Die natuur se ontwerperswonders, waterwys by uitstek, met die vermoë om in selfs die felste omstandighede te oorleef en te gedy. Met relatief min aandag omskep hulle ’n doodgewone tuin in ’n eksotiese oase.
Dít is die betowering van vetplante, of sukkulente – plante wat tuiniers in versamelaars verander, wat van tuinmakers tuinkenners maak. Tot nie lank gelede nie was vetplante die afskeepkinders van die meeste tuinbouers, maar deesdae is hulle ’n gesogte sieraad wat kleur, tekstuur, vorm en ’n uitdagende voorkoms aan ’n tuin of bedding verleen.
Vir Christo Boshoff van Tzaneen in Limpopo was hulle ongetwyfeld ’n inspirasie tot meer as net tuinmaak. Vandat hy die eerste keer vetplante “ontdek” het, was die band onbreekbaar en het dit ontwikkel tot ’n verbintenis wat, volgens hom, lewenslank sal duur. Dis waar sy onderneming, Fatty Plants, ontstaan het – hy het dit reggekry om sy belangstelling en liefde vir hierdie pragplante in ’n suksesvolle besigheid te omskep. Vandag, sowat vyf jaar later, is dit ’n spesialiteitskwekery wat besoekers en kwekers bekend stel aan plante met ’n persoonlikheid en selfvertroue van hul eie.
Wat hierdie sukkulenttuiste nog meer besonders maak, is dat dit geleë is in ’n subtropiese deel van die land; heeltemal anders as ’n halfwoestyn-omgewing waarmee die meeste mense vetplante assosieer.
“Die idee van die soort kwekery het begin met die afsterwe van my verloofde, Brian. Hy het ’n hart van goud gehad, iemand wat groot waarde geheg het aan goeie verbintenisse met ander mense. Hy het jou nooit vergeet nie, was iemand wat altyd reggestaan het om jou in sy lewe toe te laat.”
Vir Christo is daar ’n ooreenkoms tussen die mens wat hy liefgehad het en die plante wat hy eweneens bewonder – dat selfs net ’n klein bietjie aandag hulle laat floreer; net soos Brian geblom het met liefde en aandag, maar dit ook in grootmaat kon teruggee.
“Dit alles is vir my simbolies van Brian. Hy was die inspirasie agter hierdie kwekery. Nadat ek eers dié plante onder oog gehad het, het ek geweet dis wat ek vorentoe wil doen.”
Ná Brian se dood was Christo so gelukkig om nog ’n vriend, Malcolm, te ontmoet wat reeds in die kwekerybedryf betrokke was en geweet het wat dit verg om so ’n onderneming op die been te bring en te laat werk. “Daarna het die geleentheid hom voorgedoen om so ’n kwekery hier in Tzaneen te begin.”
Die naam is geïnspireer deur ’n vriendin, Kate Laas, wat deesdae in Londen woon, vertel Christo. “Sy is Engelssprekend, maar met ’n Afrikaanse man getroud.” Sý verwysing na “vetplante” het háár “fatty plants” geword. Vir Christo was dit ’n hartverwarmende term, presies wat hy gesoek het as naam vir sy hartsonderneming. “Ek het besluit om die kwekery na Kate se benaming vir hierdie soort plante te noem.”
Hy sê sy grootste uitdaging was om plantmateriaal in die hande te kry. Vetplante was toe nog nie so gewild soos vandag nie, en Christo erken sy kennis ook nog nie so uitgebreid nie. Hy het gedoen wat enige hardwerkende, vasbeslote entrepreneur doen – hy het homself geleer deur waar te neem wat op grondvlak gebeur, deur van kwekery tot kwekery te ry en te bly uitvra. Ten einde sy versameling te diversifiseer, het hy stuk-stuk, bietjies-bietjies, vetplante op verskillende plekke aangekoop.
