mi)
Bathurst, Eastern Cape 6166
W: www.kingstonfarm.co.za
F: 083 262 4813 / 046 625 0129
Anrich se bestemming is Kingston Farm in Bathurst in die Oos-Kaap, wat nie net ‘n plaas is nie, maar ook ‘n gastehuis en restaurant.
Hy wil by die trotse eienaar, Fred Bright, weet hoe hy met die makouboerdery begin het. Fred verduidelik dat eendvleis ‘n wonderlike bestanddeel is vir restaurante. Dit is ‘n donker vleis met baie meer komplekse geure as hoender, en dit is boonop baie gesond.
Hoe Fred op Kingston opgeëindig het, is nog ‘n ander storie. So ‘n jaar of tien gelede het hy ‘n projek by die Universiteit van Stellenbosch voltooi en besluit hy wil nooit weer by ‘n universiteit werk nie; hy wou ‘n rustige, stil lewe vir hom en sy perde hê. In daardie stadium het hy reeds die area geken omdat hy in die middel 90’s vir ‘n paar jaar ‘n dosent in moderne geskiedenis aan die Universiteit van Rhodes was. Hy het het die area onthou as groen en welig. En die plaas wat vandag Kingston is, was toe te koop – verwaarloos, maar goedkoop – en ideaal vir hom en sy perde.
Anrich wil weet hoekom hy juis met makoue boer en Fred verduidelik dat dié spesie besonder maklik is om mee te boer en dat hulle ook baie siektebestand is. Die enigste potensiële probleem is roofdiere, maar daar bring die honde hul kant deur die makoue op te pas.
Die restaurant het die lig gesien voor die makoue op die toneel verskyn het. Omdat die restaurant op hoë-gehalte bestanddele fokus, vertel Fred, was makoue ‘n nommerpas keuse. “Dit was ‘n maklike besluit, want makouvleis is laag in vet, en ons makoue is vrylopend,” sê hy.
Nadat hy en Fred die plaaswerf verken het, ontmoet Anrich Fred se wederhelf en mede-eienaar, Carla Carr Bright, in die restaurant. Op Anrich se vraag waar hulle ontmoet het, vertel sy met ‘n vonkel in die oog dit was in Bathurst. “Dit was die verkeerde tyd, die verkeerde plek, maar die regte ou,” verduidelik sy.
Anrich noem dat die plaas nie altyd was wat dit nou is nie, en Carla vertel dat dit twee en ‘n half jaar geneem het om dit leefbaar te maak. Hulle het een kamer op ‘n slag aangepak en, omdat hulle nie ‘n kombuis gehad het nie, het hulle baie uitgeëet. Dit was juis die uitetery wat gemaak het dat hulle bly soek het na ‘n eetplek wat daardie iets ekstra bied en wat uiteindelik gelei het tot hul eie restaurant op die plaas.
Carla sê sy wil hê mense moet tuis voel in die gastehuis en restaurant. “Dit is die tipe plek waar ‘n vrou daai rok kan aantrek wat jare lank al in haar kas hang,” sê sy. “Of jy’s op ‘n somervakansie en jy kan net ontspan.”
Terwyl sy vertel hoe hulle met twee makoue as ‘n geskenk gegroei het tot ‘n makouplaas, bedien Fred hulle met een van die restaurant se gewildste geregte: geroosterde makoubors met vy en ‘n kwarteleier.
Anrich proe en is baie beïndruk. Hy en Carla klink ‘n glasie.
Slakke
https://www.facebook.com/stanleyssnails/
A: 10 Orange Road, Farrarmere (25.76 mi)
Benoni, Gauteng, South Africa 1501
F: 011 849 6430
Stanley Snails
Simonia kuier in ‘n pragtige tuin in Benoni naby Johannesburg, maar, sê sy, sy kyk nie na die koi-visse nie. Sy is daar om meer uit te vind omtrent die slakke waarmee eienaar Stanley Micallef boer.
Stanley wys vir Simonia ‘n klompie slakke wat onder skadunet rongbeweeg, paar en eiers lê. “Dis wat ons vrylopend noem,” verduidelik hy. Die slakke word snags gevoer en bedags beweeg hulle rond, paar en lê eiers onder die skadunet.
