Dit bly een van die mooiste lede van die diereryk, hierdie eienaardige, fassinerende diertjies wat – so lyk dit – al hoe skaarser word.
Dis egter nie ’n spesie wat hoef uit te sterf nie … nie as jou naam Robin Saunders is en jy al van jou kinderdae af ’n passie het vir verkleurmannetjies, oftewel die trapsuutjies, nie.
Robin en sy vrou, Margot, het die Strand Cape Dwarf Chameleon Sanctuary op die been gebring juis omdat, soos hy sê, “ek al hoe minder van hulle in die natuur sien. Dis ’n unieke dier wat vir die nageslag bewaar moet word.”
Die Wes-Kaap, veral die omgewing rondom Kaapstad, is die natuurlike habitat van die dwergverkleurmannetjie (Bradypodion pumilum), wat dit vir die Saunders-gesin maklik maak om hierdie mooi toevlugsoord vir dié fyn, kwesbare diertjies te kon skep. Daar is wel sekere spesies wat in Namibië voorkom, terwyl Madagaskar bekend is vir sy eie buitengewoon mooies.
“Dis ’n liefde en belangstelling wat deur my pa by my ingeskerp is. Dit alles het in my kinderdae begin. My pa sou, wanneer ons iewers heen gery het, die kar doodstop as hy ’n trapsuutjie die pad sien kruis, net om sy lewe te spaar. Hy sou die diertjie optel en iewers in die natuur gaan neersit.” En dís waar Robin se sagte plek en passie vir en fassinering met hierdie klein skubreptiel ontstaan het.
“Later, toe ek my eie huis gekoop het, sien ek eendag een hom buite op ’n telefoondraad balanseer. Ek het ’n stok gevat waaraan ’n takkie vasgemaak was en hom afgehaal. Net daar, by ons heel eerste huis, het verkleurmannetjies weer deel van my lewe geraak.” Margot het kort daarna een in ’n vrugteboom gekry, “en dis hoe die toevlugsoord begin het”.
Om die diertjies aan te hou, moes Robin egter ’n permit van Suid-Afrikaanse Natuurbewaring kry wat uitgereik is om hom te magtig om die dwergverkleurmannetjie te teel, met die uitsluitlike doel om dit weer in die natuur vry te laat. “Ons het tans 37 volwassenes, 35 tieners en in die afgelope weke is 59 kleintjies gebore.”
Dwergverkleurmannetjies is familie van die skubreptiele. Die ouderdom word op by die 60 miljoen jaar geskat. Die meeste kan hul velkleur vir kamoeflering verander, of om hul gemoedstoestand aan ander verkleurmannetjies te toon. “Moenie dink die verskille bly net by die baie kleure vanweë die verskillende plekke waar hulle beweeg nie, maar die verskillende soorte het ook elk hul eie persoonlikheid en gedrag, wat beslis ’n invloed het op hul kleurverandering.”
Lig, hitte, gemoedstoestand soos vrees, uitdaging en kalmte dra alles by tot kleurwisseling deur middel van agt lae “kristalle” – die pigmentstelle oftewel kristalagtige melanofore. Hierdie verandering van die kleur van hul “jas” kan binne ’n paar sekondes gebeur. Dit wissel onder meer van bruin tot donkerbruin, neongroen tot helder turkoois.
Robin vertel die grootste spesies word tot 70 sentimeter lank, maar die gemiddelde lengte is so rondom 14 cm. Hulle gebruik hul stert en tone om te beweeg. Nog buitengewone eienskappe is dat hul oë afsonderlik van mekaar kan draai vir ’n panoramiese gesigsveld van 360 grade. Natuurlik is hul lang, klewerige tong een van die uitsonderlikste kenmerke. Dit kan tot twee keer die diertjie se eie lengte groei en teen ’n blitssnelheid beweeg om ’n smullekker gogga raak te vat – teen die asembenemende spoed van 0 tot 97 km/h binne ’n honderdste van ’n sekonde. Dit, vertel die trapsuutjiekenners, kan nie eens ’n vegvliegtuig hulle nadoen nie! ’n Spesiale spier in die kaak maak hierdie snelbeweging moontlik.
Ná paring begrawe die meeste spesies hul eiers drie tot ses weke daarna in die grond, waar dit ná agt tot nege maande uitbroei – dit kan tot selfs 12 maande duur. Daar is selfs spesies waarvan die kleintjies eers ná 600 dae uitbroei.
Enkele Suider-Afrikaanse spesies is ovovivipaar of eierlewendbarend. Die eiers ontwikkel dus in die wyfie se liggaam en die kleintjies word in ’n deurskynende vlies gebore, waarna hulle onmiddellik selfstandig is. Hulle kan gemiddeld aan sewe tot 17 kleintjies geboorte gee, drie tot vier keer per jaar, tot vier jaar lank, vertel Robin.
“As jy een in jou tuin vind, laat hom in vrede. Hulle drink die dou op die blare. Jy kan hulle help deur water liggies oor die plante te sproei.”
Hul gewildste kossoorte is krieke, kokkerotte, vlieë, wurms en sprinkane. “Stukkies vis wat jy aan bome hang, of afvalstukkies vrugte en groente in blombeddings gestrooi help ook, want dit trek vrugtevlieë en ander insekte aan wat die verkleurmannetjies kan eet.” Dié met die diertjies in hul tuine beveel selfs ’n bietjie gaar mieliepap aan.
Sou jy ’n beseerde trapsuutjie teëkom, laat weet gerus The Strand Dwarf Chameleon Sanctuary via hulle Facebook-blad. “Ons sal jou help, die diertjie by jou kom haal, hom oorneem en met die nodige medikasie versorg,” sê Robin.
Volg @Strand Chameleon Friends en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.