DINK GRÓÓT

Mpenjati Coffee: Sukses – van boon tot beker

Daar’s geen beter plek as jou heimat om jou drome te verwesenlik nie.

Dit was die oorweging vir Des en Leigh Wichmann, eienaars van Mpenjati Coffee, toe hulle hier rondom 2019 hul eerste handvol koffieboomsade in die grond gesit het.

In hul geestesoog het hulle gesien hoe hierdie paar boontjies ’n boord word, en hoe die boord bekersvol geurige koffie lewer.

Droom was egter nie genoeg nie – hulle sou skouer aan die wiel moes sit en dóén! Koffieproduksie was ’n nuwe terrein vir hulle, maar hul kennis van die omgewing, die klimaat en die grond sou die knoop deurhak. Hier sou hulle inderdaad hul drome waar kon maak.

In sy grootwordjare het Des sy pa help boer, toe suikerriet en piesangs hul fokus was. “Ek het begin dink: Wat daarvan as ek iets anders probeer? Iets wat ook in hierdie geweste sou werk?” Sy navorsing het getoon koffie was ’n groot moontlikheid. Die belangrikste beginsel wat hy toegepas het, was om eers alles wat hy kon hieroor te leer voordat hy dit in die praktyk toepas.

Des het verskeie variëteite aangeplant. Dit het ingesluit inheemse soorte, soos racemosa, waarmee hy op groter skaal begin boer het. Racemosa word as een van die skaarsste koffies ter wêreld beskou. Hy het later self saad begin kweek, en moes kort voor lank bykomende grond vind vir verdere aanplantings. Uiteindelik het hy grootliks op drie variëteite gekonsentreer, terwyl hy deurgaans raad en wenke by gesoute koffieprodusente gesoek het.

Aanvanklik het die Wichmanns alles op die been gebring met hul eie personeel, maar deesdae maak hulle ook gebruik van ander plaaslike werkers, veral tydens oestyd. Die onderneming het uitgebrei na volle produksie van verskeie koffiegeure, saam met ’n koffiekafee en winkeltjie waar lekkernye te koop is. Mpenjati bied ook leersame koffie-inligtingstoere aan.

“Dit het drie jaar geduur om ten volle op dreef te kom … van die leerproses oor die boom, die blomme en die bone, tot pluktyd en die vervaardiging van topkwaliteitkoffie.”

Koffie bly ’n onmisbare lekkerte, maar verskillende verbruikers het verskillende smake. Dit is in daardie smake, wat aansluit by verskillende leefstyle, dat Mpenjati kan voorsien. Die boerdery inkorporeer ook ander omgewingseie produkte, soos piesangs en makadamias. 

“Binne sowat sewe jaar het ons die uitdagings van koffieproduksie aanvaar, alles geleer oor peste en plae, sowel as die intensiewe vervaardigingsproses. Jy kán iets regkry as jy wíl. Dis dan dat jy weet jy hét die antwoorde nog voordat die vrae gevra word.”

  • Vir meer inligting, volg @Mpenjati Coffee op sosialemedia, bel 083 440 4431 of skryf aan tasty@mpenjaticoffee.co.za
  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.