’n Ondernemende idee meld hom soms op die eienaardigste plek, op die eienaardigste tyd by jou aan – wanneer jy dit die minste verwag.
Dit is wat met Ivan Maré gebeur het op ’n vliegtuig iewers toe hy op ’n artikel oor die swart soldaatvlieg afkom. Vanweë sy mynbouagtergrond is toksiese afval en omgewingsake sy belangstellingsveld, en met die lees van die storie het hy besef die swart soldaatvlieg is nie sommer net nóg ’n lastige insek wat op gemors floreer en peste en plae aandra nie. Inteendeel – hy het ontdek dié insek is ’n nuttige lid van die samelewing; een van die top-opruimers van die omgewing en kan, met die regte bestuursvernuf, ’n lewensvatbare onderneming tot stand bring.
Verdere navorsing het getoon dié bedryf het reeds in Europa posgevat en dié vlieg het die potensiaal om bruikbare en bemarkbare byprodukte te lewer tot voordeel van die hele gemeenskap.
Ivan het sy idees bespreek met Leon Louw, wat intussen ook besig was met navorsing oor die waarde van hierdie vlieg. Die res is geskiedenis: Agt jaar later is ProtiCycle ’n groter sukses as waaroor hulle ooit kon droom. Ivan, nou besturende direkteur, en Leon, navorsingsdirekteur, noem dit “die vinnigste komposfabriek ter wêreld”.
Nie dat hulle kitssukses behaal het nie! ’n Beskeie begin was hul benadering, en die eerste projek het afgeskop met ’n klein houtboksie in Ivan se agterplaas op Hermanus, “een wat my skoonpa gebou het. Ek het dit toe in my tuin gesit en gekyk hoe hierdie goed uitgebroei kan word.”
Sy doel was om te sien hoe hy die larwes tot vlieë kan laat ontwikkel, en of hy hulle kan laat aanteel. Dié eerste oorwinning het begin 2016 uitgeloop op die registrasie van ProtiCycle as maatskappy, met Worcester die dorp van keuse vir hul hoofverwerkingsaanleg.
Ivan beskryf ProtiCycle as ’n “innoverende maatskappy wat tegnologie inspan om organiese afval met behulp van die swart soldaatvlieg te verwerk om ’n kwaliteitproteïen, vet en organiese bemestingstof uit die afval in ons voedselstelsel te vervaardig”.
Die uniekheid van die onderneming lê daarin dat weggooiprodukte volledig gebruik kan word om ’n lewensvatbare onderneming te bedryf – een wat uitsoekprodukte uit afval maak, en terselfdertyd elke krieseltjie gemors uit die omgewing kan verwyder.
“Ons visie is om ’n volhoubare alternatief vir vismeelproteïen te skep deur die gebruik van insekte; ons missie is om ’n volhoubare organiese-afval-ekonomie te vestig, sowel as ’n lewensvatbare oplossing vir organiese afval in ons voedselstelsel,” sê hy. Volgens hom kan verskillende afvaltipes uit voedselproduksiebedrywe gebruik word as voerleweransiers vir hierdie “vlieëplase”.
“ProtiCycle is dus ’n eenstoptuiste vir organiese afvalprodukte. Ons maak van die totale afvalstroom gebruik. Daar is nie weer ’n afvalproduk ná ons nie. Dis uniek – want ons produseer nie afval waarvan ontslae geraak moet word en wat na ’n volgende verwerkingspunt hoef te gaan nie.”
Vlieg én larwe is dus nuttig – enersyds as bymiddel in die vervaardiging van kompos; andersyds as byproduk in dierevoeding. Van die interessante produkte is infrarooi-gebakte larwes met ’n lae voginhoud wat as droë voer ideaal is vir hoenders, visse of reptiele. Dan is daar “Super Frass” – insekhulsels wat as grondbemesting benut word; larwemeel, ’n hoëproteïenproduk wat, pleks van vismeel, by dierevoeding gevoeg kan word; en larwe-olie wat uit rou larwes onttrek word om as beskermende lagie om korrelkos vir diere te dien. Dié olie word deesdae ook as bestanddeel in sommige mediese produkte gebruik. Selfs die lewendige larwes het ’n nut, omdat dit ryk is aan proteïen en vet, en uitstekend is vir hoenders en visse.
