Bromelias het die oog gevang van dr. Chris Myburgh, ’n radioloog van Pretoria, en nou, 30 jaar later, besit hy Fernhaven Kwekery wat landwyd bekend is onder meer vir spesialisering in die grootskaalse kweek en verskaffing van hierdie besonderse uitheemse plant.
So gepraat van “spesialisering”: Dís nou die ware toonbeeld van wat ons ’n “nisboer” sal noem. Jy sien, ’n nisplaas kan geskep word in ’n beknopte ruimte soos ’n dubbelmotorhuis waar sampioene byvoorbeeld op ’n klein skaal verbou kan word. Maar dit kan ook ’n groot plaas wees waar blomme of groente verbou word. Die klem is op spesialisasie of “nis”.
En min dinge kan méér “nis” wees as ’n bromelia, of Bromeliaceae, soos die wetenskaplikes daarna verwys. Die bromelia is ’n familie van eensaadlobbige blomplante van 75 genera en ongeveer 3 590 bekende spesies. Anders as ander plante kry bromelias hul voedingstowwe uit hul blare, nie uit hul wortels nie; in so ’n mate dat sommige selfs op rotse of in bome kan groei.
Oorspronklik het die meeste van die bromeliaspesies in die tropiese en subtropiese Amerikas voorgekom, en daar was slegs een spesie wat jy in tropiese Wes-Afrika kon vind. Vandag lyk die prentjie natuurlik heelwat anders, aangesien daar mense soos Chris en sy span van Fernhaven Kwekery is wat dit begin invoer het en uiters suksesvol in ons eie land begin kweek het.
Om die waarheid te sê, “sonnige Suid-Afrika” het eintlik die perfekte klimaat vir bromelias, aangesien hulle in helder, indirekte sonlig of in sonlig met vlekkies van skaduwee floreer. Aangesien dié plante in groot aanvraag is by mense wat so ’n bietjie van die trope op eie werf wil vestig, betaal hulle enigiets tussen R100 vir ’n klein bromeliaplantjie tot net onder R4 000 vir ’n kleinerige houer met ’n paar plantjies.
Om in die vraag in die mark te kan voorsien het Fernhaven Kwekery ’n spesiale eenheid wat slegs op bromelias fokus en wat van epifitiese miniatuur-bromeliaplante tot groot loofplante verskaf. Indien jou nuuskierigheid teen hierdie tyd al geprikkel is, sal jy ook heelwat advies by Fernhaven Kwekery kan kry oor hoe om jou bromelias gelukkig en gesond te hou.
Dis advies wat Chris op ’n heelwat duurder manier moes bekom, aangesien hy aanvanklik ’n konferensie van die Internasionale Vereniging van Bromelias in New Orleans moes bywoon om kers op te steek by van die wêreld se voorste kenners van dié plant.
Sy aanvanklike belegging in en kennis van bromelias het gelukkig redelik vinnig vrugte afgewerp. Binne drie jaar kon hy kommersieel daarmee begin boer. Kenners soos Chris sal ook vir jou kan sê dat die tipiese bromelia eintlik relatief maklik is om te kweek, veral omdat dit nie baie water nodig het nie.
In die praktyk hoef jy net ses stappe te volg: Plaas jou plante in helder lig, maar nie direkte sonlig nie; sorg vir optimale humiditeit; maak seker dat lug vryelik tussen die plante kan beweeg; hou die plante deurlopend klam, maar nie nat nie; verseker dat hulle goed kan dreineer; en gebruik kunsmis om dit so ’n bietjie aan te help, maar gebruik dit spaarsamig. Klik gerus hier vir breedvoerige inligting.
Uiteindelik is alle nisboere dit eens: Indien die stem van die ware boer in jou begin roep, moenie dit ignoreer nie. Begin vandag om iets te kweek, al is dit net eers op ’n klein skaal. Trouens, wat ons tot dusver by meeste ander nisboere geleer het, is dat “klein begin” dikwels “groot gewin” tot gevolg het. Volg @Nisboere op Facebook vir meer sulke suksestories van ander nisboere.