Indien jy addisionele grasveld het wat geskik is vir weiding, is dit die moeite werd om die lewensvatbaarheid van ’n alpakkaboerdery te ondersoek, aangesien dit nog ’n relatief nuwe tipe boerdery in Suid-Afrika is met groot potensiaal.
Alpakkas is die kleinste lede van die kameelfamilie wat oorspronklik van Suid-Amerika afkomstig is en wat hoofsaaklik geteel word vir hul vag of vesel, wat baie soortgelyk is aan skaapwol. Vesel vorm natuurlik die basis vir enige vorm van tekstiel – waaruit materiaal of lap gemaak word.
Dit word nie net gebruik vir die vervaardiging van klere nie, maar ook vir ’n reeks huishoudelike artikels en industriële gebruike. Alhoewel beide sintetiese en natuurlike vesel gebruik kan word vir enige van hierdie doeleindes, verkies gebruikers al hoe meer natuurlike stowwe vir hul kledingstukke. Dís juis wat die vag van alpakkas so gewild maak, omdat dit besonder sag en fyn is en voorkom in ’n onvergelyklike 22 natuurlike kleure.
Nisboere het onlangs gaan inloer by een van Suid-Afrika se min alpakkaboerderye, Quenti Alpaca & Mill, naby Wellington in die Kaap.
Die plaas is relatief klein, net so 36 hektaar groot, maar volgens die eienares, Linda Nessworthy, kan hulle gemaklik 200 alpakkas aanhou deur elke duim van die grond sinvol aan te wend en doelgerig na die weiding om te sien.
Buiten dat hulle alpakkas aan ander boere dwarsoor die land verskaf, is hulle ook trotse produsente van hoëkwaliteitvesel en -produkte soos komberse, serpe, beanies, babaklere en so meer wat mens op die plaas kan aankoop of aanlyn kan bestel.
Linda sê kwaliteit is die hoeksteen van hul sukses en as sodanig fokus hulle eerder op die vervaardiging van “tydlose mode”-artikels waar die fokus op ’n lang raklewe en duursaamheid is. Dit is in teenstelling met kitsmode-artikels wat dikwels goedkoop en swak gemaak is en in groot hoeveelhede geproduseer word, maar net vir ’n seisoen hou.
Die eerste stap in die vervaardiging van hul produkte is natuurlik om die alpakkas te skeer, waarna monsters van die vesel na ’n laboratorium gestuur word. Hier word dit getoets en volgens internasionale standaarde gegradeer. Die alpakkas se vesel word dan op grond van die uitslae in mikron en stapellengte gesorteer, waarna dit verder in kleure verdeel word.
Daarna word dit sorgvuldig gewas en gekam om dit voor te berei om gespin te word sodat die vesel in gare of wol omskep kan word. Die volgende stap is die kleurproses vir verkoop in bolle en vir gebruik in die vervaardiging van allerhande pragtige kledingstowwe en komberse.
Volgens Linda is alpakkas baie skoon, vriendelike en planeetvriendelike diere wat baie maklik is om mee te boer en wat min water nodig het. In die res van die wêreld is hulle soms ook gewilde troeteldiere en word dikwels gemaklik saam met ander vee soos skape, perde of koeie aangehou.
Maar wat van die lewensvatbaarheid van ’n alpakkaboerdery? In ’n neutedop …. alpakkas leef gemiddeld 18 tot 24 jaar en ’n volwasse alpakka produseer so tussen 2 en 4.5 kilogram vesel per jaar. Quenti Alpaca & Mill verkoop die gekleurde vesel vir enigiets tussen ongeveer R220 en R380 per 100 gram.
Sou jy hul pryse as ’n riglyn gebruik, kan jy dus tussen R99 000 tot R171 000 verdien uit die vesel wat een alpakka kan verskaf. Ons dink hierdie syfers is heeltemal vanselfsprekend, of hoe dink jý? Klik hier vir meer inligting oor alpakkaboerdery in Suid-Afrika. Volg @Nisboere op Facebook om ons te vertel van andersoortige diere waarmee jy boer.