’n Beter resep vir boerderysukses kan jy jou skaars indink: die kombinasie van finansiële kundige-cum-landboukonsultant en ’n hardwerkende, ondernemende planmaker en mensekenner as lewensmaat.
Dit is die merkwaardige verhaal van Andrew en Sharon Emslie van Red Baron Tomatoes naby Oos-Londen in die Oos-Kaap. ’n Uitsoek-tamatieplaas wat gevestig is in ’n provinsie wat daarvoor bekend staan dat dit die beste klimaat bied om tamaties van hoogstaande gehalte te lewer.
Vyf-en-twintig jaar nadat Andrew die korporatiewe wêreld verlaat en ’n sprong in ’n landbourigting gewaag het, wéét die egpaar hulle het die regte keuse gemaak. Dit is omdat hulle hou van dit wat hulle doen, omdat hulle altyd op gehalte fokus, omdat hulle as ’n span goed saamwerk en omdat hulle hul verskillende talente en pluspunte in hul onderneming belê het.
In dié tyd het hulle boonop hul boerderypraktyk aangepas tot die gevorderde tegnologie van hidroponiese tamatieverbouing vir nóg beter produkgehalte sowel as groter winsgewendheid en volhoubaarheid.
Andrew vertel dat die landbou deel van sy lewe geword het toe hy in die jare negentig as landbouadviseur vir die destydse Volkskas Bank gewerk het. “Baie van my kliënte was tamatieboere in die omgewing van Oos-Londen. In daardie jare het hulle in ’n groot mate hul boerderymetode verander van aanplanting in oop grond tot verbouing in kweekhuise en -tonnels.”
Dit het Andrew aan die dink gesit toe hy die boere se finansiële syfers so sit en bekyk het. “Ek het eendag vir my vrou gesê ek dink ek het die soort boerdery gevind wat ons kan aanpak.”
Dis nét daar dat hul lewe ’n splinternuwe koers ingeslaan het. Hulle het ’n kleinerige eiendom aangeskaf by Sunrise on Sea, digby die stad, wat uiters geskik was vir hul planne. Nie net is hul eersteling in dié tyd gebore nie; so ook die Emslies se splinternuwe landbou-onderneming wat gepaard gegaan het met hul eerste oes-aanplanting.
Andrew was slim genoeg om te weet om só drasties van beroep te verander, is nie iets wat oornag moet gebeur nie. “Ek het nog ’n paar jaar vir Absa bly werk, totdat ons kans gesien het om ons boerdery te vergroot. In die jaar 2000 het ons nuut begin, en nou, in 2025, het ons uitgebrei van sowat 3 000 m2 se aanplantings destyds tot ongeveer 90 000 m2 onder plastiekbedekking.”
Sharon vertel dat dit soms uitdagend is as jou sakevennoot ook jou lewensmaat is. “Ons het verskillende pluspunte. Andrew het byvoorbeeld die ongelooflikste sakevernuf en weet hoe om met geld te werk. Hy verstaan dat kontantvloei in elke onderneming ’n volgehoue kwessie is. Dít is wat hy goed verstaan en goed doen. My pluspunt is weer menseverhoudings. Ek kan goed onderhandel. Ek weet ook hoe ek ons handelsmerk moet laat groei.”
Hierbenewens is dit broodnodig om die hele tyd jou oë oop te hou vir tegnologiese vooruitgang. Die Emslies se oorskakeling na hidroponiese tamatieverbouing was seker een van die belangrikste veranderings in hul sakebenadering. Hidroponika is die tegniek om plante te kweek in ’n oplossing met ’n waterbasis, eerder as in die grond. Dit kan ’n groeimedium insluit soos vermikuliet, kokosneut-turf of perliet. Op Red Baron was kokosneut-turf Andrew se keuse. Dit bestaan onder meer uit die vesel wat uit die buitenste dop van ’n kokosneut onttrek en dan saamgepers word. Hy vertel dat dit ’n neweproduk is wat die kokosneutbedryf as herwinningsmedium beskikbaar stel. Vir enige soort plant, maar veral vir tamaties, doen dit wondere omdat dit die kapasiteit het om voedingstowwe sowel as suurstof te behou. “Ná gebruik in die kweekhuis word die kokosneutturf herwin as basis om in grond wat arm is aan voedingstowwe te hergebruik.”
Tamatieplante raak tussen 9 en 12 maande oud, en elke plant produseer ongeveer 15 tot 20 kg. Hulle word sowat 10 tot 12 meter hoog. Al die voedingstowwe wat Red Baron se plante nodig het, word verkry uit die besproeiingswater. “Ons het ook oorgeskakel na ’n gerekenariseerde besproeiingstelsel wat ’n pasgemaakte voedingstofmengsel aan die plante toedien. Ons wysig hierdie mengsel volgens dit wat ons sien die plante vra. Die tamatieplante ontvang dus presies wat hulle nodig het deur middel van tussen 10 en 12 besproeiingstoedienings per dag.”
