SA kannabisbedryf bied goeie groeigeleenthede ondanks rompslomp

Die kannabisbedryf is ʼn massiewe ontluikende mark wat wêreldwyd baie opgang maak. Suid-Afrika is in die ideale posisie om voordeel te trek uit dié golf, maar baie sal deur die owerhede op regulatoriese vlak gedoen moet word om die klimaat te skep vir die plaaslike bedryf om te floreer. 

Gog van der Colff, die brein agter Leaf Botanicals – een van die eerste wettige vervaardigers van medisinale kannabis in Suid-Afrika, is ’n voorloper in die plaaslike kannabisbedryf wat vroeg reeds die potensiaal van die plant en die mark se groeimoontlikhede raakgesien het. Leaf Botanicals se bedrywighede is in die Upington-omgewing in die Noord-Kaap geleë en vorm deel van die Van der Colff-familie se uitgebreide boerderybelange wat organiese uitvoerdruiwe, rosyntjies en pekanneute insluit. 

Volgens Van der Colff, wat die Toyota SA Agri SA Jongboer van die Jaar-toekenning in 2011 verower het, is die regulatoriese raamwerk op produksievlak grootliks in plek, met min probleme wat ondervind word. Daar is egter heelwat rompslomp verder af in die waardeketting en die afset van hul produk bly ʼn probleem. “Daar is heelwat grys areas en baie werk moet nog gedoen word om die produk naatloos tot by die verbruiker te bring.”

Leaf Botanicals het deel gevorm van Nisboere (op VIA DStv-kanaal 147), seisoen ses, se twaalfde episode. Dié episode is aangebied deur Laeveld Agrochem (LAC) se Phillip Venter, in samewerking met die bekende ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group, wat die ankeraanbieder van Saterdaeoggende se Ontbytsake op kykNET (DStv-kanaal 144) is. 

Kannabis wêreldwyd in aanvraag

Die wêreldvraag na medisinale plante het in die laaste paar jaar met rasse skrede gegroei danksy die groter bewustheid van die vele gesondheidsvoordele wat dié plante bied. Dis egter veral die belangstelling in die medisinale waarde van kannabis wat groot opskudding veroorsaak.

Volgens die plaaslike Insight Survey-groep, ʼn verskaffer van verbruikersintelligensie- en marknavorsingsdienste, staan die jaarlikse kannabismark op meer as 263 miljoen verbruikers, met die globale mark (ingesluit gereguleerde en onwettige kannabis) wat in 2019 op ongeveer VS$344 miljard (R5 triljoen) geraam is. Die gereguleerde kannabismark is op sowat VS$52,8 miljard (R770 miljard) gewaardeer, met die verwagting dat dit teen ʼn saamgestelde jaarlikse koers van 14,5% tot VS$103,9 miljard (R1,5 triljoen) in 2024 sal toeneem. 

Insight Survey sê die bedryf se fenomenale groei word grootliks aangewakker deur ʼn toename in die aanvaarding en erkenning van kannabis se terapeutiese potensiaal. Voorts speel die groeiende aantal lande wat die gebruik van kannabis dekriminaliseer en die gebruik daarvan vir mediese gebruik wettig, sowel as die tegnologiese ontwikkeling op die gebied van medisinale kannabis, ook ʼn rol in die opwaartse momentum.  

Jan van Riebeeck het reeds kennis met “daccha” gemaak

Ondanks die oplewing wat die bedryf in die laaste paar jaar ondervind, is die gebruik van kannabis niks nuuts in Suid-Afrika nie. Volgens Wikipedia was die eerste optekening van die kannabisplant dié deur Jan van Riebeeck, wat offisiere beveel het om “daccha” in Natal te koop vir handel dryf.

En hoewel die plant reeds honderde jare in Suid-Afrika gebruik word, is dit eers in 2018 wettig verklaar vir private gebruik deur volwassenes. Medisinale daggaprodukte kan vir enige gesondheidstoestand voorgeskryf word, mits ʼn mediese praktisyn kan verklaar dat dit met behandeling kan help. 