Die idee van ’n “vlieëplaas” het aanvanklik onsekerheid by die publiek geskep. “Hulle wou weet watter impakstudies ons gedoen het,” sê Ivan.
Die platteland was ’n beter opsie vir die vestiging van die fabriek, want buite-stedelike gebiede akkommodeer so ’n bedryf geredeliker. “Ons is omgewingsvriendelik en het ’n positiewe koolstofvoetspoor. Ons breek afval af totdat daar niks oorbly nie en ons sit geen slegte goed terug in die grond nie.” Vir ProtiCycle was bepaalde impakstudies dus ononderhandelbaar, “sodat ons kon sien wat nodig was om ’n positiewe bydrae tot die omgewing te maak”.
“Venstervlieg” is die ander Afrikaanse naam vir hierdie diertjie met die wetenskaplike naam Hermetia illucens, uit die Stratiomyidae-familie. Dit is endemies aan Suid-Afrika. Dit het, soos vlieë, twee vlerke, en kom reg oor die wêreld voor. “Dis ’n baie unieke dier – jy kry dit nie in ’n huis nie, maar net buite, in die natuur,” vertel Ivan.
In die vliegfase is sy enigste nut om te paar en eiers te lê. Kort ná paring gaan die manlike vlieg dood en lê die wyfie tussen 400 en 800 eiers, waarna sy ook doodgaan. Die eiers, wat in ’n vogtige en temperatuurbeheerde omgewing, naby vogtige, organiese afvalprodukte gehou word, broei ná nagenoeg vyf dae uit. Die larwes bly sowat twee weke lank hier en ontwikkel tot 2,5 cm lank en 0,5 cm breed. Die larwefase is dus die eintlike fase om organiese afvalmateriaal te verwerk, en dis wanneer temperatuurbeheer, die samestelling van die materiaal en genoeg suurstof ’n deurslaggewende rol speel vir die optimale ontwikkeling van die vlieglarwe.
Schalk van Rooyen, tegniese konsultant van Laeveld Agrochem, vertel die swart soldaatvlieg “is ’n natuurlike, effektiewe manier om van organiese afval ontslae te raak of te verwerk tot iets bruikbaars. Gewone vliegspesies wat in hierdie materiaal voorkom, sal dit ook ontbind, maar nie so doeltreffend nie; jy kry nie so ’n skoon produk daaruit nie. In gewone kompos is die stank baie erg, maar die swart soldaatvlieg genereer nie daai stank nie. Dit word nie gesien as ’n pes nie, en is ook nie bekend as draer van siektes nie. Hul afbreekvermoë van afvalstowwe is puik – en hulle verwyder selfs skadelike chemiese stowwe uit afval.”
Johan Greyling, hoofbestuurder van ProtiCycle, sê as jy die swartsoldaatvlieg-bedryf wil betree en daaraan dink om die produk uit te voer, het jy ’n redelik groot fabriek nodig. “Tog kan jy dit wat ons hier doen, ook buite in jou eie tuin doen deur jou eie huisafval te gebruik. Die lekkerte van ProtiCycle is jy kan soveel as moontlik van die afval daarbuite gebruik en dan hoef dit nooit na munisipale stortingsterreine te gaan nie.”
Die maatskappy se suksesverhaal het te doen met hul visie om iets-uit-niks te skep – om die nederige vlieg te benut as bestanddeel vir volhoubare entrepreneurskap sowel as ’n positiewe omgewingsimpak.
Wie sou kon dink dat twee roomysbakke vol swart soldaatvlieglarwes binne enkele jare sou lei tot die lewensvatbare verwerking van 5 ton afval elke dag? En daarmee saam werkskepping vir ’n span van 13.
Ivan Mare: ivan@proticycle.com; 084 730 0980.
Leon Louw: leon@proticycle.com; 060 569 3956.
Doornvleiplaas, R43, tussen Worcester en De Doorns.
Volg @ProtiCycle en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.