DINK GRÓÓT

’n Olyftak vir vrede en olywe vir voorspoed – so boer jy vooruit

Dwarsoor die wêreld word ’n olyftak nog altyd beskou as ’n simbool van vrede, maar vir die Bassons van Darling Olives, ’n generasie-oue familieplaas net buite Darling in die Wes-Kaap, is dit ook ’n simbool van voorspoed. 

Jy sien, op hierdie landgoed groei daar nie net derduisende olyfbome nie, maar hulle het ook ’n ten volle FSA-geouditeerde fabriek waar hulle ongeveer 100 ton olywe per jaar verwerk. Buiten heerlike swart- en kalamata-olywe, produseer hulle ook olyfolies en ’n wye reeks olyfprodukte soos olyfkonfyt, olyfbotter en olyfsjokolade.

Boonop het Darling Olives ’n bekende toeristeattraksie geword en mense reis van heinde en verre om hul besondere olywe en produkte te kom proe. Daarom het hulle ook ’n doelmatige fasiliteit waar hulle 10 tot 12 mense kan onthaal vir ’n unieke proe-ervaring. 

Die Darling Olives-landgoed bestaan uit sowat 70 hektaar grond waarop daar ongeveer 400 olyfbome per hektaar geplant is. Volgens die Basson-familie is die groot geheim agter die kenmerkende, besondere smaak van hul olywe die feit dat hul bome nie kunsmatig besproei word nie. 

In plaas hiervan ontvang die olyfbome slegs natuurlike vog van die koel Atlantiese bries, sowel as reën, omdat die landgoed net sowat 15km van die see af geleë is, soos die kraai vlieg. Die tipe olyfkultivar wat die Bassons verbou, staan bekend as mission, wat verreweg dié gewildste kultivar in Suid-Afrika is. 

Van die ander kultivars wat hoofsaaklik in ons land verbou word, is coratina, FS17 (ook bekend as favoloso) en frantoio. Mission is egter die enigste van dié kultivars wat geskik is vir tafelolywe en olyfolie. As sodanig wend die Bassons dit drieledig aan: vir ingelegde groenolywe, swart tafelolywe en olyfolie. 

Olyfbome is oorspronklik inheems aan Iran, Sirië en Palestina, en as die oudste gekweekte bome ter wêreld (waarvan ons weet), word hul sedert so 6 000 jaar gelede verbou. Die werklike oplewing in olyfverbouing en kommersiële produksie het egter hoofsaaklik in die afgelope 25 jaar plaasgevind.

Dit skakel natuurlik in by die wêreldwye vraag na en toenemende bewustheid van die gesondheidsvoordele wat olywe en olyfolie bied. Trouens, internasionale olyfolieproduksie het die afgelope 60 jaar verdriedubbel, en gemeet aan die onlangse 2019-2020-seisoen, byvoorbeeld, word daar tans meer as 3.2 miljoen ton olywe per jaar geproduseer.

Die olyfbedryf in Suid-Afrika toon soortgelyke tendense. Gegrond op die tempo waarteen nuwe bome aangeplant word, groei olyfverbouing in ons land minstens 20% per jaar, wat elke vier tot vyf jaar verdubbel. Om hierdie rede is olywe tans die landbousubsektor wat die vinnigste ontwikkel. 

Interessant genoeg is kommersiële olyfboere soos Darling Olives egter in die minderheid, aangesien die meeste Suid-Afrikaanse olyfplase eintlik relatief klein is. Trouens, byna die helfte van die ongeveer 200 plaaslike geregistreerde olyfboere besit minder as vyf hektaar bewerkbare grond. 

Ewe interessant is die feit dat daar nie naastenby genoeg olywe en olyfolie hier geproduseer word om in die plaaslike vraag in die mark te voorsien nie, aangesien ons na raming steeds so vyf tot ses miljoen liter olyfolie en ongeveer 1 400 ton olywe moet invoer van lande soos Spanje, Italië, Portugal en Griekeland. Indien jy dit dus oorweeg om olyfbome te begin aanplant op die stukkie grond wat jy beskikbaar het, moet jy nie eens twee keer dink nie. Klik hier om te sien hoe jy die bal aan die rol kan sit.

Indien jy nie regtig grond het nie, onthou dat jy nog steeds olywe by ander boere kan aankoop en jou eie reeks olyfolies kan begin produseer.  Vir inspirasie, lees gerus die verhaal van Loyiso Manga, nog ’n vindingryke nisboer met wie ons onlangs gesels het: https://www.nichefarmers.com/south-africas-first-black-olive-oil-producer/