Die moringaboom (ook bekend as die peperwortelboom) word reeds eeue lank suksesvol in die Ooste vir sy vele medisinale voordele aangewend. Dié superkos, met ʼn wye verskeidenheid gebruike, het egter in die laaste jare wêreldwyd verhoogde aanklank begin vind vanweë verbruikers se groter gesondheidsbewustheid en ʼn toename in die gebruik van meer natuurlike medikasie.
Moringa is inheems tot Indië en kom ook voor in Suid- en Suidoos-Asië, Sentraal-Amerika, die Karibiese streek, die noorde van Suid-Amerika, Afrika en verskeie lande in Oseanië. Indië is die wêreld se grootste produsent, met ʼn jaarlikse produksie van sowat 1.2 miljoen ton oor ʼn gebied van 380 km2.. In Suid-Afrika word die plant hoofsaaklik in Limpopo, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Noordwes en Gauteng verbou. Dit hou van warm groeitoestande en aard in bykans enige grond, hoewel dit neutrale tot effens suur grond verkies wat goed gedreineer, sanderig of leemagtig is.
Maboang Matlou van Bosplaas in die Noordwes-provinsie is een van die plaaslike boere wat in ʼn redelik kort tydperk reeds groot sukses met haar moringa-onderneming behaal het. Sy het in 2016 begin boer nadat sy ʼn geruime tyd in die korporatiewe wêreld gewerk het. “Ek het my voorgeneem om vanaf my veertigste verjaardag iets anders aan te pak en toe besluit ek wil boer. Hoewel ek nie enige formele boerderyopleiding gehad het nie, het ek ʼn passie vir voedselsekerheid en om mense te help om ʼn lewensbestaan te maak. Daar was ʼn stuk grond tuis beskikbaar en ek het onderneem om dit in ʼn geleentheid vir myself te omskep.”
Moringa-onderneming bemagtig gemeenskap
Phillip Venter van Laeveld Agrochem (LAC) en die musikant en liedjieskrywer Ricus Nel het Matlou se onderneming, Lefakong Farming, as deel van Nisboere Seisoen 6, Episode 14, besoek. Ricus, ook ʼn Pretorianer, is bekend vir treffers soos Hardekole en Boerepompie wat albei reeds meer as tienmiljoen keer op YouTube gekyk is.
Matlou, stigter en uitvoerende hoof van Lefakong Farming, het eers met groente geboer voor sy na moringa, wat sy organies verbou, oorgeslaan het. Befondsing van die Nasionale Lotery het haar gehelp om die projek, wat die aanplanting van meer as 7 500 bome insluit, aan die gang te kry. Haar besluit om met moringa te boer het gekom nadat sy deeglik ondersoek ingestel het. “Ek het na die voordele en spesiale eienskappe van die moringaplant gekyk en gevind ek kan daarop uitbou deur toegevoegde-waarde-produkte te produseer. Ek wou ook iets doen wat die plaaslike gemeenskap bemagtig. Ons lewe in ʼn wêreld met massiewe wanvoeding en siektetoestande soos MIV/vigs, kanker, hoë bloeddruk ensovoorts en ek wou help om alternatiewe medisyne daar te stel in plaas van chroniese medikasie. Ek wou mense se lewens verbeter en lewens help red.”
Regering help met werkerskorps
ʼn Samewerkingsooreenkoms met die departement samewerkende regering (Cogta) se gemeenskapswerkprogram (CWP) beteken dat ʼn groot deel van haar werkersmag deur die regering betaal word, terwyl hulle terselfdertyd gementor word hoe om met moringa te boer en die produk te verwerk vir finale verbruik. Studente kom ook na Lefakong Farming vir hulle praktiese ondervinding en om op die plaas te help. “Alles wat ons dus op die plaas doen, skakel in by die regering, die burgerlike samelewing en die plaaslike gemeenskap. Dit gee ons die geleentheid om ander te bemagtig en terselfdertyd werk met ʼn volhoubare inkomste te skep wat hopelik tot ʼn meer volhoubare ekonomie sal lei.”
Matou se vernuf en visioenêre benadering het reeds in 2018 verskeie toekennings aan haar besorg, onder meer Noordwes se Vroueboer van die Jaar en Top-vroue-entrepreneur.
Volgens Venter doen sy al die regte dinge; nie net bestuur sy haar plaas vernuftig nie, maar is sy ook baie betrokke by die waardetoevoegingsinisiatiewe tot haar produk, van die plaas tot in die verbruiker se hande. Hy is baie beïndruk met die gesag en respek waarmee sy haar werknemers hanteer en hoe sy nie net groot verantwoordelikhede aan haar span toevertrou nie, maar ook die eienaarskap wat daarmee gepaard gaan.
“Wonderwerkboom” vol voedingswaarde en legio gebruike
Bykans alle dele van die moringaboom kan vir ʼn verskeidenheid doeleindes gebruik word. Dis waarom sommige mense die plant as die “wonderwerkboom” beskryf. Die blare bevat die meeste voedingswaarde en word met die hand geoes, gedroog en dan verwerk vir ʼn reeks toegevoegde-waarde-produkte. Lefakong Farming is reeds uiters suksesvol met die verwerking van moringablare tot poeierformaat – wat onder meer oor kos gestrooi kan word of in mengeldrankies gebruik kan word – tee, kapsules, gesondheidsoute en MorGin-moringa-jenewer, die onderneming se topverkoper. Die blare kan gekook en net soos spinasie gebruik word.
