Seisoen 2 | Episode 15

Eksotiese akkedisse | Sampioene | KZN wynplaas  

 

In die opwindende Episode 15 kry drie nisboere ‘n laaste kans om ‘n plekkie op die Vyf van die Bestes-bord los te slaan. Van troetelreptiele en eksotiese sampioene tot wyn in KZN – wie gaan bly en wie gaan gly? Net die tyd sal leer.

Eksotiese akkedisse

 

T: 078 632 7165
E: blake@viperbrothers.co.za
W: www.facebook.com/ViperBrothers
A: 89 Marygold road, Benoni, Johannesburg, Gauteng

 

VIPER BROTHERS, BENONI

Simonia ontdek die wonderwêreld van eksotiese troeteldiere by die onderneming Viper Brothers in Benoni. Die eienaars, Marcel du Toit en Blake Vermeulen, het mekaar vyf jaar gelede deur die reptielbedryf ontmoet en bedryf hul besigheid nou bykans twee jaar lank. Hulle het met 30 reptiele begin, wat gegroei het tot hul huidige “voorraad” van sowat 500.

Hul aanvanklike doel was om die Suid-Afrikaanse publiek van sonderlinge troeteldiere te voorsien, maar hul reputasie, voorraad en verskeidenheid het sodanig gegroei dat daar die afgelope tyd ook internasionale kliënte is wat belangstel.

Hoewel Marcel en Blake se hooffokus giftige slange is, het hulle die afgelope tyd ook verkleurmannetjies en ‘n verskeidenheid geitjies begin teel, asook die seldsame ”witblits” baarddraak (bearded dragon).

Nog iets wat tot die adder-broers se sukses bydra is hul unieke, doelgemaakte hokke. Kliënte kan die grootte en afmetings stipuleer en die hok word dan daarvolgens, en volgens die behoefte van die spesie wat daarin gehou gaan word, gebou.

Marcel vertel sy gunsteling geitjie is die sogenaamde “gargoyle gecko” wat ‘n maklike dier is om te versorg, en ook ‘n gewilde troeteldier, veral vir kinders.

Wat geitjies eet, hang af van die spesie, sê hy, maar oor die algemeen bestaan hul dieet uit insekte en kommersiële geitjiekos.

Simonia wil weet wat die onderneming se elektrisiteits- en waterverbruik is en Blake verduidelik dat die maandelikse elektrisiteitsverbruik ongeveer dieselfde is as dié van ‘n swembadfilter. Hulle gebruik egter redelik baie water, en ook nie gewone water nie, maar die sogenaamde “omgekeerde osmose”-water.

 

KZN wynplaas

 

T: 083 463 8503
E: jane@abingtonestate.co.za
W: www.abingdonestate.co.za

ABINGDON WINE ESTATE, HOWICK

Chris kuier in KZN by Abingdon Wine Estate, die trotse eiendom van Ian Smorthwaite. Ian vertel dat hy aanvanklik nie geweet het wat om met die grond te doen nie, maar dat hy nog altyd in wyn belanggestel het. Met dié het hy begin navorsing doen oor wynbou, spesifiek ook in ander wêrelddele, om te bepaal wat in sy grond en die area se klimaat sou aard.

In die lokaal waar die wyn in antieke Franse eikehoutvate verouder word, gesels Chris met Ian se seun, Hadley, wat eintlik in Brittanje bly, maar elke jaar met oestyd vir drie maande kom help. Hadley is baie trots op wat sy pa bereik het en sal graag uiteindelik voltyds by Abingdon wil werk.

Les bes gaan wys Ian se vrou, Jane, en sy dogter, Laurie, vir Chris die pragtige proekamer, wat eers stalle en ‘n varkhok was. Laurie verduidelik ook die verskil tussen Suid-Afrikaanse druiwe en die tipe Italiaanse variëteite wat haar pa verbou en waarvan Abingdon se wyne gemaak word. Abingdon, vertel sy verder, is trouens ‘n baanbrekerwynmakery wat in 2007 KZN se eerste landgoedwyn gemaak het.

Laurie se raad aan mense wat daarin belangstel om in die groen land van Natal wyn te maak, is om passievol te wees oor wat hulle doen, om te onthou dat dit ‘n harde, voltydse werk is, en om aanpasbaar te wees.

 

Sampioene
 

T: 082 577 9694
E : willie@witklippie.co.za

HOEPHOEP SAMPIOENE, MEYERSPARK

Anrich kuier in die ooste van Pretoria by die Botha-gesin, wat almal betrokke is by die sampioenbesigheid. Eienaar, Willie Botha, vertel hy was voorheen betrokke by die konstruksiebedryf, maar het ‘n paar terugslae beleef waarna hy en sy vrou besef het hulle moet iets anders doen, en uiteindelik op trompetsampioene besluit het. Sy jongste, Francois, vertel dat hy soms help met die oes en dikwels met die verpakking.

Willie wys vir Anrich waar die verbouing gedoen word en wat die groeiproses behels, en hy verduidelik dat die eindproduk per gewig verkoop word.

Daarna bevind Anrich hom in die kombuis saam met Willie en sy dogter, Ansie, ‘n voorslagsjef, wat vir hulle watertandsampioen voorberei waaraan die hele gesin uiteindelik saamsmul.

Anrich merk op dat die onderneming heelwat vooraf-investering geverg het, wat Willie beaam, maar noem dat hy gelukkig baie van die werk self kon doen.