Kaviaar in die Karoo? Werklik?
Dis die vrae in jou gemoed wanneer jy die naam van hierdie uitsonderlike onderneming hoor: Kleinkaroo Kaviar. Maar dan tref die volgende verrassing jou met die beskrywing van sy produk: “vrugtepêrels in ’n sousie”.
Wat Elmarie Pretorius van Oudtshoorn hier reggekry het, is die droom van elke sakeonderneming, klein of groot – om te verras, om aandag te trek en om dan belangstelling te behou. Want dié naam en produkomskrywing dwing jou om verder ondersoek in te stel. En uiteindelik, met al hierdie inligting tot jou beskikking, kan jy nie anders nie as om tot die laaste stap oor te gaan – om te sorg dat jy so gou as moontlik van dié unieke produk in die hande kry.
En dis presies wat dit is – uitsonderlike eetgenot wat gerugsteun word deur smaak en voorkoms, geskep deur kreatiewe denke, ná talle probeerslae, en vervolmaak deur die beoefening van die grootste geduld; gebou op deursettingsvermoë en deeglike marknavorsing.
Wat haar verhaal van suksesvolle entrepreneurskap ewe uitsonderlik maak, is dat dit alles begin het in die Covid-19-inperkingstyd, toe mense hul werk verloor het en talle ondernemings hul deure moes sluit, toe die wêreld en sy mense die toekoms as uitsigloos en sonder geleenthede gesien het.
Dis nou behalwe Elmarie en haar familielede. Een van dié hardwerkende span, Elmarie se niggie, Alice van der Westhuizen – eienaar en bestuurder van Oriberg Boerdery, die alleenverspreider van Kleinkaroo Kaviar – vertel: “In die Covid-inperkingstyd het almal die behoefte gehad om selfonderhoudend te wees. Dis hoe alles begin het. Ons het ons grond begin gebruik en ons eie groente geplant.”
Maar dis nie waar dit geëindig het nie. Alice het ook ander mense se behoefte aan vars groente raakgesien. “Die groenteboerdery het gevorder en gegroei, uiteindelik groter as wat ons gedink het dit sou. Die gemeenskap het varsprodukte gesoek, en ons het toe begin om ons groente te verkoop.”
Die inperkingstyd was ’n uitdagende tyd vir almal. “Ons het ’n verdere gaping in die mark gesien, dat daar dalk ’n behoefte is aan méér produkte.” Natuurlik is biltong, droëvrugte en neute altyd wenners, maar dié skeppende denke was maar net die begin van ’n dinkskrum om iets op die mark te plaas wat nog nêrens anders te vinde was nie … en dit is Elmarie se vrugtekaviaar, oftewel vrugtepêrels.
Volgens Alice is hierdie lekkerny te danke aan hegte familiebande. “Dis my tannie se idee. Toe sy ons dus eendag vertel van haar ongelooflike produk, het ons klomp bymekaargekom. Elkeen het sy eie taak gehad – etiketontwerp, bemarking, verkoopwerk.”
So het Alice se onderneming, met Elmarie se “kaviaar” as fokusproduk, onmiddellik ’n waardevolle hupstoot gekry.
Die voorvereiste van suksesvolle entrepreneurskap is wat die twee vroue altyd in gedagte gehou het: ’n unieke, uiters bemarkbare produk, die identifisering van hul mark en om op daardie mark te bly fokus.
“Vrugtekaviaar” was bo-aan hul verkoopslys van produkte. “Dis mos iets anders! Aan die begin was dit moeilik om die publiek sover te kry om daarop in te koop en dit aan te skaf, want dit was vir hulle vreemd.”
Hulle het besluit om die vrugtepêrels “kaviaar” te noem vanweë die ronde vorm, soos dié van regte kaviaar of viseiers, “maar daar is werklik geen verwantskap nie”, sê Alice. Want Elmarie se breinkind is veelkleurige, jellieagtige balletjies met vrugtesap, heuning, koffie of selfs wyn as basis.
