Dis oral om ons … reg om gepluk te word om ons kosvoorraad aan te vul. En die beste van alles? Dis gratis, met die komplimente van die natuur.
Die voorwaarde is egter dat jy eers deeglik huiswerk doen om dié onwelkome, hinderlike plantjies te kan identifiseer wat ons gewoonlik as “onkruid” klassifiseer en wat vanself oral uitslaan. Jy moet immers weet watter is eetbaar, gesond en geurig genoeg om jou spyskaart aan te vul.
Of praat met Nikki Brighton, skrywer, kosfoendi en spesialis-plantkenner van KwaZulu-Natal oor watter van dié opskietplante – wat so gereeld hul ongenooide verskyning op jou grasperk of in jou beddings maak – suksesvolle geregte op jou bord kan word.
Nikki, skrywer van Wild About Weeds: An Introduction to Uncultivated Food en Edible Weeds: Identify Common Uncultivated Food, kan nie uitgepraat raak nie oor dié “nie-formeel aangeplante plantjies” wat ons so dikwels vernietig, soms selfs met onkruiddoder … terwyl dit die heerlikste kosaanvullings kan wees. “Die beste is dat jy nie ver hoef te soek hierna nie,” sê sy. Volgens haar hoef jy ook nie in bepaalde dele van die land te woon om toegang tot ’n wye verskeidenheid eetbare onkruid te hê nie: Dis oral om jou; begin sommer deur uit te stap tuin toe. Sorg net dat jy met genoeg kennis oor hul bruikbaarheid toegerus is.
Dié voedselaktivis se entoesiasme en rykdom van kennis maak deesdae landwyd ’n hele nuwe wêreld vir ander mense oop … een waarin sy jou daarop wys dat gesonde, geurige kos binne ons elkeen se bereik is, en dit sonder die kapitaal en arbeid om eers ’n boerdery aan die gang te kry. Sy het bekendheid verwerf vir haar werksessies om gaste en toeriste touwys te maak oor die waarde van nie net eetbare onkruid nie, maar ook ander “wilde plante” en hul invloed op jou dieet, jou spyskaart en jou gesondheid. Op haar eiendom buite Howick in die Natalse Middellande inspireer hierdie kos-entoesias en haar onderneming, Plant Abundance, jou om met die natuur te herverbind … om jou toe te spits op dit wat jou omgewing jou heeltemal gratis bied. “Ek is werklik passievol oor eetbare onkruid, wilde plante en nie-gekweekte of onbewerkte kos; ook om ’n volhoubare leefstyl in gemeenskappe aan te moedig.”
Nikki sê haar kosbenadering is eintlik verstommend eenvoudig. “Daar groei kos op plekke waar jy dit die minste verwag – reg voor jou agterdeur, in onbenutte veld op jou plaas, in jou tuinbeddings, langs grootpaaie en agterpaaie, in die krake en skeurtjies van sypaadjies, of tussen aanplantings in boorde. Daar is so baie mense in ons land wat arm en honger is, wat nie weet waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie; dit terwyl daar soveel natuurlike kos rondom hulle groei.”
En dis wat Nikki se kennis so waardevol maak: Sy leer mense om onkruide as eetbaar uit te ken en dit geurig gaar te maak. Dit is boonop propvol voedingstowwe en dus ’n waardevolle dieetaanvulling. Oor baie jare het sy uitsoekresepte ontwikkel wat ’n eenvoudige plantjie tot ’n gesogte item op ’n spyskaart verhef.
Nikki sê die feit dat sy al 20 jaar gelukkig genoeg is om op ’n plaas net buite die beeldskone Howick te kan woon, is ’n lewensvreugde. “Dis hier waar ek ontsettend baie by die Zoeloe- en Sotho-vroue geleer het wat gewoond is daaraan om kos in die veld te versamel. Dit het my belangstelling in die beskikbaarheid van plaaslik beskikbare kossoorte geprikkel, iets wat ’n hele nuwe dimensie by my belangstelling hierin gevoeg het. Dit is vir my ’n reuse-voorreg om soveel by hulle te kon leer. My kennis is verder deur die internet en deur boeke aangevul. Dis van onskatbare waarde. Dit alles het my gehelp om eenvoudiger en gesonder te begin lewe.”
