Suid-Afrika het vanjaar met sy eerste volwaardige aanplanting van saffraan begin en die eerste seisoen het alle verwagtinge oortref, met die meeste boere wat suksesvolle oeste gelewer het.
Volgens Bennie Engelbrecht, stigterslid en direkteur van Saffricon – die maatskappy aan die stuur van die plaaslike saffraanrewolusie, is aanplantings in al nege provinsies gedoen en dui die terugvoering van boere op ʼn sukseskoers van ongeveer 95%. “Boere het hier en daar haakplekke ondervind, maar die oorgrote meerderheid se oeste was suksesvol en het blomme geproduseer. In baie gevalle het jaar een se oes meer blomme opgelewer as wat aanvanklik verwag is. Dít voorspel net goeie dinge vir die volgende seisoene se oeste en die uitbou van die bedryf.”
Saffraanknolle vermeerder ondergronds onder gunstige omstandighede, gemiddeld omtrent drie keer per jaar, met blomproduksie wat gewoonlik in jaar drie ʼn hoogtepunt bereik. Saffraan is ʼn wintergewas en knolle word gewoonlik vanaf einde Februarie tot einde Maart geplant. Die blomme (wat die bloedrooi saffraanstempels het) word geoes 40 dae nadat die knolle begin uitloop. Die blomme moet dadelik, op die dag dat dit begin blom, geoes word.
Engelbrecht, Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van die Nisboere-borg Laeveld Agrochem (LAC), die akteur Armand Aucamp en die sangeres Karlien van Jaarsveld was deel van die dertiende aflewering van dié gewilde en bekroonde Nisboere TV-reeks (VIA, DStv-kanaal 147), tans in sy sesde seisoen, waar daar op saffraanproduksie in Suid-Afrika gefokus is. Armand het die episode gebruik om ʼn baie smaaklike, eg Suid-Afrikaanse bobotie voor te berei. Volgens Liebenberg was die resultaat ʼn smullekker gereg, ryk aan geur en kleur. “Dis ʼn unieke aroma en smaak wat selfs die volgende dag in jou neus en keel talm,” meen Liebenberg.
Verbouingskontrakte op franchisebasis bestuur
Saffricon het vanjaar verbouingskontrakte met drie boere – een in Laingsburg en twee in Pretoria – gesluit, met aanplantings wat gewissel het van sowat 6 000 knolle tot net meer as 150 000 knolle. Vir volgende jaar gaan daar egter baie meer kontrakte beklink word, aangesien daar vir die 2022-seisoen heelwat meer bolle beskikbaar sal wees om aan boere te verskaf. Die verbouingskontrakte met boere is ingevolge ʼn franchise-ooreenkoms, en volgens Engelbrecht is die belangstelling van voornemende saffraanboere baie groot. Liebenberg sê dié vraag is in ʼn groot mate gedryf deur die massiewe mediabelangstelling en dekking wat die kweek van saffraan in Suid-Afrika ontvang het.
Die groep het ook 173 beginnerpakke aan 134 belangstellende partye verkoop. ʼn Beginnerpak bevat ongeveer 700 voorbereide knolle, plantvoeding en ʼn kweekprogram, grondontledings wat deur Nvirotek gedoen word en aanbevelings wat deur Agri Technovation gemaak word, ʼn handleiding om met verbouing te help, asook ondersteuning van Saffricon. “Die beginnerpakke is ideaal, aangesien dit voornemende boere toelaat om die gewas reg oor Suid-Afrika in verskillende groeiomstandighede te toets voordat ʼn boerdery op groter skaal ingevolge ʼn verbouingskontrak oorweeg word,” sê Engelbrecht.
“Vir almal, sonder uitsondering, met wie ek gesels, is die aantreklikste van die huidige aanbod die feit dat hulle ‘bloot moet plant’ en dat Saffricon pa staan om die saffraan terug te koop, asook die knolle ná jaar drie. Dus is daar ʼn bepaalde uitkoms wat gemoedsrus besorg,” aldus Liebenberg.
Koperbelangstelling uit Midde-Ooste
Volgens Engelbrecht is daar heelwat koperbelangstelling in hulle saffraan en onderhandel hulle tans met verskeie partye in die Midde-Ooste. Die wêreldvraag na saffraan is baie groter as wat jaarliks geproduseer word, wat goeie nuus vir plaaslike produksie is. Iran is verreweg die grootse produsent en het, volgens Statista, ʼn voorsiener van mark- en verbruikersdata, 430 ton in 2019 geproduseer. Indië (hoofsaaklik die Kashmir-streek) was die tweede grootste produsent met 22 ton, gevolg deur Griekeland met 7,2 ton.
