Vir die De Swardts van die wildsplaas Ubhejane Wildlife naby Bela-Bela in die noorde van die land is daar niks so sierlik en statig as die diere wat hulle hier aanhou nie – wild soos buffels, swartwitpense, koedoes, ’n paar njalas, springbokke, sebras, kameelperde, volstruise en selfs ’n seekoei of twee. En as jy mooi kyk, sal jy ook hase en skilpaaie opmerk!
Sedert die gesin in 2000 met hul wildteelprogram hier begin het, het hulle nog altyd gesorg dat die onderneming nie net groei en vooruitgaan nie, maar bly aanpas by die bedryf en by die behoeftes van die plaaslike en internasionale toerismebedryf.
Dis waarom Anton de Swardt en sy vrou, Sally, enkele jare gelede ook ’n teelprogram ontwikkel het vir “die majestieuse en asemrowende” Ankole-beeste wat deesdae sáám met die wild op die plaas rondbeweeg, sê Anton. Die De Swardts se Ankole-stoet is aanvanklik aangekoop uit die oorspronklike Ntaba- en Nyoni-kudde van die Lumarie-wildsplaas, met die doel om te fokus op die bruin en bruingespikkelde voorkoms van dié beeste wat nou deel is van die trotse Ubhejane-kudde.
Hulle het die Ankole-teelprogram begin omdat hulle gevoel het dis ’n natuurlike toevoeging tot die wild op die plaas. “Daar is geen konflik tussen die Ankoles en die wilde diere nie. Die beeste loop gemaklik tussen buffels, swartwitpense en njalas, en het sonder sukkel in hierdie ekosisteem aangepas.”
Op Ubhejane is daar tans sowat 70 buffels waarvan die eerstes in 2008 aangekoop is. Die swartwitpense is geteel uit bulle van verskillende bloedlyne, en die sierlike koedoes kom ook uit fyn uitgesoekte bloedlyne.
“Ons het ons klein stukkie van Afrika in 2000 op hierdie stuk grond begin. Aan die begin was ons enigste doelwit om ’n juweel van ons eie buite die stad te hê. Dit het alles in 2007 verander, toe ek die geleentheid gesien het om ’n werkende teelplaas te ontwikkel en met teelprojekte te begin. Ons filosofie is om kwaliteitdiere te identifiseer en aan te koop, en dan hierop te bly verbeter. So het ons behalwe ons buffel-, swartwitpens-, koedoe- en njalateelprogram ook met Ankoles begin teel omdat ons die waarde van laasgenoemde besef het.”
Anton en Sally maak geen geheim daarvan nie dat Ubhejane hul hartsplek is. “Om met diere te werk, maak ons gelukkig. Ons deel graag ons stukkie hemel met besoekers.”
Die egpaar is passievol oor hul Ankole-teelstoet. “Die voordeel wat hierdie beeste het, is dat dit ’n absolute Afrika-beesras is – hulle is ontsaglik gehard. Ons het hier, in die Bela-Bela-omgewing, omtrent elke moontlike dieresiekte waaraan jy kan dink, ook plae soos bosluise en parasiete. Hierdie beeste is egter bestand teen sulke aanslae, ook teen siektes soos hartwater, rooiwater en galsiekte … dis alles toestande wat ’n groot probleem is onder Europese diere. Ons diere se weerstandigheid is natuurlik die rede waarom mense in ons gebied so graag met wild teel.”
Volgens Anton is daar ’n wesenlike verskil tussen die mark vir wild en dié vir Ankoles. “Ek noem die Ankole altyd die Louis Vuitton van beeste. Dis gesog, veeldoelig, gehard en pas aan in al ons provinsies. Dis ’n bees wat geskik is vir ekstensiewe teelwerk, met ander woorde klein insette van arbeid en kapitaal is nodig relatief tot die grondgebied waarop daar geboer word. Terselfdertyd is dit nie moeilik om met hulle te boer nie. Sommige boere verkies ’n bul by ’n aantal vroulike diere, ander werk weer intensief met embrio’s en kunsmatige inseminasie. Die ras bied jou baie opsies … hóé jy met hulle boer, is jou keuse.”
Ankoles kan op veilings gemaklik bedrae van tussen R500 000 en R1 miljoen losslaan, afhangende van die bloedlyn en die spesifieke vraag daarna. Teelstrooitjies met semen kan tot R80 000 elk haal, want boere is altyd op die uitkyk vir nuwe genetika.
