DINK GRÓÓT

Overberg Honey Company – waar eienaars en werkers ewe hard woel

Kyk jy na die magdom keurheuning- en heuningverwante produkte van Overberg Honey Company, is dit maklik om te verstaan waar die eienaars, Daniel en Nadia Vorster, se inspirasie vandaan kom … vanaf die ongekende ywer van hul duisende “werkers”, natuurlik!

Want binne net meer as 12 jaar het dié egpaar ’n onderneming opgebou met afsetpunte in Stanford, Hermanus en Elgin met sy heuningverwerkingsaanleg, asook met ’n aanlyn verkoopdiens wat landwyd aflewer. Dit sluit in suiwer heuning, eetgoed, die HoneySuckle reeks skoonheidsprodukte vir mans en vroue, kerse en ander geskenke, sowel as beskermende kleredrag en toerusting vir byeboere.

Alles het begin toe hulle studente op Potchefstroom was en Nadia haar vriend op ’n dag saamnooi huis toe waar Daniel onmiddellik belang gestel het in die doen en late van die man wat later sy skoonpa sou word. Nadia se pa is ’n kommersiële byeboer en die twee mans se laatnaggesprekke oor die potensiaal van ’n byeboerdery het Daniel se nuuskierigheid geprikkel.

Dis egter eers ’n paar jaar later dat dié belangstelling in ’n lewenstyl en winsgewende, volhoubare loopbaan ontwikkel het. Daniel en Nadia het ná hul universiteitsopleiding in Taiwan Engels gaan gee en dis hier, met die groot afstand huis toe, dat hulle genoeg dinktyd oor hul toekoms tot hul beskikking gehad het. 

Terug in Suid-Afrika het hulle Kanada toe vertrek om daar meer oor byeboerdery te gaan leer. Daniel vertel: “Ons het binne ’n paar maande meer te wete gekom oor hoe om kommersieel met bye te boer. Daarna het ons ’n bietjie by my skoonpa gewerk, en toe ’n byeonderneming in Kleinmond in die mark kom, het ons dit oorgeneem.”

Weer eens was die twee jongmense nie bang om die langpad te vat en ’n nuwe omgewing aan te durf nie, en in 2010 het hulle die Overberg hul tuiste gemaak. “En hier is ons nog steeds,” sê Nadia.

Hul byekorwe is redelik wyd oor die Wes-Kaap versprei, volgens Daniel. “Ons hou die korwe aan op dele van plase waar die boere nie noodwendig gereeld kom nie. Daarby sorg ons dat die bye naby blomme is waarvan hulle hou, soos dié van bloekombome, fynbos, kanola, lusern en so aan.” Die blomme se nektar en die stuifmeel is die voedsel wat, met die hulp van die natuur, die oorsprong is van heuning van verskillende geure en smake, als te danke aan die diversiteit en uniekheid van verskillende streke met uiteenlopende plantegroei. 

Die Vorsters het deur die jare geleer watter geure gewild is – en dat selfs die aard van die lug waar die korwe staan ’n invloed het op die smaak van heuning.

“Daar is verskriklik baie soorte heuning,” sê Daniel. “Suid-Afrika self is baie gediversifiseer wat tipes heuning en interessante smake betref. Die geur van heuning is direk verbind met die blomme waarop die bye voed.” 

Hulle eksperimenteer dus graag, “soms met ’n bietjie meer van dié smaak, dan weer met ’n bietjie meer van ’n ander. Elke liewe blom se nektar proe anders. So het bloekomheuning byvoorbeeld ’n baie unieke smaak, net soos fynbosheuning, uieheuning, akasiaheuning en sitrusheuning. Hulle almal proe totaal en al verskillend, volgens die bepaalde nektar wat deur die blomme afgeskei word.”

Nog ’n interessantheid is dat droër gebiede lei tot ’n dikker, stroperiger heuning. “En naby aan die see tel jy soms ’n effense souterige smaak in die heuning op.”

“Al die produkte in ons winkel het heuning in, of is ’n neweproduk van bye of heuning. So maak ons rome, velrome en kerse met byewas, en ons sit dit ook in lipsalf. Die byewas bevat propolis, of byebrood, ’n natuurlike antibiotika wat bye vir ons gee om siektes en infeksies te beveg. Natuurlik kan jy ook die lekkerste bier en wyn van heuning maak. Die geleenthede en moontlikhede is oneindig,” vertel Nadia.

Daniel sê een van die grootste uitdagings vorentoe gaan wees om staanplekke vir die byekorwe te vind omdat die voedselbronne vir bye besig is om uitgeput te raak. “Deesdae word taamlik baie bloekombome uitgekap, veral deur Werk vir Water wat dink sekere soorte bome absorbeer te veel ondergrondse water. Die moeilikheid is dat die bye baie afhanklik is van dié bome waarvan daar so ontslae geraak word. Ons volgende projek is dus om nuwe bome aan te plant om genoeg kos vir ons bye te hê; ook om ’n toekoms te kan verseker vir ons bedryf en ons besigheid. Dit is iets wat so lank as moontlik voortgesit moet word.”

As die natuur jou werkgewer is, is dit vir jou as entrepreneur nodig om altyd na jou “baas” te luister, meen Daniel. “Om sukses te kan behaal, is die eerste ding wat jy moet verstaan hoe afhanklik jy van die natuur is. Jy moet gereed wees om die slegte jare te hanteer om die goeie jare te waardeer.”

Jy hoef nie alleen aan te sukkel as jy onseker is nie. “Praat met ervare mense in jou bedryf, mense met kennis en ervaring, wat al die belangrike lesse geleer en toegepas het. Maar jy moet wíl leer. Dis nie nodig dat jy dieselfde lesse óór leer of dieselfde foute maak as wat ander entrepreneurs gemaak het nie. Doen jou marknavorsing deeglik. Vergelyk pryse. En bepaal vooraf of dit wat jy gaan en wil doen lewensvatbaar gaan wees. 

“In die geval van byeboerdery spesifiek is dit baie belangrik om goeie staanplekke te hê vir jou byekorwe. Maak seker van die aard van die blomme daar naby. En onthou, sekere gebiede kan net ’n sekere aantal korwe aanhou. Jy kan ’n omgewing baie maklik oorbewei en uitput – dan kan niemand enige heuning oes nie. In watter deel van die land jy jou ook al bevind, gesels met die mense in jou omgewing wat in jou bedryf werk en wat sukses behaal het.”

Besoek overberghoney.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.