DINK GRÓÓT

’n Omskakeling van tradisioneel na organies maak nuwe deure oop vir melkboere

In Suid-Afrika, nes in die res van die wêreld, is daar ’n groeiende vraag na organies geproduseerde melk wat sy oorsprong het in gelukkiger, gesonder, vrylopende en grasgevoerde koeie. Dis juis hierdie aanvraag wat nuwe deure geopen het vir Colbourne, ’n generasie-oue, familiebestuurde vark-en-melkplaas in die hartjie van die Karkloofvallei van KwaZulu-Natal.

Nisboere het onlangs by Andrew Morphew gaan kers opsteek. Sy ouers het voorheen hoofsaaklik met varke, beeste en mielies geboer, en toe hy tussen 2013 en 2014 betrokke raak, het hulle ’n gedeelte van die plaas vir melkproduksie begin benut. Op daardie stadium het hulle relatief klein begin met ongeveer 450 koeie.

Onlangs het daar egter ’n gulde geleentheid vir Colbourne opgeduik om aan Woolworths te begin verskaf, op voorwaarde dat hulle van tradisionele na organiese melkproduksie omskakel. Dié proses het sowat twee tot drie jaar geduur, maar dit was uit en uit die moeite werd, aangesien hulle nou meer as 1 100 koeie besit en hul produksie in die afgelope twee jaar meer as verdubbel het.

Maar wat presies is ’n organiese melkboerdery en hoe verskil dit van ’n tradisionele een? Wel, interessant genoeg word organiese boerdery oor die algemeen wêreldwyd gesien as ’n manier om familieplase te onderhou en ondersteun. Die beweging is gegrond op ’n eenvoudige, dog kragtige, fundamentele beginsel: Gesonde grond lei tot gesonde gewasse, gesonde diere, gesonde mense en ’n gesonde planeet. 

Dienooreenkomstig kan ’n organiese melkboerdery soos volg beskryf word: “’n Algehele stelsel van plaasbestuur en melkproduksie wat hoë dierewelsynstandaarde toepas en die beste omgewingspraktyke kombineer om ’n hoë vlak van biodiversiteit te handhaaf en ons natuurlike hulpbronne te beskerm.” Aangesien dit ooreenstem met ’n nismark van verbruikers wat ’n voorkeur het vir natuurlike produkte, kan ’n organiese melkboerdery dus ook as ’n nisboerdery beskou word.

Boonop hou dié boerderymetode heelwat ander voordele in, soos verbeterde pesbeheer. Andrew vertel dat hul weidings voorheen aangeval is deur wurmagtige peste wat op hoegenaamd geen chemikalieë gereageer het nie. Deur ander kreatiewe natuurlike strategieë toe te pas, soos om nie-gewas-plantegroei te plant wat die natuurlike vyande is van plae, asook om gewasse te roteer, kon hulle egter dié plae uitroei.

Indien Colbourne se storie jou nou geïnspireer het om jou hand aan organiese melkboerdery te waag, hou in gedagte dat dit ’n geleidelike oorgang van so twee jaar sal verg. Buiten dat die omskakeling finansiële implikasies het, moet daar vir ’n volle 12 opeenvolgende maande geen chemiese of sintetiese insette in jou boerdery wees nie voordat jy sertifisering sal kan bekom.

Daardie etiket op jou produkte waarop “organies geproduseer” staan, sal heelwat nuwe deure oopmaak, aangesien studies bewys dat die internasionale mark vir organiese melkprodukte na verwagting van $4.79 miljard in 2021 tot $6.46 miljard in 2027 sal styg. Klik gerus hier vir ’n nuttige studie oor die algehele melkproduksie in ons land (wat onlangs deur Melk Suid-Afrika gepubliseer is). 

Een van die belangrikste lesse wat ons tot dusver geleer het by die nisboere wat ons paaie gekruis het, is dat ’n mens nie noodwendig groot hoef te begin vir groot gewin nie. Al kan jy eers net op ’n klein skaal begin, begin net … leer uit jou foute en leer by ander boere. Volg @Nisboere op Facebook om te sien watter kreatiewe idees ander nisboere het.