Soms kry jy ’n boodskap helder en duidelik … oor ’n volgende fase in jou lewe, oor wat jy met daardie tydperk moet doen, ook wáár jy dit moet doen. En as daardie stem met jou praat, luister jy.
So vertel Yvette Anderson, eienaar en uitvoerende hoof van YAMÙ Botanicals in Barrydale. Jy kan die passie in haar stem hoor wanneer sy liefdevol praat oor “die mooiste en geurigste plante” waarmee sy haar dae deurbring; plante met pragtige name wat dadelik jou aandag trek – boegoe, wildeolyf, konfettibos, slangbos en wildeals.
Alles het begin op hul plaas in die Sederberg waar daar ’n omgewingshernuwingsprojek gedoen is met die kruie van die omgewing. Daar het sy elke kruieplant en elkeen se botaniese en noemnaam op die punte van haar vingers leer ken. Dit het deel van haar lewe geword, sê sy. Maar dis ook hier waar die dorpsnaam “Barrydale” by haar begin spook het, net nadat hulle hul plaas verkoop het. Dis ’n stem in haar binneste wat maar net nie wou stil raak nie. “Die naam ‘Barrydale’ het my die hele tyd bly aantrek. As jy daardie boodskap kry, volg jy die stem.”
Op die heel eerste dag dat sy toe in dié pragtige Karoodorpie aanland, “sien ek hierdie plasie in die hartjie van die dorp. Alles het dadelik tot my gespreek: die omgewingsvriendelike geboue van klip, die olyfbome en die wingerde. Dit was een van die mooiste plekke wat ek nóg gesien het. Dit lyk soos Europa, maar jy weet jy is in die Karoo – omring deur berge en met die pragtigste natuurskoon in die land. Ek het dadelik geweet dís waar ek wil wees, en ek het geweet wat ek moet doen.”
Sy het met die eienaar van die stuk grond in verbinding getree en ’n vriendskap het ontwikkel. “Nadat hy Sederberge toe gekom en gesien het wat ek hier doen, was hy ook dadelik oortuig: Dís wat hy hier, op Barrydale wil hê. ‘Kom, bring jou kruie en begin,’ het hy vir my gesê.”
Yvette het afgeskop met meestal inheemse kruie … die wildeals, oliespesies, die “Khoi-goed”, die medisinale tipes, en natuurlik aalwyne, wildeolyf en die allergeurigste boegoe-familie, onder meer die konfettibos; ook al die knoffelsoorte; die salies en die mentfamilie; ’n omvattende kruielys wat lekker smaak, gesond maak en hul reuk wyd versprei.
“Net wat boegoe betref, is daar soveel verskillende soorte, uit die Sederberge sowel as van die Barrydale-omgewing, almal met hul eie karakter en tipiese blaartjies. Die een ruik lekkerder as die ander. Dis fantastiese plante om mee te werk.
“Om van die verskillende soorte knoffel nie te praat nie! Al die wildeknoffelspesies, al die salies, al die plante in die mentfamilie. Almal voel soos vriende. Hier in Barrydale is hulle baie tuis. Ons ken mekaar goed; ek verstaan hulle goed.”
Selfs die omgewing se mense is goed vir haar en haar kruieboerdery, vertel Yvette. “Ek is baie gelukkig. Ons gaan na die boere toe om plante te vra, onder meer spesies soos kraalbos, slangbos en renosterbos. Dit is gewoonlik dié plante wat landerye inneem wanneer daar grondversteuring was. Hulle het ’n baie groot rol in die ekologie, soos om stikstof te vestig. Hulle hou ook die grond vas sodat ander spesies kan opkom. Terselfdertyd het hulle ’n baie belangrike medisinale rol.”
Dikwels sien jy nie dadelik die waarde van sekere plante nie … soos die minder mooi plant, naamlik slangbos, wat vir die nie-kenner na ’n deurmekaarspul of na ’n brandgevaar lyk. “Selfs in jou verbeelding het jy nie ’n goeie gesprek met daai bos nie, maar dan drink jy hom as ’n tee, en dis asof daar blomme in jou mond ontsnap. Of jy brand dit soos wierook. Dis verbasend hoedat dit mense na jou stalletjie op ’n mark lok, vanweë die soet geur. Die boere verwelkom dit dat ek slangbos uit hul landerye verwyder, of enige van die ander indringerspesies. Dis vir my belangrik om ’n goeie verhouding met die boeregemeenskappe op te bou.”
By eie genot oor ’n produk wat vir haar soveel loopbaanbevrediging gee, hou Yvette se drome nie op nie. “Ek wil graag vir mense permanente werk gee; dis iets wat nog altyd vir my baie belangrik was. Tans het ons 16 mense in diens. Ons doen ongelooflik baie opleiding en sorg dat hul vaardighede ontwikkel – van plantverbouing tot die vestiging van kwekerye, van die aanplant tot die uitplant van verskillende soorte plante. En omdat ons ’n organiese plaas is, verwyder ons grasse, onkruid en indringerplante met die hand. Dis ook belangrik om geen chemiese stowwe te gebruik om onkruid te beheer nie. Ons steun eerder op mense om skoon te maak as om chemiese stowwe te gebruik.”
Entrepreneurskap is nie iets wat vinnige sukses waarborg nie, sê Yvette. Daar is ’n paar riglyne waarby jy moet hou. “Volg jou hart en moenie daarvan afwyk nie. Moet egter nie onbuigsaam wees nie. Om ’n entrepreneur te wees moet jy alles gee. Dit verg verskriklik baie energie. Daarby het jy ’n span nodig, mense op wie jy kan staat maak.
“Entrepreneurskap is enersyds bevrydend, andersyds vat dit alles uit jou. En dan, nadat jy álles gegee het, moet jy weet dit is nóg nie genoeg nie. Maak seker van jou ondersteuningsnetwerk; daardie mense wat kan doen wat jý nie kan doen nie. Dis hulle wat die krakies vul, want jy as entrepreneur kan nie self oral wees nie. Ken jou beperkinge en respekteer dit.”
Volg YAMÙ Botanicals by www.YAMÙbotanicals.com en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.