DINK GRÓÓT

Owl’s Rest Olive and Lavendar Farm

Laventel, roosmaryn en roos is drie aromas wat bekend is vir hulle vermoë om mens te laat ontspan. Jy kan jou dus net indink hoe rustig en luuks die atmosfeer by Owl’s Rest is. Vanaf die oomblik wanneer jy op die plaas aankom, word jy begroet deur ’n gevoel van rus en vrede … boonop die heerlike geur van vars kruie en blomme, ’n reuk wat verseker nie op elke plaas hang nie.

Geleë in die Robertson-omgewing, vier hierdie nisboerdery vanjaar hul 10-jarige bestaan. Hedley en Patricia Manicom het Owl’s Rest in 2016 oorgeneem. Destyds was dit reeds ’n klein maar indrukwekkende onderneming, en die Manicom-gesin het die potensiaal raakgesien om dit verder uit te bou. Vandag is Owl’s Rest ‘n lieflike oase vir toeriste sowel as die plaaslike gemeenskap.

Owl’s Rest is ’n veelsydige nisboerdery. Hul hooffokus is tans laventel, roosmaryn en rose, wat met die hand geoes en stoomgedistilleer word om essensiële olies en ander produkte te vervaardig. Maar dit is nie al nie. Hulle spog ook met ’n heerlike reeks olyfprodukte en olies, asook verskeie interessante ingelegde produkte. As iets lyk asof dit ingelê kan word, sal hulle dit probeer! Die suksesverhale word dan omskep in produkte wat deur die publiek geniet kan word.

Hulle het ook onlangs begin eksperimenteer met verskeie kruiestroopsoorte wat gebruik kan word om heerlike drankies te maak. Ideaal vir die lang, warm somerdae van die Robertson-vallei, is dit maklik om te verstaan waarom hierdie produkte so gewild is.

Dit is duidelik dat die Manicom-gesin ‘n sterk liefde vir die Robertson-omgewing en sy mense koester. Die werknemers op die plaas het almal in die area grootgeword en ken die landskap goed. Elkeen bring sy unieke kennis na die tafel en help om nuwe idees en produkte te ontwikkel. 

Dit is werklik ‘n verhaal van kreatiwiteit, klein beginne en ‘n liefde vir die natuur. As jy jouself dus ooit op die R62 tussen Robertson en Ashton bevind, maak gerus ’n draai by Owl’s Rest. Maak net seker daar is genoeg plek in die kar want jy gaan nie die heerlike produkte kan weerstaan nie.

Vir meer inligting, volg @owlsproductsza op sosialemedia, besoek https://owlsproducts.co.za/home/ , skryf aan owlsrestza@gmail.com of bel 023 626 1284 / 082 326 9525 / 082 497 9329.

  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.