DINK GRÓÓT

’n Vyeparadys waar tyd stilstaan

In die hartjie van die Groot-Karoo, in ’n asemrowende kloof in die Swartbergreeks, lê die plaas Weltevrede, een van Suid-Afrika se heel oudste vyeplase. Vir die gesin De Klerk is dit ’n tuiste waarop hulle ’n uitsonderlike produk verbou en verwerk om aan ’n fynproewersmark te lewer. Die afgelope jare het hulle ook hul plaas as vakansiebestemming oopgestel, met vyf gastehuise vir besoekers wat op soek is na stilte, rus en ’n natuurskoon sonder gelyke.

Jaco en Liezl is die sesde geslag van hul familie wat hier woon en woeker, nadat die plaas in 1853 geproklameer is en aanvanklik hoofsaaklik as sagtevrugtedroogplaas bedryf is. Geleidelik is daar van perskes en appelkose afgesien, en het die familie slegs met vye begin boer. Tans lewer Weltevrede se 2 000 bome genoeg vars vye wat in seisoen meestal aan Woolworths verskaf word. Sy gedroogde vye, ingelegde vye en konfyte word regdeur die jaar landwyd na delikatessewinkels en padstalle versprei.

Liezl vertel dat die gewilde groot, pers Adamsvy die variëteit is wat vars verpak word vir winkels. Dit word ook gedroog en dan tot verskillende lekkernye verwerk. Die Kaapse bruinvy is weer perfek vir gebottelde groenvye.

Sy is passievol oor hierdie stuk grond, weggesteek en afgeslote, maar knus teen een van die land se indrukwekkendste bergreekse. Op Weltevrede word dinge anders gedoen en moet jy nie staat maak op gewone luukses soos Eskom-elektrisiteit en ’n sterk selfoonsein nie.

“Waarom vye?” is ’n vraag wat Liezl en Jaco dikwels moet beantwoord. 

“Ons maak gebruik van ’n leiwaterstelsel. Op al die ou plase in die gebied, almal langs die waterstrome, word reeds jare lank met granate, vye en perskes geboer. My oupa-hulle het destyds begin om vye, appelkose en perskes vir die Suid-Afrikaanse Droëvrugteraad te droog. Toe my pa begin boer, het hy gesien die vye doen regtig goed hier. Hy het toe die appelkoos- en perskebome uitgehaal en met die vye aangegaan, ook met ’n paar volstruise. Hy het al hoe meer Adamsvye begin byplant vir die produksie van droëvye. Ongeveer 20 jaar gelede het Weltevrede toe ook vars vye aan Woolworths begin lewer.” 

Die Adamsvy sowel as die Kaapse bruinvy is “ou” variëteite, vertel Liezl. Soeter, smaakliker en sappiger kry jy nie, maar die raklewe is kort. Jy moet dus jou storie ken wat verpakking en verspreiding betref. “Die Adamsvy is ewe geskik vir droëvyprodukte, nie net as vars vrug vir winkels nie. Die Kaapse bruinvy maak ’n heerlike ingelegde groenvy, plus ’n hele klomp ander neweprodukte. Dit was in 2008 dat ons begin het om die konfyte te maak.”

’n Vyeboom dra twee keer per jaar, volgens haar. Net so voor Kersfees word die voorvye geoes, wat gebruik word vir die groenvye in ’n stroop. Dan is daar die drie maande lange hoofseisoen, van einde Januarie tot einde April. “Dis ’n redelik lang oestyd. Teen die einde van die oestyd is almal maar taamlik moeg.”

Hierdie harde werk is egter alles die moeite werd, as sy dink hoe die gesin en plaaswerkers elke jaar met groot afwagting uitsien na daardie eerste piepklein vytjies, weggesteek onder die voorste groot blare, vertel Liezl. “In die voorseisoen, vandat die eerste vytjie sy verskyning maak, neem dit so drie weke voordat ons die groenvye begin kook.” 

Tydens die hoofseisoen is Weltevrede ’n miernes van bedrywighede. Plukkers moet elke dag se oes met sorg afhaal, omdat dit ’n sensitiewe produk is wat nooit oorryp aan die boom mag word nie. Die volgende stap is die pakstoor, waar die varses uitgepak word. “Alles wat oorbly, gaan na die droogbaan, en wat hier uitval, is perfek vir konfyt kook – veral daardie vye wat te ryp geword het om te droog.”

’n Belangrike beginsel van Weltevrede se vyeproduksie is dat niks gemors word nie, van vars tot gedroog tot konfyt. “As daar dan regtig iets oorbly, word dit vir dierekos benut.”