Volgens dr. Ashwell Ndhlala van die Universiteit van Limpopo – wat navorsing oor moringa doen en gemeenskappe bystaan met tegnologieoordrag – word die plantpeule in twee verskillende stadiums gebruik. “Jong peule kan opgekap en onder meer in slaaie gebruik word. Die volgroeide peul produseer ronde, bruin sade wat tot ʼn olie gepers en onder meer in kosmetiese produkte gebruik word,” sê hy.
Moringasaadkoek, ʼn byproduk uit die geperste saad, bevat hoë vlakke van ru-proteïen en word as veevoer gebruik – selfs om water te suiwer. Die plantwortels kan vir medisinale doeleindes ingespan word, en volgens Matlou hou dit selfs seksuele voordele vir mans in.
Tien keer meer vitamien A as wortels
Moringa is ryk aan vitamiene, minerale asook al die noodsaaklike aminosure wat dit ʼn volwaardige proteïen maak. Dit bevat aansienlike hoeveelhede vitamien C en E, sowel as kalium, yster en sink. Boonop is moringablare ʼn uitstekende kalsiumbron en bevat dít tien keer meer vitamien A (beta-karoteen) as wortels. Voorts is die vetinhoud baie laag en het dit geen skadelike cholesterol nie.
Volgens tradisionele Afrika- en Indiese medisyne het die moringaplant meer as 500 verbindings wat vir die behandeling of voorkoming van ongeveer 300 gesondheidsprobleme aangewend kan word. Dit help onder meer met die behandeling van toestande soos diabetes, hart- en lewersiektes, bloedarmoede, artritis en respiratoriese, vel- en verteringskwale en het swamdodende, antivirale, antidepressante en anti-inflammatoriese eienskappe.
Schalk van Rooyen, ʼn deskundige op die gebied van natuurprodukchemie en tegniese konsultant by LAC, sê moringa as plantvoedsel is baie belangrik omdat dit die opneembaarheid van voedingselemente in die liggaam bevorder. “Dit het ʼn pH-effek wat dit vir ons liggaamselle moontlik maak om voedingstowwe op te neem en afvalstowwe uit te skei, wat ’n noodsaaklike liggaamsproses is. Moringa bevat al die noodsaaklike vitamiene en minerale wat maklik deur die liggaam geabsorbeer word. Ook belangrik is die vesel in moringa wat noodsaaklik is vir die voed van mikrobes; dit verbeter die liggaam se fisiologie en versterk ons immuunstelsels,” sê Van Rooyen.
Mobiostim-groeistimulant dra by tot verhoogde gewasopbrengste
Moringa word suksesvol as groeistimulant in die verbouing van ander gewasse aangewend. Een so ’n produk is Mobiostim, ʼn natuurlike, organiese plant-tot-plant-groeistimulant met moringa as die kernbestanddeel. Volgens Gerhard Cronjé van Mobiostim sorg die produk vir gesonder plante met beter weerstand en verbeterde groei, help dit met ambiotiese stres en lewer dit groter opbrengste. Die produk is oor die afgelope twee jaar op ʼn groot verskeidenheid gewasse getoets en het tot opbrengsverhogings van tussen 25% en 65% gelei.
Navorsing dui op stewige groei
Volgens twee onlangse navorsingsverslae deur Facts and Factors en Global Market Insights wink ʼn blink toekoms vir die moringabedryf. Die wêreld-moringaproduktemark is in 2018/19 op tussen $5 miljard (± R74 miljard) en $5.5 miljard (± R81.5 miljard) gewaardeer, met ʼn verwagte gesamentlike jaarlikse groeikoers van tussen 8% en 9% oor die volgende vier tot ses jaar.
Matlou se doelwit is om so ver moontlik beheer oor die moringawaardeketting uit te oefen en sy is baie optimisties oor die vooruitsigte vir Lefakong Farming. Hul produkte word reeds via hul eie webstuiste verkoop en is ook in die Takealot- en Makro-aanlynwinkels beskikbaar. Haar toekomsplanne sluit in die verkryging van groter marktoegang en meer kontrakvervaar-diging vir die agriprosessering van ander boere se moringa. Sy wil ook toegang tot die uitvoermark verkry en is in die proses om hul moringabome organies te laat sertifiseer, wat ʼn premie op produkte sal regverdig. Die uitbou van dié gemeenskapsprojek sal help om vroue in die Bosplaas-gemeenskap verder te bemagtig en meer werksgeleenthede te skep.
Belangstellendes kan die Moringa Development Association of South Africa (MDASA) by secretary@mdasa.co.za kontak vir meer inligting oor beskikbare mentorskapprogramme.
Vind meer uit oor Lefakong Farming by https://www.lefakongfarming.com/.
(Lefakong Farming het in Episode 14 van Nisboere Seisoen 6 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Kykers kan die seisoen se episodes op DStv se CatchUp te siene kry. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)
Bronne:
‘Moringa oleifera’ (2021). Wikipedia. Beskikbaar by https://en.wikipedia.org/wiki/Moringa_oleifera (Webskakel op 26 Julie 2021 besoek)
‘Moringa – miracle medicine’ (2021). South Africa Online. Beskikbaar by https://southafrica.co.za/moringa-miracle-medicine.html (Webskakel op 26 Julie 2021 besoek)