Hulle word as vreemd, uniek en ongewoon beskryf. Karnivoriese of vleisetende plante is nie net “anders” nie; dis ook ’n avontuurlike tydverdryf en ’n lonende sakegeleentheid.
Kwekers vertel hulle kan nie voorbly om in die vraag te voorsien nie, omdat dié eienaardige plante mense se verbeelding aangryp met hul buitengewone skoonheid en eiesoortige gedrag.
Juan-Heinrich Bornman van Pretoria, eienaar van Pretoria Carnivores, kan hiervan getuig. Sy belangstelling in en liefde vir hierdie pragplante was die antwoord op ’n gaping in die mark – die grondslag van enige suksesvolle entrepreneursonderneming. Sedert hy karnivoriese plante begin kweek en verkoop het, moet hy bontstaan om by te bly.
Soos dit met alle suksesvolle entrepreneursake gaan, het sy plantbesigheid begin by weetgierigheid en passie, gebou op moed en deursettingsvermoë.
“My belangstelling in ’n Venus-vlieëvanger is geprikkel toe ek nog jonk was. Ek het die plant in ’n kwekery gesien, maar my ma wou dit nie vir my koop nie – sy was bang ek laat dit doodgaan.”
Twee jaar gelede het dié passie koers gekry toe hy ’n vistenk met vier plantjies daarin as geskenk ontvang het. Niks kon hom nou keer nie. Sy groeiende plantversameling was soos ’n ontdekkingsreis. “My hele woonstel was later vol plante, en toe dit te veel raak, het ek ’n kweekhuis gebou.”
Deesdae koop hy verskillende spesies karnivoriese plante aan by Peter Hewitt se Pan’s Carnivores in Kaapstad en Jaco van den Berg se Bizarre Tropicals, ook in Pretoria. “Hulle is my belangrikste verskaffers.” By dié twee gesoute kwekers is daar ’n magdom spesies, veral van die Venus-vlieëvanger.
Wanneer Juan-Heinrich die plante van hulle af ontvang, berei hy heel eerste die grond voor en plant dit dan uit die klein kweekbakkies oor in groteres. “Dan los ek hulle tot hulle lekker gevestig is, met ’n redelike grootte, en van daar af bemark en verkoop ek dit.”
Net so het Peter se kwekery ook allereers uit ’n liefde vir plante ontstaan, maar in sy geval het die noodlot hom gedwing om dit as voltydse loopbaanpad te kies. “Ek is in ’n valskermsweefongeluk beseer, wat beteken het dat ek nie meer my gewone werk kon doen nie. Ek het besluit om ’n bietjie met plante te speel en die Venus-vlieëvangers op die internet raakgesien.”
Maar verniet of hy dit by kwekerye kon vind. “Ek het dadelik besef daar is ’n gaping in die mark.”
Hy het navorsing begin doen oor die kweek daarvan, “wat ek aangeleer het in ’n laboratorium-tipe omgewing. En dis waar my onderneming gebore is. Die oomblik toe ek plante gehad het om te verkoop, het my besigheid vinnig gegroei.” Deesdae is hy ’n gesogte verskaffer landwyd.
Jaco kan van dieselfde getuig: Dit is dat hy sy stokperdjie en belangstelling in ’n suksesvolle onderneming kon omskep. “Dit het begin toe ek my eerste orgidee gekoop het. Ek was nog op laerskool.”
Maar dit bly toe nie by orgideë nie. Op ’n dag, terwyl hy na ’n kweker se versameling gaan kyk het, was dit ’n ander, ongewone plant wat sy aandag getrek en hom gefassineer het. Dit was die karnivoriese plant monkey cup, oftewel Nepenthes of tropiese kruik- of bekerplant (of aapkoppie), in die familie Nepenthaceae, waarop sy oog geval het.
“Ek het ’n steggie gevra en die plant ’n paar jaar lank laat groei. Toe ek eers begin google en meer uitvind, het ek gesien daar is aansienlik meer plante in die familie as net monkey cups. Ek het onmiddellik my fokus na karnivoriese plante verskuif.”
Dié plante word so genoem omdat hulle insekte, selfs geleedpotiges, vang en verteer om proteïne te bekom. Hulle groei veral in grond met ’n stikstofgebrek. Die vangmeganismes verskil – hulle vang en verteer die diertjies op uiteenlopende maniere, van toeklap-, suig- en hoklokvalle tot vangkuile, kleefmiddels en die sogenaamde “kreefpotte”, wat beteken as ’n insek eers binne-in is, sukkel hy om weer die uitgang te vind.
Daar is ’n hele paar honderd verskillende spesies karnivoriese plante, in ongeveer 20 genusse en 12 families, sowel as talle hibriede.
Die akwatiese blaaskruid is die vinnigste karnivoriese plant ter wêreld en kan sy prooi in minder as ’n millisekonde verslind. Dit het nie wortels nie en dryf vrylik in vlak vleilande, stel lokvalle met blasies wat ’n suigaksie uitoefen om ’n prooi te vang en eet klein skaaldiere, inseklarwes en selfs jong paddavissies, ook kleinerige reptiele, muise en rotte.
Die Venus-vlieëvanger is die bekendste en gewildste van die karnivoriese plante. Jaco vertel dat die meeste kultivars ’n rooierige kleur aan die binnekant het, wat vir insekte aanloklik is. “Tussen daardie rooi kleur en die nektar wat dit afskei, lyk dit soos ’n oop wond vir ’n insek, en dit lok hulle aan. Binne-in die lokval is daar sensitiewe haartjies of sensors wat die toeklapmeganisme aktiveer sodra die insek aan twee of meer raak. Die taaiblaar, of drosera, laat enigiets, ongeag die grootte, daaraan vassit sodra dit kontak maak met die blaar. Die blaar draai om wat ook al hy gevang het, wat die plant ensieme laat afskei en die prooi verteer.
“Die Nepenthes, of bekerplant, is ewe interessant, met sy aangepaste blare. Die blomme groei uit die kroon van die plant en die blare lyk soos sakkies, met ’n gladde rand waaroor nektar loop en insekte naderlok. Dis baie glad, en as hulle eers daaroor geloop en ingeval het, kan hulle nie weer uit nie. Hulle verdrink in die vloeistof onderin en word verteer. Solank ’n prooi in die blaarbeker pas, sal die plant dit eet.”
Van die ander gewilde karnivoriese plante is Drosera capensis, of Cape sundew of sondouw, die Darlingtonia californica, ook genoem die Kaliforniese kruikplant, kobralelie of kobraplant, en die Pinguicula, algemeen bekend as die botterkruid.
Aan langtermynplanne en versiendheid het Juan-Heinrich nie ’n tekort nie en hy droom groot drome vir Pretoria Carnivores. “Ek wil ’n goeie verhouding met my huidige kliëntebasis bou en dit uitbrei oor die volgende 20 jaar.”
Behalwe die verskaffing van plante wil hy ook ’n adviesdiens op die been bring wat entoesiastiese plantkopers en -kwekers se vrae beantwoord.
- Pretoria Carnivores: Juan-Heinrich Bornman op Facebook en Instagram
- Bizarre Tropicals: bizarretropicals@gmail.com of 073 664 3763; bizarretropicals.com
- Pan’s Carnivores: peter@panscarnivores.com; panscarnivores.com
Volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte aan te skaf.