DINK GRÓÓT

Saffricon: pers prag omgetower tot rooi goud vir ’n groter gemeenskap

As boerdery in jou bloed is, moet jy jou instink volg.

Dit is presies wat Bennie Engelbrecht gedink en oor gedroom het voordat hy ’n splinternuwe loopbaanpad in die landbou ingeslaan het. Maar by droom het dit nie gebly nie. Vandag is hy en sy vrou, Anél, en hul seun, Tiaan, al 11 jaar lank sterk aan die gang met hul uitsoek-saffraanboerdery op sewe hektaar in die Williston/Calvinia-gebied in die Wes-Kaap.

Dié boerdery het in dié betreklik kort tydjie gegroei tot ’n volbloed-maatskappy, Saffricon, die grootste kommersiële saffraanprodusent in Suid-Afrika. Sedert Bennie hierdie gewas in 2013 begin verbou het, het hy ’n onderneming gevestig wat ook vir ander mense op die been help met hul boerdery en hulle bemagtig om ’n eie inkomste te genereer.

“Ek het geweet ek kan nie aan die onderpunt van die leer begin nie … ook nie agter in die ry staan nie. Ek sou die ry moes wees,” vertel hy.  

Dié oud-Pretorianer, eers doenig in die TV-bedryf, het die byna onmoontlike reggekry om binne minder as ’n dekade ’n uitskieter op sy gebied te word. 

Wat hy nié gedoen het nie, is om oorhaastig op die landbouterrein in te vaar, te probeer en tref, en daarna te hoop vir die beste. Hy het presies die teenoorgestelde ingesteldheid gehad: “Ek het letterlik jare se navorsing gedoen voordat ek op hierdie gewas besluit het.”

Saffraan as boerderygewas om ’n volhoubare inkomste te genereer was toe nog relatief onbekend en ongetoets in Suid-Afrika. Op hierdie gebied, het Bennie geweet, sou hy ’n pionier moes wees. Deeglike huiswerk vooraf was een van die grootste bydraers tot sy sukses, wat ongetwyfeld ’n rol daarin gespeel het dat dié Saffricon-stigterslid vandag die besturende direkteur is van ’n maatskappy wat steeds van krag tot krag gaan. 

Bennie se navorsing het nie net gedraai daarom om ’n gewas te vind wat hy op ’n persoonlike vlak sou kon baasraak nie, maar hy het ’n tipiese entrepreneuriese benadering gehad: Wat word daar nog nie op groot skaal in die Suid-Afrikaanse landboubedryf gedoen nie? Waar is daar ’n lekker groot gaping in die mark wat wag om ontgin te word?

Daar was nóg ’n oorweging vir sy besluit om saffraan sy ankergewas te maak: Suid-Afrika is ’n land wat gereeld onder droogtes gebuk gaan. Wat sou hy kon verbou met relatief min water?

Saffraan was die antwoord: Daar was inderdaad ’n gaping in die mark vir ’n gewas waarvan die gewildheid wêreldwyd aan die groei was. Plus … dit kom met besonder min water oor die weg, is rypbestand en die produksiekoste is laag. 

Die laaste belangrike element was harde werk, ’n ononderhandelbare deel van sukses. Dít alles het Bennie gedoen, hart en siel in sy nuwe boerdery gesit en só daarin geslaag om Suid-Afrika op die internasionale kaart te plaas as een van die wêreld se voorste produsente wat die kuns bemeester het om hierdie spesiale plantjie in spesiale grond- en klimaatstoestande suksesvol te kan kweek, verwerk en bemark.

Spesiaal is saffraan inderdaad, vertel hy. Dit is verreweg die wêreld se duurste spesery, en staan om hierdie rede bekend as “rooi goud”. Dis afkomstig van die blommetjie van die plant Crocus sativus, in die algemeen bekend as saffraan crocus of saffron crocus, ’n krokusspesie in die familie Iridaceae. Die blom het drie stempels, wat die eindpunte van die plant se vrugblare is. Die pers stempels word ingesamel en gedroog, en dan as geurmiddel in disse gebruik. Dit bevat ook die karotenoïed-kleurmiddel krosien, wat aan kos ’n ryk, goudgeel skakering gee. Voorts word dit as bestanddeel gebruik in parfuum, kleurstof en medisyne vir ’n verskeidenheid siektetoestande, asook vir algemene welsyn. 

Die Engelbrechts se saffraanproduksie in die Hantam-Karoo was van die begin af uniek, in die lig daarvan dat hierdie omgewing eintlik skaapwêreld is. “Hantam” is ’n Khoi-woord wat letterlik beteken “plek waar die rooi knolle groei”. Toe Bennie sy hart op dié gebied begin sit het, was dit boonop in ’n agt jaar lange droogte gewikkel. Vir die skaapboere was dit ’n neerdrukkende tyd, want die ekonomie van die hele omgewing is geknou. Dit terwyl waterafhanklikheid die basis is waarop hul voortbestaan gebou word. 

Saffraanboedery in die gebied was vir Bennie die antwoord. En hy was reg … hierdie klein, pers blommetjie het die beskouing van boerdery in ’n droogtegeteisterde gebied omgekeer, omdat die skaars aanbod van water ’n sterkpunt geword  et vir sy boerdery wat die hele gebied op ’n volgende ekonomiese vlak geplaas het vanweë geleenthede wat dit aan medeboere en die gemeenskap bied.

