DINK GRÓÓT

Nie koud genoeg vir wyndruiwe nie is dalk warm genoeg vir tafeldruiwe en rosyntjies

Suid-Afrikaanse tafeldruiwe en rosyntjies word as van die beste ter wêreld beskou. Gevolglik groei hierdie bedryf met rasse skrede, lewer dit ’n noemenswaardige bydrae tot ons ekonomie en skep dit derduisende werksgeleenthede.

Wat tafeldruiwe betref, is Suid-Afrika tans die derde grootste produsent in die Suidelike Halfrond, naas Chili en Peru, en die negende grootste produsent en vyfde grootste uitvoerder in die wêreld. Laasgenoemde word gestaaf deur ons uitvoersyfers wat volgens die jongste beramings in die 2022/2023-seisoen so 63.6 miljoen kartonne van 4.5 kilogram elk sal beloop.

Alhoewel dit oor die algemeen as ’n ontwikkelende bedryf beskou word, is ons rosyntjiebedryf ook uiters produktief. Net in die jongste finansiële jaar het dit ’n bydrae van ongeveer R2 miljard tot ons ekonomie gemaak en sowat 30 000 werksgeleenthede dwarsoor die land geskep.

Anders as wyndruiwe groei tafeldruiwe sowel as rosyntjiedruiwe ook nie noodwendig nét in die kouer dele van ons land nie – om die waarheid te sê, Suid-Afrika het vyf hoofproduksiegebiede. Die vroegste produksiestreek is in die noordelike provinsies Mpumalanga en Limpopo, waar die oes in November begin. Teen middel November begin die oes al langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap en teen middel Desember begin dit weer in die Olifantsriviervallei. 

Van daar af beweeg produksie na die Hexriviervallei waar die oestyd tot middel April duur. ’n Waardevolle gevolgtrekking wat ’n mens hieruit kan maak, is dat tafeldruiwe en rosyntjiedruiwe nie net suksesvol verbou kan word in enige gematigde tot Mediterreense klimaatstoestande nie, maar ook in die warmste dorre dele soos Kakamas aan die oewer van die Oranjerivier.

Trouens, danksy besproeiing uit die rivier staan boere van die Kakamas-omgewing vandag bekend as prima rosyntjieprodusente en uitvoerders van tafeldruiwe na Europa en Engeland. Nisboere het onlangs juis by een van hierdie boere, Pieter Dykman van Triple D, gaan inloer. Dit is ’n indrukwekkende plaas van ongeveer 350 hektaar waarop hulle al hul produkte self verbou, verpak en bemark. 

Pieter sê hulle het aanvanklik in 1995 op ’n heelwat kleiner skaal begin boer; eers met tafeldruiwe, toe met rosyntjies en later jare ook met pekanneute. Vandag, byna 30 jaar later, is dit ’n volwaardige kommersiële boerdery met ’n permanente personeel van so 150 en bykans 1 000 seisoenale werkers, soos wat die seisoen vorder. 

Ongeveer 170 hektaar van hul grond word vir tafeldruiwe aangewend, 80 hektaar vir rosyntjies en 100 hektaar vir pekanneute. Daar is heelwat verskillende kultivars in Suid-Afrika, maar die pitlose variante raak al hoe gewilder. Vir dié rede verbou Triple D hoofsaaklik rooi, wit en swart pitlose kultivars. 

’n Verskeidenheid van kultivars het die bykomende voordeel dat jy jou gewasse doelbewus só kan plant dat jy jou seisoen vir so lank as moontlik kan rek. Pieter sê diegene wat dié bedryf wil betree, moet in aanmerking neem dat, hoewel daar groot potensiaal is, dit ’n baie mededingende mark is weens ’n algehele toename in insetkostes en produksie wêreldwyd.

Volgens hom is skaal dus uiters belangrik, sowel as ’n onwrikbare benadering tot gesonde besigheidsbeginsels. Indien die tafeldruifgogga jou ook nou gebyt het, besoek gerus die SATI-webwerf oftewel die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie by www.satgi.co.za as ’n waardevolle bron van inligting, studies en statistieke. Vir ’n vinnige oorsig oor plaaslike rosyntjieproduksiegebiede en -kultivars, klik hier

Volg @Nisboere op Facebook vir meer nisboerdery-idees.