Simonia wil weet wat onder ‘n klompie nabygeleë planke is en Stanley lig een op sodat sy die hordes slakke kan sien wat aan die plank vasklou. Hulle vreet ook aan die planke, verduidelik hy; die plantegroei is bloot daar om die babaslakke te beskerm.
Stanley en sy vrou, Heather, het met slakke begin boer nadat hul boekhouer vyf jaar gelede vir hulle ‘n donker prentjie geskets het en hulle vinnig iets moes doen om meer inkomste te begin genereer. Juis in daardie stadium het iemand by ‘n tentoonstelling aan hulle genoem dat dit moontlik winsgewend kan wees om slakke in Suid-Afrika te teel.
Deesdae doen die Micallefs goed, met oorsese beleggers wat begin belangstel. ‘n Kapitaalinspuiting sal hulle egter nog ‘n groter hupstoot gee.
Simonia vra om Stanley se ander stelsel te sien en hy gaan wys vir haar waar hy slakke in ‘n temperatuur beheerde omgewing aanhou. Die rede hiervoor is dat dit die slakke in staat stel om 24 uur per dag te vreet, wat hulle gouer markgereed maak. Dié stelsel, vertel Stanley, is die hele jaar lank in werking, teenoor die skadunetstelsel wat seisoenaal is.
Daar is ook ‘n derde stelsel; ‘n broeikamer met houers vol eiers. Stanley maak een van die houers oop en wys vir Simonia die wit eiers daarin wat hy as “wit kaviaar” beskryf. Dié elf eiertjies, vertel hy, sal hom een pond in die sak bring.
Interessant genoeg, broei die eiers nie werklik uit nie, maar morfeer geleidelik in slakke in.
Hierna wil Simonia by Stanley se vrou, Heather, weet of sy aanvanklik huiwerig was oor die slakboerdery. Heather sê sy was, gegewe die feit dat hulle baie geld in die onderneming belê het.
Aan die ander kant, sê sy, as ‘n mens in ag neem dat die enigste slakke wat tot Suid-Afrikaanse restaurante se beskikking is, geblikte slakke uit die Verre Ooste is, besef jy daar is beslis ‘n mark.
Wurmplaas & organasie kompos
Organic Matters
https://www.organicsmatter.co.za/
A: Organics Matter (Pty) Ltd
Sabie, Mpumalanga, South Africa
F: 083 285 3077
E: sales@organicsmatter.co.za
Chris kuier in Sabie by Dieter Hartzenberg en sy gesin. Die Hartzenbergs het eers in Pretoria gebly, maar het na Sabie verhuis nadat Dieter se wederhelf, Lize, ‘n pos in bosbou gekry het. Dit het vir Dieter die geleentheid gegee om weg te skuif van sy rekenaarskerm na sy tuin.
Dieter het besigheidskommunkasie en webontwikkeling gestudeer en ook sy eie rekenaarbesigheid bedryf, maar hy het besluit hy moet weer een word met die natuur. Dit was, by wyse van spreke, ‘n natuurlike stap, gegewe die feit dat hy op ‘n kleinhoewe grootgeword het.
Wat vandag sy trotse komposonderneming is, het begin met ‘n klein wurmplaas. Kort voor lank moes Dieter egter uitbrei, wat hom toe sommer ook die idee gegee het om ‘n besigheid te begin.
Hy gaan wys vir Chris sy “Wedge Windrow”-stelsel en verduidelik hoe dit werk en dat die hele proses vier maande neem voordat die kompos gereed is.
Dieter se kliënte is hoofsaaklik huisverbruikers, hoewel groter kliënte toenemend aanklop, ook vir die ander produkte wat hy ontwikkel om kompos verder te optimaliseer.
Lize vertel sy was baie bly toe Dieter met die komposboerdery begin het. “Hy het altyd van tuinwerk gehou, so dit was wonderlik toe ons ‘n huis met ‘n groot tuin kry,” sê sy. “Dis wonderlik dat hy nie heeltyd agter die rekenaar sit nie, en ons seuntjie is ook mal daaroor.
Op Chris se vraag waar en hoe sy betrokke is, antwoord Lize dat sy vir Dieter van die kantlyn af ondersteun en hom ook tydens markte help.
Dieter sê hy sal almal aanmoedig om hul eie kompos te maak. “Dit is ‘n lekker stokperdjie, maar mense moet verstaan dit verg harde werk om die wurms te versorg. Daar is egter groot belonings aan die einde van die dag,” verduidelik hy.