Volgens Bennie het hy besluit om spesifiek hierdie mark te betree, nie net om die sakewêreld aan te durf of om saffraan vir homself te kweek nie, “maar om dit te vestig as kommoditeit in Suid-Afrika. Dit is so dat Saffricon die eerste en grootste verbouer van saffraan in die land is. Om sewe hektaar met saffraan te beplant, beteken eintlik ’n groot besigheid.”

Van die plant-, groei- en produksieproses kan Bennie jou alles vertel. “Dis ’n baie interessante plant, ’n wintergewas waarvan die bolle in die herfs begin uitloop. Waar ons in Suid-Afrika tradisioneel daaraan gewoond is dat jou gewas ’n hele seisoen groei en ontwikkel voordat jy jou vrug of oes kan kry, is saffraan heeltemal anders. Net 40 dae nadat jy dit geplant het, breek die pers blommetjies deur die grondoppervlak. Met ander woorde, saffraan se blomme – wat jou oes is – verskyn heel eerste. Die res van die seisoen vind vegetatiewe groei plaas. Bolontwikkeling gebeur onder die grond. Saffraan is aseksueel, wat beteken dat dit onder die grond vermeerder, nie soos die meeste ander plante wat bestuiwing nodig het om voort te plant nie. 

“Sodra die blomme uitkom, moet dit onmiddellik gepluk word, want daardie fyn blommetjies hou net 24 uur,” vertel hy.

Dit beteken dat Saffricon se plukkers gereed moet staan en versigtig te werk moet gaan om die blomme in te samel vir die produksiekamer, waar gewoonlik vroue die blommetjies uitmekaar haal en die delikate stuifmeeldrade van die res van die blomblaartjies skei. 

Bennie vertel dat die groei-en-plukseisoen in September ten einde loop, waarna die plant dormant word, die blare verdor en die bolle tot die volgende jaar se herfsseisoen lê en wag. “In hierdie tyd van dormansie hoef jy die saffraan glad nie te besproei nie. Die plant slaap onder die grond tot in Maart, April. Dis in hierdie tyd dat die temperatuur daal – wat beteken dit is weer groeityd vir die saffraan. Die bolle begin dan uitloop.”

Volgens Tiaan stel Saffricon verskillende saffraanpakkette beskikbaar vir voornemende verbouers wat dan by hulle om advies en aankope kan kom aanklop. “Ons tuinierspakket is geskik vir as jy jou eie saffraan vir tuisgebruik wil kweek. Die groei- of toetspakkette, wat ons ook die trial pack noem, is meer geskik vir ouens wat daarin belangstel om kommersieel te begin aanplant. As jy kommersieel wil begin aanplant, enigiets meer as ’n kwart hektaar, begin dan met die toetspakket.”

Vra raad, steek gerus kers op by hulle op die plaas, sê Tiaan. En dan moet jy beslis die aanwysings op die pakke noukeurig lees. “Dis ’n ander tipe gewas as waaraan die meeste mense gewoond is. Jy sal ook ’n paar kopskuiwe moet maak, jou gewone persepsies oor boerdery, die landbou en gewasverbouing in heroënskou moet neem. Die belangrikste is dat jy jou plant moet verstaan voordat jy saffraanboerdery op groot skaal aanpak.”

Die beginners- en toetspakke bevat genoeg bolle vir aanplanting op sowat 20 vierkante meter, sê hy. “Ons sluit al die nodige plantvoeding in, met aanwysings oor blaar- en grondanalise vir indien jy enige korreksies vir aanplanting aan jou grond moet maak. Dit moet gedoen word voordat jy daarmee begin. Ons neem jou deur ’n stap-vir-stap-proses, van plant tot oes, verduidelik ook aspekte soos dormansie en verwerking. En natuurlik bied ons span jou bystand – help jou om op dreef te kom.”

Die heel belangrikste advies wat Bennie én Tiaan aan voornemende saffraanverbouers kan gee, is: Doen jou huiswerk deeglik. “Dis ’n gewas wat baie tyd en aandag van jou gaan verg,” sê Bennie.

Dit is Saffricon se droom om gemeenskappe te help ontwikkel om selfversorgend te word, veral in gebiede wat gereeld onder erge droogtes gebuk gaan. Bennie meen die maatskappy self wil ’n toenemend groter rol speel as uitvoerder van hierdie produk, ook as model vir welvaartsontwikkeling.

Schalk van der Merwe, nasionale bemarkings- en tegniese bestuurder by die maatskappy Adama – vervaardiger van chemiese gewasbeskermingsprodukte – sê Saffricon is ’n puik voorbeeld van mededeelsaamheid … veral wat kennis betref. “Meer mense behoort in die landbou saam te span. Dit sal vir nuwelinge toetrede tot die mark makliker maak. Dit vergroot kapasiteit en verminder risiko. Die ou beginsel geld … as jy goed is vir ander, gaan dit goed met jóú.”

  • Volg @Saffricon op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.saffricon.com. Bel Anél Engelbrecht by 071 431 0249 of skryf aan info@saffricon.com
  • Volg @Adama op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.adama.com of bel 021 982 1460. Skryf aan infocpt@adama.com”. 
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za