Soos ons almal maar al te goed weet, draai lekkernye se aanloklikheid nie net om die smaak nie – tekstuur en voorkoms is ewe deurslaggewend. Alice vertel met ’n glimlag dat “dit soos klein, heerlike, vrugtevolle borreltjies is wat in jou mond ontplof! En dit lyk pragtig op kos of in drankies”.
Volgens Elmarie het die produk, en daarna die verskillende smake en geure, geleidelik ontwikkel, goed twee tot drie jaar totdat sy gevoel het haar produk is perfek.
Sy het altyd gewonder wat sy kan maak wat ánders is om by stalletjies te verkoop. “Mense koop meestal iets wat hulle dadelik kan eet. Ons het navorsing begin doen, baie flops en foute gemaak, en op ’n dag het hierdie ‘korreltjie’ ontstaan met ons eksperimentering. Ek het besef … dit kan nogal mooi wees, dit kan werk, maar dit moet lekker wees.”
Verdere eksperimentering het gevolg, veral met preserveringsmoontlikhede. Uiteindelik, ná drie jaar, was Elmarie tevrede. Haar vrugtepêrels van sap “of watter vloeistof ook al” word met gelatien gemeng, goed geklits, oornag laat staan om van lugblasies ontslae te raak, waarna dit deur ’n spesiale masjien gevoer word om die ronde bolletjies te vorm. Daarna gaan dit na ’n kalsiumbad. Elmarie vertel sodra die druppeltjies vrugtegelatien daarin val, vorm die korreltjies onmiddellik ’n membraan. “Ek laat dit dan staan dat dit stol totdat dit lekker ferm is, waarna ek dit afspoel, dit in ’n sous van my keuse sit en dit bottel. Om ’n groot klomp van een geur te maak duur so twee dae.”
Nou is daar al drie kersiegeure, in drie kleure – pers, blou en rooi. Daar is ook Elmarie se drie soorte geel “pêrels” en rissies in geel en rooi. Sy noem haar verskeidenheid Chilli Berry, Chilli Mango, Pina Colada, Strawberry, Passion Fruit, Cherry, Blueberry, Very Berry en Balsamic, laasgenoemde volgens haar die groot gunsteling. Op bestelling maak sy die pêrels ook in ’n koffie- en rooiwyngeur.
Hierdie vrugtelekkerny – aantreklik, keurig en smaaklik – is ’n treffer saam met kaas-en-wyn, in jogurt, saam met beskuitjies by wynproeë en wynparingsgeleenthede, in nageregte, in slaaie, of saam met kouevleise … en selfs treffend en esteties kleurig in mengeldrankies.
Alice som dit netjies op: “Dis ’n pragtige produk!”
Uit Elmarie se aanhouer-wen-benadering kan entrepreneurs baie leer. “Die eerste ding is dat jy in jouself moet glo, ook in jou produk. Kry dan vir jou ’n groep mense wat jou bystaan. Ek noem my ondersteuners sommer my ‘proekolonie’. Vir hulle stuur ek nuwe geure om te proe en kommentaar te lewer. Ek luister na daardie kommentaar! Hulle insette tel. As ’n geur vir iemand nie lekker is nie, ignoreer ek nie daardie mening nie. As ek dink iets wat ek lewer, verdien tien-uit-tien, maar my proeërs sê dis net ’n drie-uit-tien-produk, gaan ek nie my eie mening afdwing nie. Ek aanvaar mense se kritiek en werk daarmee.
“Rome is nie in een dag gebou nie. Ek het ’n lang pad vol teleurstellings geloop. En nou, ná soveel eksperimentering, werk my produk baie goed. Ek kan selfs my kleinkinders hiermee omkoop!”
Daar is net een raad vir ’n nuwe entrepreneur met geloof in hom- of haarself en in ’n goeie idee, meen Elmarie: “Go for it. Moenie terugstaan en sit en wonder nie. Die tyd is nóú. Gee daai eerste tree.”
Skryf aan Kleinkaroo Kaviar by info@kleinkarookaviaar.co.za of besoek die onderneming by Hoopstraat 57, Oudtshoorn. Tel. 083 417 0435
Volg Kleinkaroo Kaviar en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.