DINK GRÓÓT

’n Deuntjie so reg uit Afrika … vír Afrika

In die hartjie van die Vrystaat, op ’n plaas naby Ventersburg, het daar die afgelope tien jaar ’n verhaal van vindingrykheid ontvou wat een oggend pas voor sonsopkoms in ’n swembad in Mosambiek ontstaan het. Dié dinkskrum op ’n ongewone plek, op ’n ongewone tyd het gelei tot die geleidelike opbou van Whistler Rum, vandag die grootste rumdistilleerdery in die land.

Hierdie entrepreneurskapsidee van die broers Lon en Trev Bruns om so ’n bedryf op hul familiegrond te begin, was die gespreksonderwerp tydens hul vakansie in dié buurland in Maart 2014. Dit was allesbehalwe ’n vlietende gedagte of oppervlakkige praatjies. Hulle was oortuig daarvan dat hulle ’n uitvoerbare idee beet het. 

Hul pa se beesplaas is die ideale plek, het hulle besef. “Ek het in die finansiële bedryf gewerk, my broer is ’n ingenieur. Deur die jare het ons toenemend by die plaas betrokke geraak,” vertel Lon. “Ons pa het die 1 000 ha in 2004 gekoop – aanvanklik ’n saaiplaas wat hy toe in ’n beesplaas omskep het. Vandag is dit ’n gemengde boerdery waarvan 600 ha beplant is, met beeste, skape en wild wat op die res wei.”

Terug in die werklikheid van die Vrystaatse vlaktes was verdere beplanning oor hul ongewone idee nodig en in 2016 is finaal besluit – die twee boerseuns gaan ’n distilleerdery vestig. “Ons moes toe bepaal hoe lyk die mark waarop ons ’n eie produk wou mik. Hoe lyk die mense wat bepaalde spiritualieë drink? Ons moes sulke mense aan onsself beskryf.”

Die whisky- en jenewer-tipe is dié wat, glas in die hand, in die verte tuur na wild op die vlakte, of na die son wat sak, meen Lon. “Dis die ou met wie die wêreld gebeur.” Die reaktiewe soort, was hul bevinding.

Dit terwyl die Bruns-broers proaktief leef. “Die rumpersoon leef andersom, hy láát die wêreld gebeur. Dis die een wat die vuur aansteek, wat sê: ‘Kom ons open ’n distilleerdery in die middel van die Vrystaat’.”

Die besluit is geneem: Rum is hul produk, omdat dié karakter hul eie persoonlikhede soos ’n handskoen pas.

So gesê, so besluit. “’’n Naam vir ons rum was volgende op ons lys.”

Lank dink was nie nodig nie, “want ons het onthou wat ons ouers ons kleintyd geleer het, en dis dat jy jou eie deuntjie in dié wêreld moet fluit”.

Vir Lon en Trev was dit logies … die “rumpersoonlikheid” lyk ongetwyfeld soos die persoonlikheid wat daarvan hou om sy eie deuntjie te fluit. “Whistler” as handelsmerk is gebore, hul derde groot besluit op hul uitsonderlike entrepreneurskapsreis.

Die volgende stap was ’n rum-kursus in Louisville in die Amerikaanse staat Kentucky. “Dit het grotendeels oor die geskiedenis van rum gehandel. Ons het rum uit Suid-Afrika saamgeneem, en die belangrikste ding wat ons toe daar leer, is dat die rumprodukte op ons rakke alles ingevoer is.”

Hul leermeester se bevinding ná ’n reuktoets was “dat dit definitief nie rum is nie. Hy het ons gewys wat alles beskikbaar is, ook die verskillende prosesse en maniere om dit te vervaardig – oor wát dit verg om rum te maak; die hóé moes ons self uitwerk. Dis op daardie oomblik dat ons besef het ons het ’n geweldige taak aangepak, want Suid-Afrika se persepsie oor rum, en wat die res van die wêreld sê rum is, verskil hemelsbreed. Dis beslis nie dieselfde prentjie nie.”

Baie moes belê word om ordentlike toerusting te bekom, vertel Lon. “Ons het die meeste self ontwerp en plaaslik laat bou.”

’n Kitsproses was dit nie, want ’n lisensie om rum te stook, is eers einde 2017 aan hulle toegeken.

Die Bruns-broers het op ’n standaard-vervaardigingsproses besluit – natuurlik ook ’n styl waarvan hulle self baie hou, naamlik rum met ’n molassebasis. “Molasse is die weggooisuiker waaruit jy nie meer die goeie suiker kan haal nie. Dis fermenteerbaar en bevat sukrose wat ons in alkohol kan omskep.” Hierby word ’n spesiale rum-gis gevoeg wat die molasse absorbeer. Die neweproduk wat só ontstaan, is alkohol.

Die alkohol wat onttrek is, gaan dan na ’n reuse-vlekvryestaaltenk of “pot” waar dit afgekook word. “Die eerste deel noem ons die ‘voorloop’ of die ‘kop’; dis waarin die slegste alkohol kan wees, potensieel met metanol, maar beslis met asetoon. Dit is ongesond en word verwyder. Die tweede deel is die ‘hart’, die deel wat ons behou. Die laaste deel is die ‘stert’ … nie lekker nie, maar ook nie ongesond nie. Ons gaar dit op en distilleer dit weer om die goeie alkohol te onttrek.”

Veroudering is ’n volgende opsie, of, soos Lon sê: “Ons kan kies om in daardie rigting te beweeg.” 

Hul reeks bestaan deesdae uit Whistler Dark Rum, Whistler Spiced Rum, Whistler Master Solera Rum, Whistler Silivera Rum en Whistler Boplaas Barrel Exchange Rum. Daar is ook ’n reeks gegeurde produkte – aarbei-en-lemmetjie en nartjie-en-gemmer, produkte met ’n laer alkoholinhoud van 35%. “Ons gebruik geurekstrak vir ’n konsekwente geur. Vandag se vars aarbeie smaak nie noodwendig soos môre s’n nie. Die aarbeigeur smaak soos roomys, en die nartjiegeur is lekker in koffie en tee.” 

Sukses as entrepreneur verg ’n bepaalde denkbenadering, volgens Lon. “As jy in ’n verbruikersgedrewe omgewing is waar jy iets wil verkoop, vergeet eers van die produk self en dink oor wát jy verkoop, wat ágter die produk is, hoekom jy doen wat jy doen. Moenie net sê ‘dis wat ek doen’ nie, sê ook waarom jy dit doen. Wat is jou beweegrede? Wat lê agter jou inspirasie?”

Met Lon as meesterdistilleerder en Trev die een wat sorg vir belangrike aspekte soos etiketontwerp, verpakking en bemarking, is hul grootste inspirasie die lewenswaarheid van hul ouers: “Fluit jou eie deuntjie.” 

En dié deuntjie is … uniekheid en oorspronklikheid uit Afrika, vír Afrika. 

  • Oop vir die publiek Vrydae en Saterdae, of volgens afspraak. Met ’n restaurant en skemerkelkiekroeg.
  • info@whistlerrum.co.za of 076 396 1068.

Besoek whistlerrum.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte aan te skaf.