Die idee vir Leaf Botanicals het, volgens Van der Colff, so ses jaar gelede ontstaan toe ʼn vriend hom vertel het hoe kannabis hóm help as teenvoeter vir sy ernstige rugprobleme – en dat dit ʼn goeie idee sou wees om met die gewas te boer. “Aanvanklik het ek vir my vriend gesê hy is laf, veral omdat ons ons in ʼn redelik konserwatiewe omgewing bevind. Ek het egter begin nalees en gesien daar is potensiaal in die idee. Hoewel ek aan die begin versigtig was oor die gemeenskap se moontlike reaksie, was die uiteindelike terugvoering baie positief.”

Upington ideaal vir verbouing van kannabis

Van der Colff sê met die produksie van kannabis is dit krities om ʼn kwaliteitproduk te lewer en seker te maak dat jou sekuriteitstelsel vir die beveiliging van die kannabis van ʼn baie hoë standaard is. Leaf Botanicals het besluit om hulle onderneming in die Upington-omgewing te vestig, aangesien die familie se hoofboerderybedrywighede reeds hier was. Van der Colff sê dít maak sin, omdat Upington die hoogste ligintensiteit in die wêreld het en ’n kannabisplant in dié omstandighede floreer. “Voorts is dié gebied droog, met min peste en plae, wat alles tot voordeel vir die kweek van kannabis is.” 

Kannabisverbouing het die potensiaal om ʼn winsgewende boerderyaktiwiteit te wees, alhoewel Van der Colff meen dat probleme met die vestiging van ʼn afsetmark tans nog ʼn hindernis vir die plaaslike mark is. 

Kannabis is ʼn baie veelsydige plant. Behalwe vir die medisinale aanwending van sy blomme en die gebruik daarvan vir rekreasiedoeleindes, word kannabis ook in skoonheidsmiddels gebruik. Voorts het kannabisblare ʼn hoogs verteerbare proteïen wat as dierevoer gebruik kan word, terwyl die vesel in die stokke vir die maak van papier en materiaal aangewend kan word. 

Roodt sê ten spyte van die negatiewe persepsies wat die kannabisbedryf steeds uit sommige oorde ontvang, bied dit enorme ekonomiese potensiaal en is dit belangrik dat die owerhede en reguleerders besef hoe groot die geleentheid is vir welvaartskepping in Suid-Afrika. Daarmee saam gaan die skep van werksgeleenthede en die betaling van belastings wat die regering van ’n broodnodige inkomste kan voorsien. 

Venter: “Entrepreneurskap vervul belangrike rol”

Volgens Venter is Leaf Botanicals ʼn goeie voorbeeld van die belangrike rol wat entrepreneurskap en ʼn voorloper in ʼn nuwe bedryf speel. Maar hy beklemtoon dat dit noodsaaklik is om ʼn goeie begrip te hê van die hele waardeketting waarin sake gedoen word, insluitende die regte vennootskappe om die finale produk tot by die verbruiker te bring. “Dis krities dat die regering die regte strukture in plek het sodat die produk suksesvol verwerk kan word en uiteindelik vir mediese doeleindes aangewend kan word.”

Liana Erasmus, adviseur en ʼn kundige op die gebied van kannabis, sê hoewel baie mense dink dis maklik om die plant te kweek, is dit uiters sensitief vir onder meer temperatuur, humiditeit en voedingstowwe. Voorts is die plant ʼn bioakkumuleerder, wat nadelig kan wees as daar byvoorbeeld swaarmetale in die grond is. Die opneem en stoor hiervan kan nie net skadelik vir die plant self wees nie, maar hou moontlike gesondheidsrisiko’s vir kannabisverbruikers in. Die plant se sterk reuk lok boonop insekte soos sprinkane en rooispinmyt, wat skade kan aanrig. Aangesien Leaf Botanicals se kannabis organies verbou word, kan die meeste organiese plantbeskermingsprodukte wat op ander produkte soos tamaties gebruik word ook vir kannabis aangewend word. 

(Leaf Botanicals het in Episode 12 van Nisboere Seisoen 6 op VIA, DStv-kanaal 147, verskyn. Kykers kan die seisoen se episodes op DStv se CatchUp te siene kry. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)