In 2020 het Zandile Kumalo haar eerste groente deur hidroponika in ’n agterplaas in ’n klein township genaamd Sebokeng begin produseer. Vandag het sy ’n wêreldklas hidroponiese boerderystelsel op die dak van die Morningside-winkelsentrum in Sandton, van waar sy dwarsdeur die jaar vars groente aan die restaurante en winkels in die sentrum verskaf.
Haar landboubesigheid, Neighbour Roots, waarvan sy die medestigter is, bemagtig ook ander mense wat hidroponiese plase in hul eie agterplase wil begin. Maar wat presies is ’n hidroponiese boerdery? Om dit eenvoudig te stel: Met hidroponiese stelsels kweek jy gewasse in water, in plaas van grond.
Omdat water ryk is aan allerhande minerale en voedingstowwe groei die gewasse aansienlik vinniger. Dienooreenkomstig het dié gewasse ook ’n baie hoër voedingswaarde, wat hulle natuurlik baie gewild maak onder verbruikers. Om dié rede word dit oor die algemeen beskou as “hoëwaardegewasse”, omdat jy per kilo meer daarvoor kan verdien as vir ander soortgelyke gewasse.
Sommige van hierdie hoëwaardegewasse wat Zandile produseer, sluit blaarslaai, tamaties, soetrissies, komkommers, aarbeie, seldery en kruie in. Dus, in ’n neutedop, is ’n hidroponiese stelsel ’n uiters lewensvatbare boerderykonsep, omdat jou gewasse soveel vinniger groei en omdat jy hoëwaardegewasse lewer waarvoor jy méér kan verdien.
Hidroponiese boerderystelsels hou egter ook ’n reeks ander voordele in. Een hiervan is presies waarvan Zandile kan getuig: Jy kan allerhande onbenutte spasies soos sypaadjies, motorhuise, parkeerruimtes of selfs dakke daarvoor aanwend. ’n Ander groot voordeel is dat jy gewoonlik ’n hidroponiese stelsel vestig in ’n omgewing waar jy ook die klimaat kan reguleer.
Jy is dus nie van die weer afhanklik nie en jy kan letterlik dwarsdeur al vier seisoene van die jaar gewasse oes. Met soveel voordele mόét jy wonder oor die moontlike nadele wat mense keer om hul hand aan hidroponika te waag. Wel, een van die grootste struikelblokke is dat die insetkoste daarvan aansienlik kan wees.
Volgens Zandile is die infrastruktuur inderdaad duur en kan jy maklik ongeveer ’n halfmiljoen rand belê om dadelik op ’n kommersiële skaal te begin boer. Sy verduidelik dat jy egter eers op ’n baie kleiner skaal kan begin en dan later kan uitbrei, soos wat jou mark groei – wat in elk geval ’n veiliger roete is om te volg, as jy daaroor nadink.
“Jy het so 300 vierkante meter spasie en sowat R5 000 kapitaal nodig om ’n hidroponiese stelsel aan te koop, sou jy op ’n klein skaal wou begin,” sê sy. Zandile verduidelik dat, hoewel jy nou wel jou gewasse in water kweek, ’n hidroponiese boerderystelsel eintlik heelwat minder water en energie as tradisionele boerderye vereis en jou oorhoofse kostes dus minder is.
Daar is ook ’n wye reeks hidroponiese boerderystelsels op die mark om van te kies, afhangende van hoeveel spasie jy het en wat jy wil kweek. Volg gerus hierdie skakel om uit te vind presies hoe hidroponiese stelsels werk en waar jy een kan aankoop: https://www.jardineriaon.com/af/hidroponika.html
Sou jy dit oorweeg om daardie klein onbenutte spasie wat jy het stelselmatig in ’n groot hidroponiese boerdery te begin omskep, hou gerus Zandile se top-advies in gedagte: “Maak seker dat jy ’n voldoende en konstante toevoer van water en elektrisiteit het, veral tydens beurtkrag.”
Sy raai nuwe boere ook aan om mense te vind wat oor voldoende inligting beskik om jou met jou hidroponiese plaas te kan bystaan. Voldoende inligting is toevallig iets waarin Neighbour Roots spesialiseer, aangesien hulle ’n wenkombinasie van teoretiese en praktiese opleiding aan voornemende hidroponiese boere en hul personeel verskaf.
Vir meer inligting, besoek gerus hul webwerf hier: https://www.morningsideshops.co.za/neighbour-roots/. Volg ook @Nisboere op Facebook om by ander nisboere te leer en jou eie storie met hulle te deel.