DINK GRÓÓT

Oeroue kaasmaaktegnieke met merkwaardige opbrengste in moderne tye

Kaasproduksie in Nederland dateer so ver terug as 80 v.C., toe Julius Caesar daarna verwys het in sy boek Bellum Gallicum, en tot en met die 19de eeu is die meeste van die kaas in Holland op melkplase self vervaardig. 

Hierdie oeroue kaasmaaktegnieke kan nog gesien word by die gewilde Van Gaalen Kaasmakerij in Skeerpoort, aan die voet van die Magaliesberge. Annelies van Gaalen en haar familie koop nou wel hul melk by ander boere aan, maar hul kaas word steeds op die eg Hollandse manier gemaak.

Gelukkig het hulle eerstehandse ervaring, aangesien hulle oorspronklik van Holland kom. Vandat die familieplaas in 1994 in Suid-Afrika gevestig is, het die Van Gaalens egter nie net suksesvol in die vraag in die kaasmark begin voorsien nie; hulle het ook uit ander aspekte van kaasmaak geld begin maak.

Hulle bied byvoorbeeld twee maal ’n week kaastoere aan, waartydens mense op ’n informele wyse kan kom leer presies hoe kaas gemaak word, vanaf melk tot eindproduk. Die Van Gaalen Kaasmakerij konsentreer hoofsaaklik op gouda, wat een van die gewildste Hollandse kase is en in groot aanvraag is dwars oor die wêreld.

Onlangse studies het getoon dat gouda ook toevallig een van die top-vyf gewilde kase onder Suid-Afrikaners is, saam met cheddar, mozzarella, maaskaas en fetakaas. Indien jy wonder of jy ook jou hand aan kaasmaak moet begin waag, kan ons ’n paar redes verstrek waarom dit die moeite werd is om te oorweeg. 

Eerstens is die Suid-Afrikaanse kaasmark werklik groot. Teen 2020 was die geskatte waarde R15 231 miljard en was die verwagting dat die mark sal bly groei teen ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 7%. Dié syfers is gegrond op sowel die plaaslike as internasionale vraag. Plaaslik eet minstens 50% van ons bevolking kaas en volgens ’n internasionale markoorsig wat in Julie 2022 gepubliseer is, het ons kaasuitvoere sowat $38.7 miljoen beloop.

Dienooreenkomstig is Suid-Afrika tans die 47ste grootste kaasuitvoerder in die wêreld, en die meeste van ons kaas word uitgevoer na lande soos Namibië ($11.5 miljoen), Botswana ($5.72 miljoen), Mosambiek ($4.98 miljoen), Saoedi-Arabië ($3.59 miljoen) en Zambië ($3.1 miljoen).

Noudat ons bevestig het dat daar wel ’n mark vir kaas is, wonder jy tien teen een watse tipe belegging nodig sal wees om kaas te begin maak. Wel, daar is verskillende maniere waarop jy te werk kan gaan en verskillende opinies hieroor, soos dié van dr. Faith Nyamakwere van die Departement Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch.

Dr. Nyamakwere het onlangs haar doktorsgraad in Dierewetenskappe by die Fakulteit van Landbouwetenskappe ontvang vir haar navorsing oor hoe kleinskaalse boere hul eie ambagskaasmaakbesighede kan begin. Volgens haar kan boere met ’n paar koeie en die nodige spasie ’n kaasmaakonderneming vir so R24 000 vestig. 

Wanneer ’n mens egter kyk na wat voorste kaasmakers soos die Van Gaalens bereik het, het jy nie eens ’n paar koeie nodig om kaas te begin maak nie, want jy kan sommer jou melk by ander boere of verskaffers aankoop. Inderwaarheid stem die meeste van die nisboere wat tot dusver ons paadjies gekruis het eintlik saam dat jy eerder aanvanklik op ’n klein skaal met iets nuuts soos dié moet begin.

Sό stel jy jouself staat om eers soveel as moontlik oor die bedryf te leer en jou risiko’s te beperk voordat jy groot geld begin uithaal. Die meeste nisboere stem ook oor die volgende saam: “Al begin jy klein, begin net.” ’n Goeie begin sal dalk wees om so ’n bietjie eerstehandse kennis op te doen deur ’n kaastoer by die Van Gaalen Kaasmakerij te bespreek: https://www.vangaalen.co.za/book-online

Volg @Nisboere op Facebook vir meer vindingryke idees van ander nisboere en om jou eie storie met ons te deel.