Hops | Bokvleis | Vrugtestroop
Episode 13: Met die Vyf van die Bestes-bord wat weer eens onveranderd staan en net drie episodes van die reeks oor, loop die spanning hoog. Dit kan egter verander met Anrich wat in Magoebaskloof gaan draai vir ‘n smakie van ou-Persië, Chris wat die enigste vallei in die land besoek waar hops verbou kan word en Simonia wat, by wyse van spreke, ‘n paar bokke by die horings pak kort duskant Bronkhorstspruit.
[timed-content-server show=”08/06/2018 19:45 Africa/Johannesburg”]
Hops
F: 082 822 4917 / 082 413 5937
E: vectotrade@etime.co.za
Hopco, Wes-Kaap
Chris kuier in die Waboomskraalvallei by Otto de Kock, die trotse eienaar van Hopco, waar die hops vir tallose Suid-Afrikaners se bier verbou word. Sy verhaal as hopboer het 25 jaar gelede begin by sy skoonpa wat nie ‘n seun gehad nie en met dié wou weet of hy wat Otto is bereid sou wees om te boer. Hy het ingestem en aanvanklik geboer met vrugte, die tradisionele opbrengs van die streek.
In daardie stadium was Suid-Afrika egter nog polities geïsoleerd, en teen daardie agtergrond het SAB hom genader om te hoor of hy sy vrugte met hops sou vervang omdat die Waboomskraalvallei die enigste plek in die land is waar dié gesogte gewas verbou kan word. Twaalf jaar later was sy bedryf kommersieel behoorlik gevestig en deesdae verbou hy ook ‘n verskeidenheid plaaslike hops vir die boetiekbierbedryf.
Wat die vallei so uniek maak, is die Mediterreense klimaat en die hoogte bo seespieël wat die landerye voorsien van die regte kombinasie van vog van die see af en hitte van Oudtshoorn se kant af.
Otto se toekomsplanne is “’n Nederburg-landgoed van bier”, kompleet met ‘n boetiekbrouery. “Dink jou in; jy kyk uit oor die vallei terwyl jy drink aan ‘n bier wat direk gaan van die landery tot jou glas,” sê hy.
Sy advies aan voornemende hopboere is om ‘n plaas in die vallei te koop en met ‘n groot fortuin te begin. “Die masjinerie is duur,” maan hy, “en dit werk net 15 dae per jaar.”
Bokvleis
F: 082 520 9898
E: prokids123@gmail.com
Kalahari Red Goats, Bronkshorstspruit
Simonia bevind haar by Kalahari Red Goats, die spogplaas van pa en seun, Malan en Ivan van Heerden.
Malan vertel dat hulle ‘n paar jaar gelede vir die eerste keer Kalarahi Red-bokke by ‘n landbouskou gesien het, juis toe hulle op soek was na ‘n geleentheid om met iets te boer wat sinvol is en waarmee hulle ‘n goeie toekoms in Suid-Afrika kon skep.
Die Kalahari Red hou ‘n paar voordele bo ander bokrasse in: hulle is meer gehard en aanpasbaar, en hul rooi kleur maak hulle minder sigbaar vir roofdiere.
Simonia ontmoet die plaas se wenram, Koper, wat spesifiek aangekoop is om die trop te versterk. “Hy is ‘n gebalanseerde bok; dit is hoe ‘n Kalahari Red behoort te lyk. Koper is dit alles en nog meer,” verduidelik Ivan.
Om met Kalahari Reds te boer, is nie moeilik nie, sê Ivan, maar jy moet regtig belangstel en jy moet wil boer.
Hoeveel dit jou uit die sak gaan jaag, hang af van die rigting wat jy wil inslaan en hoe vinnig jy daarin wil beweeg. Die Van Heerdens kon dit nie aanvanklik bekostig om met die beste te begin nie; wat hulle vandag skou, het hulle geteel.
Hul toekomsplanne is om die kudde groter maak en sodoende beter te vaar op skoue, en hulle groot plan is ‘n opleidingsentrum.
Malan se advies aan voornemende bokboere is eenvoudig: “Doen ‘n kursus as jy sukses wil behaal.”
Vrugtestroop
F: 082 903 7593 / 082 887 8029
E: info@kuhestan.co.za
W: www.kuhestan.co.za
Kuhestan Organic Farm, Magoebaskloof
Anrich bevind homself op Brett en Shahrzad Hone se sprokiesmooi plaas, Kuhestan Organic Farm in Magoebaskloof, en die suksesverhaal agter hierdie sonderlinge nisboerdery bevat self ‘n sprokieselement of twee.
Een van die produkte wat op Kuhestan gemaak word, is vrugtestroop (“cordials”) en, vertel Brett, die idee het gekom van Shahrzad wat oorspronklik van Persië (vandag Iran) af kom waar dit ‘n kulturele drankie en dikwels ‘n plaasvervanger vir alkohol is.
Brett wys vir Anrich ‘n klompie van die gewasse wat hulle verbou en gee vir hom die agtergrond. Hul volgende bestemming is die fabriek waar Anrich vir Shahrzad ontmoet. Shahrzad vertel sy is in Iran gebore en getoë. Later jare het sy gereeld saam met vriende in die Magoebaskloof-woude gaan stap – en gehuil as sy moes teruggaan. Alles het uiteindelik amper soos ‘n towerslag saamgewerk en uitgewerk. Sy het vir Brett ontmoet en hulle het eers in Johannesburg gebly, daarna naby ‘n Phalaborwa-myn, en in 2005 het hulle besluit om die Magoebaskloof-grond te koop.
Sedertdien gaan die Hones van krag tot krag met die maak van die strope, asook 12 geure konfyt wat vervaardig word uit die vrugte, groente en kruie wat op die plaas verbou word.
Anrich wil weet hoe hulle hul produk op die mark kry en Shahrzad verduidelik dat gaste aanvanklik die plaas besoek het en dan strope gekoop en teruggeneem het na Johannesburg, Kaapstad en ander dele van Suid-Afrika. Kort voor lank het die foonoproepe begin en hulle het besluit om meer bemarking te begin doen, onder meer deur tentoonstellings soos die Food & Wine Show en Hostex by te woon. Die resultaat was dat baie meer individue, asook restaurante en hotelle, hul produkte begin koop het.
Die geheim van hul sukses, reken Brett, is die waarde wat hulle toevoeg en die feit dat hulle vanuit die staanspoor gediversifiseer het deur byvoorbeeld gastehuisies te laat bou en dat hulle ook avokado’s verbou, Persiese kookklasse aanbied en groep-middagetes verskaf. Les bes maan hy dat hierdie tipe boerdery slegs volhoubaar is as ‘n mens nie skuld het nie.
[/timed-content-server]