Die beskerming wat die kweekhuise bied, is van ontsaglike waarde, sê Andrew. “Dit beteken dat ons plante nie blootgestel word aan wisselende klimaatstoestande, peste, plae en siektes nie. Die voordeel hiervan is dat die plante net ’n beperkte hoeveelheid toedienings van plaagbeheer, chemiese stowwe en swamdoders ontvang. Dit het die hele prentjie verander van wat voorheen nodig was in die geval van oopgrond-aanplantings.”
Rondom elke kweekhuis het Andrew en sy span ook inseknette aangebring om te keer dat insekte skade aanrig. “Ons maak dus doodseker dat ons baie gesonde tamaties lewer.”
Hidroponika beteken egter nie minder werk nie, sê Andrew. “Inteendeel, wees bereid om harder te werk, selfs oor naweke. Jy moet aandag gee aan die fynste besonderhede. Die kweekhuise moet jou voetspoor dra. En vergeet maar daarvan om uit jou bakkie of uit jou kantoor te probeer boer.”
’n Kwarteeu later en die Emslies het gevorder van beginnerboere tot ervare tamatieboere wat topprodukte lewer en hul onderneming in alle opsigte verfyn het om maksimaal te produseer. Andrew gee sy vrou baie krediet vir haar onwrikbare bystand, kennis en doelgerigtheid. “My vrou is ’n integrale deel van die onderneming. Ek maak staat op haar kundigheid. Sy ken hierdie kweekhuise soos die palm van haar hand. As jy so ’n onderneming saam met jou lewensmaat wil aanpak, moet jy doodseker wees van sy of haar ondersteuning en toewyding. Sy is ’n rots wat help bou het aan Red Baron se sukses.”
Daar is natuurlik altyd nuwe uitdagings, lag Sharon. “Ons dogter, wat soms hier help, het vir ons vertel ons toekoms behoort papierloos te wees … dit is dat ons ten volle elektronies moet werk. Sy voel ons maak steeds te veel op papier staat! Ons aanvaar dus dat ons nog baie te leer en te verbeter het. Dit is waarom dit so bemoedigend is om saam met jongmense te werk. Soos hulle, moet jy alles deur middel van jou selfoon kan bestuur … van die beheer van besproeiing tot die voginhoud van plante. Ons sagteware is reeds geïnstalleer, maar daar is nog baie ruimte vir verbetering.”
Entrepreneurskap is uitdagend, sê sy. “Daar is dae dat jy wil tou opgooi en voel jy loop in mure vas. Ons het al dikwels gevoel ons is uitgebrand. Maar dan maak ons staat op die genade van God, die Een wat ons weer genoeg energie gee om aan te gaan. Ons het geleer om nooit hoop te verloor nie, selfs wanneer ons voel ons is plat op die aarde.”
Nog raad van die egpaar aan mense wat hul eie onderneming wil bedryf, is dat jy jou take moet struktureer – en, belangrik, dat jy blaaskanse neem, aan iemand verantwoording moet doen, en altyd voel dat jy met iemand kan kommunikeer. En die heel belangrikste – jy moet geniet wat jy doen.
Die Emslies deel graag hul plaas en sy werksaamhede met belangstellendes “om aan hulle te wys hoe ons te werk gaan om soet, geurryke toptamaties te verbou”, sê Sharon.
Besigtigingstoere van tot drie ure is elke dag van die week beskikbaar vir kinders in groepe van tot 35. “Dit is deel van ons bydrae tot opvoeding en om aan kinders die geleentheid te gee om hul eie Red Baron-tamaties te pluk. Ons bied ook trekker- en ponieritte, en ’n lekker plaaswandelpad tot by ons plaasdam.”
Nog dienste aan die gemeenskap is landboukonsultasies en hulp met projekbestuur, die opstel van sakeplanne en volhoubaarheidstudies, sowel as bemarkingstrategieë. Dit alles spruit uit hul boerdery-ervaring van 25 jaar, lesse wat die gesin op ’n praktiese manier geleer het om ’n suksesvolle onderneming op die been te bring en lewensvatbaar te bedryf.
- Volg @Red Baron Tomatoes op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.redbaron.co.za of skryf aan andrew@redbaron.co.za, sharon@redbaron.co.za, marketing@redbaron.co.za of packing@redbaron.co.za; of bel Andrew by 083 662 0529 en Sharon by 083 226 0265.
- Besoek Agritourism Africa by www.agritourismafrica.com of bel 012 643 3407.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za