Vir Nikki was haar nuutgevonde kennis so belangrik dat sy uiteindelik interaktiewe werkswinkels oor die waarde van eetbare onkruid en wilde plante reg oor Suid-Afrika begin aanbied het, “want dieselfde soorte kom oral in ons land voor. Hierdie plante speel ’n rol in die heling van ons aarde”.
Dit bly vir haar elke keer ’n openbaring wanneer haar gaste of werkswinkelstudente skielik tot die besef kom van die waarde van ’n magdom plante wat geredelik beskikbaar is, maar as kos misken word. “Hulle is dan uiters verbaas wanneer hulle leer dat die plante wat hulle al jare lank uittrek en weggooi heerlike disse kan maak. Hulle het geen idee gehad dat daar sulke supergesonde eetgoed in hul agterplaas groei nie.”
Nikki raai ons aan om ons sommer dadelik te vergewis van die plante wat reg rondom die huis opkom, “of put uit die kennis van ’n kundige. Ek dink dis waarskynlik die beste plek om te begin. Daar is soveel inligting beskikbaar op die internet, Instagram en op sosialemedia. Bou jou kennis stap vir stap. Ek was altyd so verbaas wanneer ek nuwe geure geproe het. In my staptogte op die plaas het ek die wonderlikste plante ontdek.”
Sommige van hierdie plante is die Amaranthus-genus, wilde plante wat ’n belangrike deel vorm van die dieet van ons inheemse bevolking. Die blare word gekook as ’n heerlike spinasie-agtige groente wat marôg of misbredie genoem word. Nasturtium, of kappertjies, ’n blomryke grondbedekking, is weer heerlik in pesto; brandnetel, van die familie Urticeae, verloor sy branderigheid wanneer dit gaargemaak word. En moenie van die gewilde tuinplant (Syzygium smithii) met die algemene name Lilly Pilly of Australiese kersies, vergeet nie – dis allesbehalwe net ’n uitstekende heiningsplant … die vruggies (waarvan ook die heerlikste konfyt gemaak kan word) word as ’n superkos beskou vanweë sy hoë vitamien C-, vitamien E-, magnesium- en kalium-inhoud.
En wat van pampoenblare? “’n Mens dink mos nooit daaraan om ook die pampoenplant se blare te eet nie,” sê Nikki. “Probeer dit gerus!”
Mense vra haar dikwels of van hierdie plante jou nie siek sal maak nie. “Dis waarom ek sterk daaroor voel dat jy eers leer om eetbare plante uit te ken. Jy gaan mos nou ook nie emmersvol hiervan eet nie!”
Daar vind tans wêreldwyd ’n kopskuif plaas oor waar ons kos vandaan kom en watter nuttige wilde plante en onkruid goeie voedselbronne is, sê sy. “Mense begin verstaan dat die vinnig groeiende pionierspesies wat ons gewoonlik ‘onkruid’ noem, nie net goed en lekker is vir menslike verbruik nie, maar ook belangrik is vir gesonde grond omdat hulle minerale van diep onder die oppervlak gaan haal.”
Vir Nikki bly dit ’n wonder dat sy al soveel jare ’n loopbaan uit “wilde kosse” kon bou. “Dit wys jou net … geleenthede is volop; dis reg rondom jou. ’n Mens kan eintlik uit enigiets ’n lewe maak. Jy moet net jou passie begin uitleef, jou met kennis toerus en sorg dat jy ’n kundige word. Wees dapper, ontdek nuwe dinge. Daar is ’n hele nuwe wêreld wat op jou wag.”
- Volg @Nikki Brighton op sosialemedia. Besoek www.plantabundance.co.za vir meer inligting of om Nikki se boeke te bestel. WhatsApp Nikki by 083 473 3074 of skryf aan haar by nikki@plantabundance.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za