Dit was in ’n tyd, pas nadat hy sy eiendom verkoop het, “hier aan die begin van die pandemie en met die inperkingstyd, dat alles so te sê gaan stilstaan het. Selfs die akteskantoor het gesukkel met die verkoopoordrag van ons vorige eiendom, ’n proses wat omtrent ’n jaar gevat het om te voltooi. Dit het ons gestuit om regtig voluit te kan begin.”
Aanvanklik het Christo saad aangeskaf, “maar dit vat baie langer om dit in die hande te kry, veral wat skaarser vetplante betref. Dis boonop ’n baie duur proses, en die saad is nie altyd maklik bekombaar nie.”
Sy eerste les was toe hy R10 000 se saad uit Duitsland af ingevoer het. “Niks het ontkiem nie. Ek het harde en duur lesse geleer.”
Hy het dit egter as ’n uitdaging en tydelike terugslag beskou – niks kon hom meer keer om sy droom te verwesenlik nie. Waar daar ’n wil was, was daar ’n weg.
Die res is geskiedenis: Fatty Plants Nursery kweek vandag byna 200 spesies, met die fokus op die Euphorbia, Crassula, Cotyledon en Calanchoe, Echeveria, Aeonium, Stapelias en aalwyne. Onder elk van hierdie plantgroepe ressorteer ’n wye verskeidenheid.
Vetplante se talle verskillende groottes en uiteenlopende groeistyle verstom en verras sonder ophou, maar hulle het dié gemene deler: Dit is dat “sukkulent” dui op hul vermoë om water in hul vlesige blare, of in hul wortels en stamme, op te gaar. Hierdie vogreserwes maak dit vir die plante moontlik om in uiterstes te oorleef. Christo vertel dat vetplante jou dan ook nog met die mooiste blomme verras wanneer ander plante hiberneer … in die winter. Kaktusse is sy volgende uitdaging.
Sy kennis van vetplante het saam met sy onderneming gegroei, volgens hom. Wêreldwyd is daar sowat 60+ plantfamilies en 10 000+ plantspesies in verskillende habitatte, gesog vir binnenshuise sowel as buitenshuise tuine, en gewild onder plantversamelaars en -entoesiaste omdat jy dit in elke denkbare kleur en vorm kan kry. Vetplante is in die algemeen plaagbestand, verg min instandhouding, is aanpasbaar in baie klimaatsomstandighede, en hul vlak wortelstelsel verhoed onkruidgroei in ’n groot mate.
In die volksmond kry baie van hierdie plante die interessantste onthouname: bergklokkies, bergaalwyn, beestong, bobbejaanstert, woestynrosie, jelly beans, spekboom, meelplakkie, geelplakkie en flapjacks, slangplante, donkiestert en wasplante.
Soos dit met goeie ondernemings gaan, het die uitbreiding van sy plantvoorraad Christo genoodsaak om groter grond te soek. “Die stuk grond wat ons nou hier huur, is vol vetplante, amper al te klein. Ons gaan nou saamspan met Letaba Kwekery wat ’n nuwe plaas gekoop het, en Fatty Plants daar herontwikkel.”
Die lekkerste deel van Christo se dag “is om soggens vroeg in die kwekery in te vaar, en om te kyk wat nuut is. “Dis fantasties om te sien iets nuuts het opgekom, of het ’n nuwe blaar, of nuwe vorm, of ’n plant het begin blom. Die kans is goed dat dit iets sal wees wat jy nog nie voorheen gesien het nie. Ek is mal hieroor, kan nie ’n dag wegbly van die kwekery af nie.”
Noodsaaklike entrepreneurseienskappe, volgens Christo, is ’n goeie en positiewe gesindheid. “En jy moet skouer aan die wiel sit, hard werk, nie bang wees vir lang ure nie. Die bevrediging is egter groot omdat vetplante ’n manier het om jou te verras. Moet nooit ophou droom nie. As jy passievol is, kan jy enigiets bereik.
Vir inligting, besoek @Fatty Plants Nursery, of skryf aan info@fattyplants.co.za of bel 078 977 9947.