Gegrond op ʼn verslag van Grand View Research, is die wêreld-saffraanmark in 2019 op VS$ 881.7 miljoen (ongeveer R12.7 miljard) gewaardeer, met ʼn verwagte saamgestelde jaarlikse groeikoers van 7.3%, tot ʼn uiteindelike markgrootte van VS$1.6 miljard (ongeveer R23 miljard) in 2027. Grand View Research se bevindinge is gegrond op ʼn groeiende voedselbedryf, verbeterde lewenstandaarde en verbruikers se toenemende besteebare inkomste.
ISO-klassifikasie dui op topgehalte-saffraan
Engelbrecht meen Suid-Afrika het die potensiaal om een van die wêreld se topvoorsieners van saffraan te word, mits dit op ʼn oordeelkundige en geordende basis gedoen word. Saffraan word volgens die International Organisation for Standardisation se ISO3632-klassifikasie vir saffraan gegradeer. Aanvanklike aanduidings is dat Saffricon se saffraan van ʼn baie hoë gehalte is, wat beteken dat hul produk ʼn goeie prys op die internasionale mark behoort te haal, volgens Engelbrecht.
In Suid-Afrika verkoop saffraan (soms “rooigoud” genoem) vir soveel as R250/g (of R250 000/kg). Dié stewige prys word aan arbeidsintensiewe oesmetodes toegeskryf – van die pluk van die blomme tot die verwydering van die stempels – wat alles met die hand gedoen word. Sowat 150 000 blomme is nodig vir die lewering van 1kg saffraan. Die opbrengs per hektaar in jaar drie, wanneer produksie ’n hoogtepunt bereik, kan tussen 1kg en 5kg wissel.
Saffraan is ideaal as nisboerdery
Liebenberg sê saffraanboerdery is ʼn ideale alternatief vir bestaande kommersiële boere, terwyl dit ook ʼn geleentheid bied vir die ontwikkeling van opkomende kleinskaalboere – en sal as sodanig help om die land se hoë werkloosheid die hoof te bied.
“Dit is ook ideaal vir nisboerdery – ʼn groot groeiarea vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en iets waaroor LAC baie passievol is. Die aanvanklike kapitaaluitleg is hanteerbaar en relatief min ruimte word benodig (250m² kan 15 000 knolle akkommodeer). Boonop help Saffricon met opleiding om nuwe boere op dreef te kry,” sê Liebenberg.
“Die verbouingskontrakstelsel sal veral landelike gemeenskappe ophef en hulle ʼn manier bied om nie net in hul basiese behoeftes te voorsien nie, maar ook om hul eie besighede met goeie groeimoontlikhede te vestig.”
SA klimaat ideaal vir verbouing van saffraan
Saffraanboerdery is ook ideaal geskik vir die Suid-Afrikaanse klimaat, veral omdat groot dele van die land die afgelope paar jaar onder ʼn strawwe droogte gebuk gegaan het. Dit verg byvoorbeeld baie minder water as verskeie van die groot tradisionele gewasse in Suid-Afrika. Waar die vernaamste eenjarige gewasse hier ongeveer 500-800mm besproeiing per seisoen vereis, benodig saffraan tussen 250mm en 300mm per seisoen.
Saffraan kan in byna enige omgewing verbou word, selfs in toestande wat tradisioneel nie geskik of ideaal is vir die meeste ander gewasse nie – soos die Noord-Kaap, waar Engelbrecht op grond tussen Calvinia en Williston die afgelope paar jaar die kuns van saffraanverbouing onder plaaslike omstandighede vervolmaak het.
Saffraan word hoofsaaklik gebruik om geur en kleur aan kos te gee, maar ook in die vervaardiging van natuurlike skoonheidsmiddels en natuurlike medisyne, en as ʼn kleurmiddel in die tekstielbedryf.
Saffricon sal binnekort nuwe franchisegeleenthede vir die verbouing van saffraan bekendstel. Diegene wat reeds hul beginnerpakke op die proef gestel het, sal voorkeur geniet. Inligting rakende beginnerpakke vir 2022 sal ook binnekort beskikbaar wees. Vir meer inligting, hou gerus hulle webwerf by www.saffricon.co.za dop.
(Saffricon het in Episode 13 van Nisboere Seisoen 6 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)