Wercon Boerdery se sukses lê nie net in die goed bewerkte stukke grond op die noordelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaap en teen Agter-Paardeberg naby die Paarl nie – die ware hartklop van hierdie suksesvolle landbouonderneming is die spanwerk van ’n familie wat kanse aangryp, sakegeleenthede skep en op nismarkte fokus.
Kitssukses was dit egter nie vir Connie en Rina Coetzee, hul kinders en skoonkinders, Conrad en Esmari Coetzee en Steffan en Anria Boshoff, van die plase De Hoek, Spitzkop en De Veluwe nie. Dit was stuk-stuk se opbou oor 30 jaar, ook probeer en tref, navorsing en deurdruk wanneer dinge nie altyd so rooskleurig en voor die hand liggend gelyk het nie.
Ten grondslag hiervan lê ’n liefde vir die grond, plante, water en diere – ook respek vir die natuur. Connie se benadering is: Jy werk saam met die natuur … nie daartéén nie.
Wercon is die oorkoepelende naam van die drie filiale, ’n loopbaanpad waarop Connie al in 1993 begin loop het. “Ons het Wercon Boerdery in dié jaar gestig en dit het gegroei tot waar dit vandag is. Conrad het in 2014 plaas toe gekom. Caphale Boerdery, ’n aparte entiteit, is toe vir hom geskep.”
Voor dié waterskeidingsjaar het Connie en sy oudste broer eers saamgeboer op ’n besproeiingsplaas met die naam Lowerland. “Ons het hom saam opgebou en De Hoek aangekoop. In 1998 het ons ’n gedeelte van Spitzkop langsaan ook aangeskaf.”
Dit is toe dat die Wercon-verhaal in alle erns begin het. “Ek het op my eie begin boer.” Aartappels, uie, uiesaad, suikerbone en lusern was van die hoofprodukte.
Die neutboerdery was nie deel van Connie se aanvanklike planne nie. Hy vertel dat die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC), wat altyd op soek is na nuwe landbouprojekte, in hierdie stadium besluit het op die verbouing van pistachioneute in die Prieska-omgewing. Die natuur sou saamspeel, is bevind, omdat dit ’n baie droë, warm omgewing met genoeg water is – ideale omstandighede hiervoor.
“Die IDC wou 1 000 ha vestig en het vyf boere gesoek wat elkeen 200 ha sou aanplant.” Hy het nie op hom laat wag nie en by die projek ingeskakel. “Die IDC het ook ’n fabriek hiervoor gevestig. Ons vyf sou die neute verwerk – hulle sou dit dan bemark.”
In 1998 het hy toe sy eerste 5 ha pistachio’s aangeplant. “Die projek is geleidelik opgebou, maar in die vyfde jaar het ons gesien die pistachiobome gee baie probleme. Ons kon nie agterkom wat werklik fout is nie, en die IDC het baie kundiges betrek om te help. Dit was hier teen 2015 dat die korporasie besluit het die projek is nie langer lewensvatbaar nie en dit nietig verklaar het.”
Vir Connie was dit ’n kopseer. Moes hy handdoek ingooi en die 5 ha uitkap of nie? “Ek het besluit om te kyk of ek letterlik net ’n ekonomiese opbrengs uit die bome kon kry. Dit was geensins een van die plaas se hoofprodukte nie, maar dis toe dat my vrou en skoondogter betrokke geraak en ’n plaaslike nismark geïdentifiseer het.”
Die antwoord was klein hoeveelhede in klein, keurige verpakkings aan klein markte met die handelsmerk Senqu River.
Geleidelik het handelaars toenemend versoeke gerig vir ander neutsoorte, veral amandels en pekanneute. Die volgende stap was dus die aanplant van pekanbome omdat Prieska se natuurelemente nommerpas is hiervoor. “Ons het in 2018 met net ’n klein bietjie begin, en dadelik besef ons moet dit uitbrei.”
Die plaaslike vraag na neute het bly groei, in so ’n mate dat Connie se navorsing hom na ’n plasie teen die Agter-Paardeberg naby die Paarl gelei het.
Dis hier waar Steffan en Anria se landbouverhaal by dié van Connie en Conrad aansluit. Sy vertel die amandelboerdery het begin toe haar pa dié grond in 2016 gekoop het nadat hy die potensiaal daarvan besef het. Dis wat húlle graag wou doen, het sy en Steffan besluit. Grondontledings het getoon dis ideaal vir amandels en die eerste bome is twee jaar later aangeplant, die laastes in 2020. “Die amandelboerdery in die Paarl skakel goed in by die pekans en pistachio’s of pimperneute waarmee ons Prieska-familie boer.”
Volgens Steffan word die bome by ’n kwekery aangekoop en deur enting vermeerder. “Ons het planne om dié boerdery verder te ontwikkel.”
Terwyl die Paarl deel is van die Wes-Kaapse winterreënvalstreek, is Prieska ’n baie goeie besproeiingsomgewing, vertel Connie. “Ons het hitte, grond en water – wat ideaal is vir wisselbou. Ons plant dus baie mielies, koring, suikerboontjies en lusern.” Boerbokke vorm nog ’n groot afdeling van Wercon.
Neutboerdery verg intensiewe aandag – van aanplanting tot verspreiding. “Ons skud die pistachio’s af op skadunette, maak dit dan bymekaar en droog dit. Daarna word dit in eerste- en tweedegraadse neute gesorteer, waarna dit gesout word. Deur die jare het ons die soutmengsel verfyn deur te identifiseer waarna die mark soek.”
Connie sê pistachio’s se uniekheid en gesogtheid het enersyds te doen met sy unieke naam, andersyds natuurlik vanweë die pikante smaak. “As dit lekker gebak en gesout is, is dit heerlik saam met rooi- of witwyn. Jy kan eenvoudig nie ophou eet nie. Dis ook baie gewild onder gesondheidsbewustes.”
Vandag, 30 jaar later, is Prieska se Coetzees van die voorste gewasboere in die gebied, terwyl die Boshoffs uitstekend vaar met hul fokus op amandels en hul gastekothuis.
Familiebande is ongetwyfeld die grondslag van hul sukses, sê Connie. “Dis fantasties om te weet Wercon kan vorentoe geneem word deur jong mense met vernuwende idees. Hulle is tegnologies ook baie meer innoverend en vooruitstrewend, wat beteken dat hulle die onderneming na ’n nuwe, ongekende vlak kan neem. Hopelik hou die toekoms vir ons almal nog grotere geleenthede in.”
Connie se advies aan jong entrepreneurs is deeglike beplanning, fokus op dit wat jy wil doen en ’n omvattende ontleding van die natuur. “Dikwels wil ons ’n produk op ’n bepaalde plek vestig, maar dit aard nie daar nie. Luister na die natuur, kyk watter gewasse die beste daar aard. Vra raad, maak inligting bymekaar en ken jou doelwitte. Moenie fokus verloor deur met iemand anders te kompeteer nie. Dis belangrik om jou knieë op die grond te hou en elke dag vir genade van Bo te vra.”
Bel 053 353 2188; e-pos: wercon@mweb.co.za
Besoek werconboerdery.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte aan te skaf.