DINK GRÓÓT

’n Boerdery gebou op terugploeg

As jy oor iets kan droom, kán jy dit ’n werklikheid maak: Dit is die siel van Tsikammatsi Organic Farm buite George, sê die eienaar, Marnell van Schoor. 

Meer nog … dié entrepreneur wat self moes probeer en leer totdat sy haar nis gevind het, is vandag iemand vir wie een van die belangrikste eienskappe van ’n landbouer is om terug te ploeg in die gemeenskap. Want dis hier waar haar wortels lê – ’n stuk grond in hierdie klam omgewing wat sy van kindsdag af soos die palm van haar hand leer ken het. 

Marnell se organiese boerdery het as’t ware met die gedagte aan ’n bak vars slaai begin, toe sy nêrens in die omgewing vars slaaiblare na haar sin en smaak kon opspoor nie. “Ek het gesien dis ’n produk wat baie goed doen in hierdie nat, koel klimaat, en ek gaan dink toe verder wat alles nodig is in ’n slaai.” 

Stuk-stuk het Marnell se boerdery uitgebrei, eers met die aanplant van slaaiblare, daarna onder meer beet, grasuie, babakooltjies en krulkool.

Onder háár leiding is die Tsikammatsi-boerdery skaars vier jaar oud nadat sy in 2019 hierheen teruggekeer het, “maar nie lekker geweet het wat om te doen nie. Eers het ek met kalwers begin boer, raak toe moeg daarvoor.” Tsikammatsi Organic was die volgende stap in haar soeke na varsprodukte sowel as ’n vars boerdery-aanslag – saam met die wete dat jy skaars vir ’n beter landbouklimaat vir ’n organiese boerdery kan wens.

Dis ligjare verwyder van die tyd toe haar pa dekades gelede die plaas gekoop het, ’n lap grond vol dennebome wat hy later “geoes” het om lusern vir hul beeste aan te plant. 

Vandag spog Tsikammatsi Organic Farm ook met ’n gesogte kaasmakery, ’n winsgewende varkboerdery en padstal waar die onderneming se produkte van die hand gesit word. Daar is twee-en-twintig vaste werkers in diens. 

Tsikammatsi maak van geen chemikalieë gebruik nie: Alle plante word gewas met Tsitsikamma-water, waarin daar ook geen chemikalieë is nie. Boonop word die water twee maal per jaar getoets vir E. coli omdat dié bakterie ’n groot probleem in die varsproduktemark kan wees. Die gewasse word twee maal per maand bespuit met ’n mengsel van seewier en mikroörganismes. “As ons die grond gesond hou, is die plant gesond,” sê sy. “Die plante pas mekaar op dié manier op.”

Haar diere kry wel antibiotika, want die plaas lewer aan groot maatskappye soos Nestlé en Lancewood. Maar die basiese benadering is: kaas, botter en plante word so ver moontlik van enige chemiese toediening of behandeling weggehou. 

Toe Marnell met die projek begin het, het sy besef daar is baie informele boere in die omgewing wat stukkies grond ontvang het, maar nie noodwendig die vermoë het om saailinge te bekom of daarna ’n afset vir volgroeide produkte te vind nie. Haar bydrae tot die gemeenskap is om vir sulke boere saailinge in die hande te kry, en terselfdertyd hul gelewerde produkte terug te koop teen ’n markverwante waarde. So ondersteun sy nou al ’n perdeboerdery, ’n patat- en aartappelboerdery, selfs ’n buurman se eie, kleiner slaai-aanleg. Dis vir haar belangrik om haar woord gestand te doen om hulle te bly help, “wat dit vir sulke boere moontlik maak om vir hul gesinne te sorg” en om toe te sien dat hulle volhoubaar boer.

Klein- en mikroboere se grootste probleem is, volgens Marnell, “dat daar nie die sogenaamde ‘Landbank’ tot ons beskikking is nie. Dit is ’n harde pad; jy kies ’n pad wat nog nooit geloop is nie.” Tog is hierdie uitdaging vir haar ’n inspirasie, want nie net het sy haar nis gevind nie, maar kry sy die geleentheid om ander, kleiner boere te help soek na hulle s’n.

“My advies aan ander boere is … moet nooit opgee nie. Gaan na jou medeboere toe; ons help mekaar. Dit gáán reën ná droogte; die son gáán skyn. Moet net nie ophou nie.”

Besoek tsikammatsi.africa en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel.