Seisoen 2 | Episode 5

Bonsai | Heuningbos-tee | Nastergal

Voordat hulle op Episode 5 se ekspedisies vertrek, vergader die span by die Vyf van die Bestes-bord in die skadu van 2017 se Nisboer van die Jaar, Gideo van der Merwe, se futuristiese groente-groeitonnel, die sogenaamde Ice Age Chamber. Simonia sê dinge begin opwindend raak, en dit blyk inderdaad die geval te wees – eers met ‘n terugblik op die vorige episode en dan ‘n vooruitskouing na wat in Episode 5 wag… Anrich gaan ‘n heuningbosteeplaas naby die mees suidelike punt van Afrika besoek, Simonia is gereed om die eksotiese waarheid agter bonsai-boompies te ontdek en Chris gaan uitvind wat die storie van die geheimsinnige nastergal-bessie is.

Bonsai-bome

Mikibu Bonsai
Posbus: Toekomst, PO Box 620, Bredasdorp, 7280, South Africa

GPS Coordinates:
Latitude: 34.556520
Longitude: 19.889800

T: +27 82 859 4359
E: info@agulhashoneybushtea.co.za
Posbus: Toekomst, PO Box 620, Bredasdorp, 7280, South Africa

GPS Coordinates:
Latitude: 34.556520
Longitude: 19.889800

Simonia sê sy kuier by iemand wat met groot geld gewerk het en nou met klein boompies werk…

Jonathan Cain, stigter-eienaar van Mikibu Bonsai in Midrand, vertel Bonsai-boompies het rondom die 14de eeu in China ontstaan, waarna die spesie na Japan gemigreer het en daar ontwikkel het tot die bonsai soos ons dit vandag ken. Die woord ‘bonsai’, sê hy, beteken om in ‘n bak te plant, of eenvoudig ‘n boom in ‘n pot.

Jonathan was voorheen ‘n rekenmeester. In 2002, in ‘n stadium toe hy in elk geval begin kyk het na ander loopbaanrigtings, het hy ‘n bonsai vir Kersfees gekry. Daarna het sy vrou bonsai-boompies begin versamel en kort voor lank het die Cains ‘n bonsai-kwekery gekoop. Aanvanklik het hulle van die huis af gewerk, maar moes uiteindelik na ‘n groter perseel verhuis.

Simonia wil weet wat die verskil tussen ‘n boom en ‘n bonsai is, en Jonathan verduidelik dat ‘n bonsai ‘n boom is wat as ‘n artistieke boom bewerk word. “’n Boom in die grond kan na 20 tot 30 jaar verwyder word en as bonsai in ‘n pot herskep word,” vertel hy.

Op Simonia se vraag wat en waar die oudste bonsai in Suid-Afrika is, antwoord hy dat dit moeilik is om te sê omdat bonsais nog net sowat 70 jaar hier is. “Dis maklik om bonsais van oorsee af in te voer wat baie ouer is as plaaslike bonsais,” verduidelik hy. “Die oudste bome van oorsee is in privaat versamelings.”

By Mikibu Bonsai is daar baie verskillende bonsai-tipes waarvan ‘n groot persentasie inheems is. Jonathan reken ons is gelukkig om soveel inheemse bome te hê wat as bonsais gebruik kan word.

Terwyl hy en Simonia met klein snoeiskertjies ‘n African Olive-bonsai bewerk, vertel Jonathan dat bonsai-snoei eintlik net soos haarsny is; jy knip totdat dit netjies is.

Simonia wil weet of ‘n mens, nadat die boompie klaar gesnoei is, klippies daaronder strooi, waarop Jonathan verduidelik dat die klippies in die grond gemeng word. Die rede: Omdat die grond 15–20% lug binne-in nodig het, moet dit vinnig dreineer.

Mikibu se bonsais staan trots in motorbande want, verduidelik Jonathan, dit maak dit maklik om die boompies uit te lig, en daar is baie ruimte vir grond en hitte in bande, waarvan die boomwortels hou.

Tussen al die klein boompies pronk ‘n groot boom wat Simonia se belangstelling prikkel. Jonathan verduidelik dat die boom eers ‘n bonsai was wat later uitgeplant is. “Nou kan jy die verskil sien tussen die groeitempo van iets wat in ‘n pot geplant is en iets wat in die grond geplant is,” sê hy.

Jonathan se gunsteling is Nelson Mandela se bonsai. Dié sonderlinge boom, ook bekend as die Mandela Forest, is spesiaal op aanvraag van Nedbank geskep ter viering van Madiba se vrylating uit die tronk. Mandela was egter nie seker hy sou sy “woud” kon versorg nie en het dit aan die African Bonsai Association geskenk wat dit op hul beurt aan Jonathan, as voorsitter van die vereniging, gegee het. Die simboliek van die “woud”, verduidelik Jonathan, is dat die groot ou olyfboom uit die Noord-Kaap Mandela verteenwoordig en die kleiner boompies die mense rondom hom.

Jonathan se advies aan voornemende bonsai-“boere” is om baie geduldig te wees. Om ‘n boom vanaf die saad- tot die volwasse stadium te kry, neem drie tot vyf jaar, waarna ‘n mens ‘n mark moet kry. En die Suid-Afrikaanse mark is nie baie groot nie, maan hy; mense leer steeds. Die oorsese mark, daarenteen, is enorm.

 

Heuningbos-tee

Posbus: Toekomst, PO Box 620, Bredasdorp, 7280, South Africa

GPS Coordinates:
Latitude: 34.556520
Longitude: 19.889800

T: +27 82 859 4359
E: info@agulhashoneybushtea.co.za

Agulas Honeybush Tea

Anrich bevind hom naby ‘n strand aan die mees suidelike punt van Afrika en sy missie is om meer uit te vind omtrent ‘n gewas wat al eeue lank in die area groei: heuningbostee. Sy gasheer is Van Zyl Joubert, die stigter van en boer agter Agulhas Honeybush Tea.

Van Zyl vertel hy het 24 jaar gelede met navorsing begin. Ene dr. Hannes de Lange van die Landbounavorsingsraad wat onder meer by Kirstenbosch werkagtig was, het in daardie stadium vir hom ‘n klompie spesies rooibostee gegee wat hy geplant het. “Die eerste klompie jare het ons net geëvalueer,” vertel hy. Mettertyd het hy uitgevind daar is vyf verskillende spesies wat daar aard, met die sogenaamde “Kustee” as die hoofvariant.

Anrich wil weet of daar voorheen enige versamelde feitekennis omtrent heuningbosteeboerdery bestaan het. Van Zyl antwoord dat daar geen kennis beskikbaar was nie, omdat heuningbosteeverbouing nie bestaan het nie. “Ons het begin; ons moes die kennis verwerf,” vertel hy. En al is Agulhas Honeybush Tea so klein, is dit die grootstse heuningbosteeplantasie in die wêreld.

Volgende op Anrich se vraelys is die bestuiwingsproses, en Van Zyl verduidelik dat die houtkapperby die enigste insek is met die nodige gewig om die blommetjie af te druk, die blare oop te maak en die bestuiwingswerk te doen.

Hierna neem hy vir Anrich na die skuur toe waar die verwerking plaasvind en waar groen tee wat pas gesny is, drooggemaak word. Van Zyl verduidelik dat dit dieselfde heuningbosteeblare is, maar dat ‘n ander proses gebruik word. Na die droogmaak-, volg die fermentasie- en sweetprosesse en, uiteindelik, die siftingsprosesse wat die tee in vier grade – van grof tot fyn – verwerk.

Agulhas Honeybush Tea is ‘n gesinsonderneming. Saam met Anrich kuier Van Zyl, sy vrou, Mona en hul dogter, Nina. Mona doen die bemarking en sy geniet dit gate uit, want sy is lief vir mense en sy doen ook ‘n bietjie admin. “Iemand moet die somme doen om te kyk dat die boeke klop,” verduidelik sy.

Nina vertel hoedat haar ma betrokke is by klein pakkies tee op nasionale vlak, terwyl sy self die logistiek en verskeping van grootmaat tee hanteer. En, vertel sy, sy is absoluut uniek gekwalifiseer vir haar pos – sy het die boerdery van A tot Z leer ken deur vakansies op die plaas te werk. Toe haar ouers iemand nodig kry vir admin, is sy die werk aangebied en dit is vir haar ‘n voorreg om by die besigheid betrokke te wees.

Nastergal

  

Email: exoticjams1@gmail.com
Marie: 083 723 5599
Sonette: 060 518 5061
Zuidvaal Exotic Jams

Chris draai vandeesweek in Amersfoort, Mpumalanga, en kuier by Kobus en Marie de Jager op hul plaas, Schuilplaas, waar Kobus, afgesien van sy beeste, skape en gemengde boerdery, sedert 2004 ook nastergalbessies verbou vir Marie se florerende konfytonderneming, Zuidvaal Exotic Jams.

Marie het aanvanklik op klein skaal begin konfyt kook vir ‘n vriendin wat dit verkoop het. Kort voor lank het sy die geleentheid gekry om groter te gaan en so het Kobus begin om nastergalbessies aan te plant. Aanvanklik het Marie 300 botteltjies konfyt per dag gekook en verpak.  Vandag vervaardig Zuidvaal 2 000 botteltjies konfyt per dag.

Sy maak ses tot sewe soorte konfyt, vertel Marie, maar nastergal is haar hooffokus. En haar konfyt word landwyd versprei, van Clarins tot die Kaap. Sy en Kobus vat self die pad om die konfyt af te laai, en so word harde werk ook sommer ‘n lekker vakansie.

Soos gewoonlik sluit die besoek af met ‘n laaste kuiertjie om ‘n tafel met lekkernye, in hierdie geval ook saam met die De Jagers se dogter, Sonette, wat saam met hulle die besigheid bedryf. Chris wil weet hoe die rolverdeling werk en Marie verduidelik dis eenvoudig: Kobus plant, sy kook en bottel die konfyt en sy, Kobus en Sonette doen saam die verspreiding.