Dis beeste wat uitstekend vaar op marginale veld, binne die baie spesifieke teelprogram wat die De Swardts volg. “Ons produseer ons eie voermengsel hier op die plaas en laat die Ankoles toe om die hele dag in die veld rond te loop. Laatmiddag kry hulle weer ’n aanvulling van die voermengsel wat bestaan uit ’n bietjie gras, ’n bietjie melasse en ’n bietjie lusern. Ons het taamlik ontbossing op die plaas gedoen, wat veldomstandighede bied waarop die beeste floreer. Ek het wel Aries-gras vir hulle aangeplant – dit is ’n grassoort wat uit Suid-Amerika ingevoer is. Dit help oneindig baie met die voergehalte, maar ook om die voerkoste te verminder.
“Wanneer jy ’n teelprogram soos ons s’n volg, doen jy dit baie intensief, want dit is noodsaaklik dat die beeste se kondisie absoluut optimaal is.”
Volgens Anton is Ubhejane besig om ’n skema te ontwikkel volgens die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Beestelersgenootskap, om te sorg vir ’n groter mark vir jong bulle en om te verseker dat hul vleis van topgehalte is. “Daarom is dit so belangrik dat die diere ’n goeie grasinhoud inneem, wat baie aangehelp word deur die Aries-aanplantings.”
Anton en sy span is nou ook besig met ’n tefgras-aanplanting, sodat daar op verskillende tye van die jaar goeie gras vir die diere beskikbaar is.
Een van die grootste aantreklikhede van die Ankole-beesras is sy manjifieke horings – ’n eienskap wat graag op foto’s en in skilderye vasgevang word; ook die bewondering van besoekers afdwing. “Die horings is ’n baie interessante deel van hierdie ras. Mense noem dit dikwels dat dié beeste seker baie sterk nekke moet hê om sulke horings te kan dra. Maar die waarheid is dat die horings glad nie solied is nie. Dit is hol aan die binnekant, met ’n netwerk van are vir bloedvloei. Die hol horings help baie in buitengewoon warm omgewings, soos Uganda wat naby die ewenaar is en waar dit geweldig warm word. Die horings is deel van die diere se termoregulering – ’n meganisme om hulle te help afkoel. In Suid-Afrika is dit nie so ’n groot probleem nie, want ons gaan nie onder dieselfde uiters hoë temperature gebuk nie.”
Vir ernstige Ankole-telers is horinglengte een van die heel belangrikste eienskappe. “Daar is ’n baie belangrike ekotoerisme-komponent aan hierdie beeste. Besoekers aan ons lodge maak altyd melding van hul voorkoms.”
Ankoles is nie volop nie, vertel Anton. “Daar is min in die wêreld. In Suid-Afrika is daar byvoorbeeld net onder die 2 000 geregistreerde volbloed-Ankoles, wat bitter min is. Dit beteken dat daar ’n groot vraag is onder toeriste om hierdie beeste te kom besigtig juis vanweë hul unieke voorkoms.”
Ubhejane gaan volstoom voort met sy teelprogram, sê Anton. “Genetiese diversiteit is belangrik – ons moet sorg dat die beste genetika voortplant. Ons sal natuurlik altyd graag ’n groter groep beeste wil hê waarmee ons kan teel. Intussen is ons baie trots op die jong bul wat ons op die oomblik gebruik. Ek glo hy gaan ’n monsterbul raak in hierdie proses.”
Daar is geen twyfel nie dat daar ’n groot toekoms is vir Ankole-teling in Suid-Afrika, juis omdat dit so ’n gesogte, sierlike, waardevolle bees is. Die Suid-Afrikaanse Ankole-telersgenootskap hou ’n ogie oor programme en het ’n eie grondwet waaraan telers streng moet voldoen.
As voorsitter van die genootskap is Anton se kundigheid en ervaring van onskatbare waarde vir die Suid-Afrikaanse bedryf.
- Volg @Ubhejane Wildlife op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.ubhejanewildlife.co.za of skryf aan Sally by sally@blazing.co.za of Anton by anton@deswardt.co.za
- Doen navraag by die Ankole-telersgenootskap by admin@ankolesa.org.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za