DINK GRÓÓT

ʼn Landboutoerismebestemming vir stadsmense en fynproewers

Op ʼn derdegenerasie-familieplaas in die Bakkieshoek- en Rooivlak-omgewing van Hankey in die Oos-Kaap het die Ferreira-egpaar, Johan en Madelé, ʼn suksesvolle bessieplaas ontwikkel wat deesdae nie net gesogte verskaffers is aan plaaslike en oorsese markte nie, maar gewild is onder toeriste wat na hartelus kan kom pluk en geniet.

Dis ʼn ver pad wat die Ferreiras geloop het, van ʼn 101 jaar gelede, in 1923, toe Johan se oupa 10 hektaar in die Gamtoosvallei gekoop het. Vandag boer sy kleinseun op 76 hektaar met aarbeie, frambose, swartbessies, ook spinasie en krulkool, op Mooihoek Berry Farm, sowat 80 km van Gqeberha. 

Madelé se betrokkenheid en bydrae het ʼn groot rol gespeel in die ontwikkeling van die plaas as agritoerismebestemming. 

In 1998 het sy met 5 000 aarbeiplantjies en vyf werkers haar droom gestalte begin gee, en met die hulp van Johan dit uitgebrei tot 750 000 plante, met 85 vaste werkers en sowat 200 seisoenswerkers. Die variëteite wat die beste oeste lewer, is Monterey, San Andreas, Albion, Frontieras en Pataluma.

Benewens lewering aan supermarkte in veral die Oos-Kaap, maar ook landwyd, verskaf Mooihoek vars aarbeie aan markte in Doebai, Bahrain, Doha en Hongkong. Slegs die beste aarbeie word uitgesoek en verpak in die vereiste kleinhandelverpakking. Mooihoek het ʼn geen-vermorsing-beleid – alle ekstra aarbeie word dus of bevries of gedroog.  

So lyk Mooihoek se gewasaanplantings: 14 ha aarbeie, 35 ha spinasie, 0,5 ha frambose en 2 ha krulkool. 

Die aarbeie, frambose en spinasie is produkte wat 12 maande van die jaar gelewer word; so ook Mooihoek se bevrorebessie-reeks, wat uit aarbeie, bloubessies, frambose en gemengde bessies bestaan. Grootmaatlewering van aarbeie geskied in 12 kg-bokse vir spysenieringsdoeleindes. Die bevrore bessies word meestal gebruik vir smoothies, sorbet en roomys, nageregte soos kaaskoek, in koeke, muffins of beskuit, as alternatief vir ys in jou drankie of as bessiesous en coulis.

Mooihoek se nuwe pakhuis is in September 2017 voltooi, met ʼn nuwerwetse vriesgerief om produkte so vars moontlik te hou. 

“Ons plaas is baie klein in verhouding met die res van dié in die omgewing. Ons grootste uitdaging die afgelope sewe jaar was natuurlik die droogte. Sonder water kan geen boer boer nie, en dit het ʼn groot impak op ons besigheid gehad wat besluitneming betref, ook kostegewys, saam met die uitdagings wat die natuur aan ons gestel het. Alle gewasse is onder drupbesproeiing om enige watervermorsing te voorkom,” vertel Madelé.

Bessies in alle vorme is produkte wat hulle leen tot ʼn toerismeaantreklikheid, sê sy. “As jy boer, wil jy altyd graag jou inkomste aanvul. Ons het besef dis ʼn ideale geleentheid in dié omgewing. Ons is naby die kus, en veral aan die einde van die jaar is daar ʼn behoefte vir gesinsaktiwiteite.”

Sy het die Pick your own– konsep bedink en van September tot Desember ʼn deel van die plaas begin oopstel en die bessieplukkery as ʼn gesinsaktiwiteit bemark. “Ons het ʼn kans gewaag en mense uitgenooi om hul eie bessies te kom pluk, ook om familie en vriende saam te bring. Die besigheid het ontplof. Ons het gesien daar is ʼn behoefte aan agritoerisme in die omgewing, en het dit beskou as ʼn geleentheid om iets vir die vallei terug te doen.”

Nog skeppende idees het by Madelé posgevat: Waarom nie ʼn stoor op die perseel in ʼn aantreklike onthaalvenue omskep nie? “Die een ding het tot die ander gelei. Ek het dit Berry Barn gedoop – dis ʼn naam wat my net te binne geskiet het. Ons het ook ʼn restaurant hier begin wat elke Desember oop is, want mense wat bessies pluk, raak honger en dors. Die Berry Barn spog selfs met ʼn winkeltjie waar produkte, in keurige verpakkings, te koop is.”

Dit het duidelik aanklank by die omgewing en toeriste gevind, want benewens die vyf weke pluktyd elke jaar waarin die restaurant benut kan word, het die Ferreiras besluit dat dit uitstekend sal werk as trouvenue die res van die jaar, veral in die stiller oesseisoen, wanneer die produksie afneem.

Mooihoek is ʼn klein, maar baie produktiewe plaas, vertel Madelé. “Ons maak van ons natuurskoon gebruik en stel dit ten toon. Die bessies op ons plaas is aantreklik vir stadsmense – hier kan hulle ons landbouaktiwiteite en al sy uitdagings én skoonheid eerstehands ervaar. En natuurlik proe dit soveel lekkerder en beter as jy produkte soos dié vars kan pluk en geniet.”

Sonder hulp en raad kan so ʼn nisboerdery nie vorentoe gaan nie, sê sy. “Ons maak staat op die ondersteuning van ʼn plaaslike chemiese maatskappy, ook Laeveld Agrochem, om te verseker dat ons die regte, geregistreerde produkte beskikbaar het wat kan sorg dat ons ons produkte so verbruikersvriendelik moontlik behandel.”

Ambisie, die wil om vooruit te boer, is die grondslag van sukses, is Johan en Madelé se sakebenadering. “Ek het ook altyd gehoop ek kan ʼn verskil maak,” sê sy.

Entrepreneurskap is nie ʼn vaardigheid wat in ʼn kits ontwikkel nie, het Madelé ervaar. “Ná my studie het ek nie geweet waarmee ek ʼn ekstra inkomste kan verdien nie. ʼn Entrepreneur moet kyk wat sy onmiddellike hulpbronne is – dis seker die heel belangrikste aspek. Jy moet jouself afvra: Wat het ek beskikbaar waarmee ek iets kan doen? Wat is die behoefte in die mark vir dit wat ek beoog? Ek glo as jy skeppend is, moet jy dit gebruik.”

Mooihoek het inderdaad met veral drie elemente gewoeker en gewoel – die natuurskoon, skeppendheid en ʼn entrepreneursgees om ʼn puik en unieke produkreeks te vestig. 

Besoek mooihoek.com en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Ook wowbuy.co.za om van Mooihoek se uitsoekprodukte aan te koop.