Selfversorging, ’n passie vir die omgewing en ’n gesonde leefstyl was deel van Manti Maifadi se lewensuitkyk so lank as wat sy kan onthou. Dat haar sienswyse ook dié van haar drie kinders sou word, was dus voor die hand liggend.
Dit was egter eers met die geboorte van haar jongste dat sy besluit het om dít alles in ’n kinderboek vas te vang – dit sou haar nalatenskap aan haar nageslag wees, vertel sy.
Veertien jaar later is hierdie passie en omgee veel méér as net ’n kinderboek … haar vasbeslotenheid om ’n heilsame waardestelsel vir haar gesin te vestig het gelei tot die praktiese uitleef van dié gesindheid op hul eie plasie in Centurion.
Vandag is Naledi Farm in die buurt Laezonia die versinnebeelding van die lewenskeuses van die karakters in haar boek, Tshimong Ya Meroho Le Naledi (In The Vegetable Garden With Naledi), oorspronklik geskryf in Sesotho. Dié keuses is onder meer eenheid met die aarde en die natuur, ’n vredevolle bestaan van uitreik en omgee, en om ’n selfversorgende en volhoubare bestaan te skep wat ’n voorbeeld vir die gemeenskap kan wees.
Toe Manti en haar man, Sam, dié plasie digby Die Wieg van die Mensdom in 2014/2015 gekoop het, “het ons geweet dat hierdie eiendom vir ons die perfekte geleentheid sou bied om ons passie en ons drome uit te leef. Ons kon ’n fisieke ruimte skep om prakties die beginsels uit te leef wat my kinderboek probeer tuisbring.
“Deur die tweejarige hoofkaraktertjie, Naledi, het ek by kinders ’n groter bewustheid van die omgewing ingeskerp … ook hoe om pret in die buitelug te hê en om gesonde eetgewoontes aan te leer. Op ons plasie is ons oortuig daarvan dat ons stukkie grond ’n tuiste moet wees waar mense by die natuur kan leer en ons eiendom as ’n toevlugsoord ervaar.”
Vir die egpaar is ’n ongekompliseerde leefstyl belangrik. “Naledi Farm is ’n ruimte vir rustigheid en ontspanning. Dis ’n plek waar kinders leer om skeppend te wees en hul hande te gebruik.”
Naledi Farm het binne ’n relatief kort tydjie ’n bekende heenkome vir agritoerisme geword … nie net sodat stedelinge ’n egte plaaslewe in hul midde kan ervaar nie, maar ook self kan sien hoe kos vir tuisverbruik gekweek word; ook hoe waardevol ’n leefstyl kan wees waar jy na aan die natuur leef. Gereelde werkswinkels oor die waarde van en respek vir die natuur word dus gereeld hier aangebied.
Die Maifadi’s hou ook hoenders, ganse en eende aan, selfs ’n paar skape “waarvan sommige nou al name het,” lag Manti. “Dis egter die groentetuin wat die grootste aantrekkingskrag is. Dis waar ons groentes soos spinasie, beet, kool, wortels, aartappels, pampoen, tamaties en artisjokke kweek … maar jy sal ook waatlemoen en spanspek hier aantref; selfs sonneblomme!” vertel sy trots. Die plante word in topkondisie gehou deur kraalmis en tuisgemaakte kompos, “sonder enige plaagdoders of ander chemikalieë. Elke jaar word die groente in ander beddings geplant om siektes te voorkom en die grond toe te laat om te vernuwe.”
Manti sê die ander geheim om plae te voorkom is om blomme soos Afrikaners, Afrika-madeliefies, kappertjies en tulbaghias oftewel wildeknoffel, sowel as ’n wye verskeidenheid kruie tussen die groene te plant. “Dis nie net aantreklik nie, maar hierdie plante hou sekere skadelike insekte weg en trek dié aan wat vir die groente voordelig is. Oor die jare het ons gesien hoedat meer en meer skoenlappers en voëls na die plaas gelok word.”
Om te dink hulle plaasgroentetuin het sy ontstaan gehad in ’n kinderboek-groentetuin wat lesertjies meer oor selfversorging en natuurbewaring leer, bly vir haar en Sam ’n wonder. “Die idee vir die verhaal het sy ontstaan gehad in my eie grootwordjare in QwaQwa. Ons was nie ’n welgestelde gesin nie, maar het altyd genoeg gehad om te eet. Dis daar waar my liefde vir die natuur gekweek is, want my ouers het my geleer waar kos vandaan kom. Nadat ek my boek in 2012 self gepubliseer het, het ’n begeerte in my ontstaan om die verhaal ’n werklikheid te maak. Ek wou ’n tuin skep waarheen mense kan kom, waar hulle tussen die plante kan rondloop, waar kinders die wonder van plante en hul kweek- en groeiproses kan aanleer. My en Sam se soektog na ’n gepaste stukkie grond het begin, en ons was gelukkig genoeg om op hierdie juweel af te kom.”