Die De Klerks se droogmetode is presies soos dié van vorige geslagte. “Ons droog ons vye net soos my ouma-hulle, op die tradisionele manier. Deesdae verwerk ons dit tot twee tipes, geswael en ongeswael.” 

Daar is twee weergawes van droëvye vir die kopersmark. In Weltevrede se keurige verpakkings is heles en halwes waaruit jy kan kies. “Die halwes is vye wat ons net deursny en op ’n houtstellasie in die son droog. Die heles word eers afgeskil voordat dit gedroog word.” Liezl vertel dat jy ver sal moet soek om vroue te kry wat so vaardig en vinnig met ’n mes kan werk om die sagte velletjie af te trek. “Jy kan nie glo hóé blitsig hulle ’n vy skil nie!” 

Die halwes en heles op die houtstellasies moet elke dag omgedraai word om perfek te droog. “Hierdie proses duur so vyf dae, want elke kant moet genoeg son kry totdat dit droog genoeg is. Wanneer ons tevrede is hiermee, word dit gesorteer en verpak.” 

Die keurige koffie-en-snuisterywinkeltjie op die plaas is ewe gewild onder toeriste as plaaslike inwoners van Prins Albert wat wil wegbreek om die stilte en ongelooflike natuurskoon op te soek. Dis hier waar ’n vye-en-haselneuttertjie of vye-heuning-en-hawermoutkoekie saam met koffie bedien word, en waar jy die mooiste verpakkings met vyeprodukte vir jouself of as geskenke kan aanskaf. Jy kan skaars kies tussen keurige konfyte soos vye-en-aarbei, vye-en-framboos en vye-en-rooiui, of Weltevrede se appelkooskonfyt, kweperjellie, makataankonserf, ingelegde groenvye, vye-en-vanieljestroop vir nagereg, en dan natuurlik olywe, een van die Prins Albert-omgewing se mees gesogte produkte. 

Om te verseker dat ’n plaas met ’n nisproduk soos vye heeljaar volhoubaar is, verg ’n versiende besigheidsplan. Dis waarom die De Klerks hul tweede “produk”, die natuurskoon, inspan om moeë stedelinge na hul vyf gastehuise – De Hoek, Klein De Hoek, Vredenhof, Bo Vredenhof en Fonteinskop – te lok.

“Gaste moet weet hier is geen selfoonsein nie, geen elektrisiteit nie. Ons het nog nooit Eskom-krag gehad nie. Ons is afhanklik net van sonkrag. Ons moes self sorg vir ’n WiFi-toring op die berg. Dis nogal lekker vir gaste om by die koffiewinkel te kom sit en werk, dan weer terug te gaan na die gastehuise waar niemand hulle kan pla nie. Mense kuier lekker hier, weg van alles. Buitelanders besoek Weltevrede merendeels in die warm maande, en Suid-Afrikaners bring sommer die hele gesin, want hier kan die kinders sorgvry in die plaaspaadjies fietsry terwyl die ouers ontspan. Dorpsinwoners span gereeld ’n bietjie hier uit en ry maklik die 25 kilometer hierheen.”

Daarby is die Weltevrede-pad uit Prins Albert ’n gewilde fietsryroete, ook ’n natuurfotograaf se droom. 

“Ons glo dat ons kinders eendag sal aangaan met Weltevrede. Die feit dat ons al ses geslagte hier boer, het vir ons ’n ongelooflike waarde. Jy kan nie geld hieraan koppel nie.”

Weltevrede is vir Jaco en Liezl de Klerk grond wat die nalatenskap van geslagte dra, ’n ruimte wat hulle graag met besoekers en gaste deel. Tyd is dié historiese plaas se grootste belegging. “Ons het hier geleer om geduldig te wees. Jy plant vandag, maar jy is nie noodwendig die een wat gaan oes nie. Net so oes ons produkte wat ons nie noodwendig self geplant het nie. Die grootste waarde lê vir my in die woord ‘getrouheid’. As elkeen op hierdie plaas getrou sy deel doen en vasbyt, sal alles reg loop. Dan het jy ’n volle oes en ’n goeie toekoms.”

Weltevrede Fig and Guest Farm, Weltevrede-pad, Prins Albert.

figfarm.co.za

Tel. 087 095 6229

Skryf aan weltevrede@figfarm.co.za vir inligting of ’n toer van die plaas. 

Volg @Weltevrede Fig and Guest Farm en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.