Op Naledi Farm het hul eie drie kinders nie net eerstehands geleer hoe lyk ’n wortel of aartappel wanneer dit vars uit die grond kom nie, maar dit het ’n informele leerskool geword vir ander stadskinders wat groente en vrugte net op die rakke van winkels leer ken.
“Ons fokus nie juis op lewende hawe nie; tog hou die diere die plasie lewendig. Ons prioriteit is ons groentetuin. Ons maak seker dat ons dit bied wat in seisoen is, dit wat plaaslik die beste groei. Ons is gesteld op inheemse groente- en vrugtesoorte, en ons sorg dat ons hele kweekproses organies is. Ons werk sáám met die natuur.”
’n Organiese landboubenadering is vir Manti en Sam van die grootste belang. “Dit wat in die grond of op plante kom, eindig altyd in ons liggame. Ons wil die gemoedsrus hê dat elke maaltyd wat uit ons tuin kom, veilig is vir die kleinste kindjie. Wat jy hier pluk, kan jy maar weet is goed vir jou liggaam én jou gesondheid.”
Manti vertel dat hulle nou tien jaar op Naledi Farm is, maar eers ná ongeveer twee jaar se woel en werskaf in 2017 besef het hulle is nou ook gereed om hul tuiste vir besoekers oop te gooi. “Ons het toe ’n program begin wat ons The Harvest Table noem. Dit val saam met die gewilde plaastoere, waar stadsmense deur die groentetuin begelei word om te sien waar die kos vandaan kom wat hulle gewoonlik net op winkelrakke sien.
“Ons gaan saam met ons besoekers tuin toe, pluk saam groente en maak dit saam gaar. Ons nooi ook dikwels ’n spreker uit wat met ons kom gesels oor sy of haar passie vir gesondheid en goeie kos. Daarna sit ons saam met ons gaste aan by ’n langtafel – ons bied ons besoekers dus ’n vol dag. Dit doen ons een keer per maand.”
Manti sê die idees vir die meeste van die programme wat Naledi Farm aanbied, het juis aan tafel tydens The Harvest Table-byeenkomste ontstaan, want dis waar die beste netwerkgeleenthede geskep word. Hier verwys sy na die programme Naledi Farm Kids, Naledi Farm School, The Market @ Naledi Farm, Naledi Farm Food Gardens en Naledi Farm Potjie Day. Dit alles sluit dus in ’n egte plaasrestaurant, konsultasies en wenke oor voedselverbouingstuine, konferensiegeleenthede, kampe vir kinders, skooluitstappies en natuurlik agritoerisme.
“Die Naledi Potjie Day vind byvoorbeeld een keer per jaar plaas, waar vriende, familie en vennote bymekaarkom om geld in te samel vir ’n maatskaplike kwessie wat deur ons geïdentifiseer is. Verskillende kokke neem dan deel aan ’n potjiekompetisie, waar elke potjie minstens vyf mense moet kan voed.”
Daar is geen ander plek op aarde wat hulle liewer ’n tuiste sal noem as hierdie stukkie grond wat hulle tot ’n landboubestemming vir hulself en die gemeenskap ontwikkel het nie, sê Manti. “Ons noem dit ‘huis’. Hier het ons geleer as jy sorg vir die omgewing, vir die grond en die water, sorg jy ook vir jouself. Dit is ook hoe ons vir volgende generasies sorg.”
Haar raad aan jongmense – of enigiemand wat wil boer – is om van die begin af te besef dis nie ’n maklike beroepskeuse nie. “As jy lui is, vergeet hiervan. Harde werk, geduld en passie is belangrik. Moet ook nie daarvan droom om oor ’n afstand te probeer boer nie – jy moet dáár wees, byderhand. Ons het die afgelope tien jaar baie lesse geleer, sommige baie duur lesse. Die bevrediging wat ons egter uit ons lewenskeuse put, sal ons vir niks verruil nie.”
- Volg @Naledi Farm op sosialemedia. Besoek www.naledifarm.co.za vir meer inligting. Bel of WhatsApp 082 800 2327 of skryf aan bookings@naledifarm.co.za om jou besoek te reël.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za