DINK GRÓÓT

Mount Joy Farms: ’n Volhoubare boerdery gegrond op gesonde landboupraktyke

’n Hele paar uitsonderlike kenmerke laat Mount Joy Farms naby Stellenbosch uitstaan. Seker die belangrikste is dat dit een van Suid-Afrika se voorste pruimprodusente en een van ons land se heel oudste sagtevrugteplase is, met ’n geskiedenis wat al nagenoeg 300 jaar terugdateer.

Hierdie praglandgoed, in familiebesit, is een van die Banhoekvallei, naby die Helshoogtepas, se trotsste en bes versorgde vrugteplase wat spog met 15 pruimkultivars waarvan nagenoeg 90% uitgevoer word. 

Tog is dit die statige herehuis met sy manjifieke tuin en groen grasperke wat heel eerste die oog vang. Kyk jy ’n bietjie dieper, is dit die gesin Woodland se boerderypraktyke wat die aandag trek. Een van die landgoed se fokuspunte is volhoubare landboumetodes wat in die eerste plek die produksie van kwaliteit, eerder as kwantiteit, nastreef. Gepaardgaande hiermee is die benadering om van so min moontlik chemikalieë gebruik te maak ten einde die omgewing te beskerm. Vir die eienaars is dit ononderhandelbaar dat Mount Joy bekend staan vir sy regverdige arbeidspraktyke en uitmuntende menslikehulpbronbestuur. Die Woodlands glo ’n belegging in die plaaspersoneel, met bogemiddelde werks- en woonomstandighede, is van die uiterste belang om sukses vir alle rolspelers hier te verseker.

Dít, sê Mark Woodland, uitvoerende hoof van Mount Joy, is een van die hoekstene waarop hulle landbou-onderneming gebou is. “Elke moontlike poging word aangewend om die heel beste landboumetodes in werking te stel. Dit sluit in die veiligheid, gesondheid en die welsyn van al ons werkers, saam met elke moontlike poging om die grond reg te bestuur, water te bespaar en ons oeste te beveilig. Ons filosofie is om, waar ook al moontlik, omgewingsvriendelike boerderymetodes aan te wend. Dit sluit in die monitering van ons koolstofvoetspoor sodat dit gunstig vergelyk met die algemene bedryfstandaarde.”

Mount Joy se oorsprong loop terug tot die tyd toe grond ’n paar honderd jaar gelede in die Banhoekvallei aan voornemende boere toegeken is. Dit was hier in die omgewing van 1708 dat die eerste plase in die omgewing gevestig is. Dié plaas, in sy huidige formaat, is in 1899 gestig toe Mark se oupa van Denemarke na Suid-Afrika gekom het. Dit is nou nadat hy ná die Tweede Wêreldoorlog na Kenia geëmigreer het waar hy toe geboer het en ook ’n grootwildjagter was. “Ná 20 jaar daar, nadat Kenia sy onafhanklikheid gekry het, het hy die keuse gehad om óf na Kanada, óf Australië óf Suid-Afrika te emigreer. Dit was vir hom belangrik om op die vasteland van Afrika aan te bly – dis waarom hy toe na Suid-Afrika gekom en Mount Joy gekoop het.”

Onder meer appels, pere, pruime en kersiebome is destyds aangeplant, en lewende hawe is toe ook op die plaas aangehou. “Oupa het dit vir ’n paar jaar gedoen, en ná sy dood het Ouma oorgeneem en verder geboer. Daarna het my pa begin boer, maar net as ’n bykomende onderneming. Hy het as advokaat gewerk, maar dit was vir hom belangrik om op die familie se nalatenskap voort te bou.”

Mark het hier rondom 2020, ná sy universiteitstudie, intens by die familie-onderneming betrokke geraak. Vir hom is dit nou ’n voltydse beroep. 

Vrugteboerdery is sy passie, en in dié betreklik kort tydjie het hy die verskeie pruimkultivars en hul gedrag intensief leer ken. “Ons fokus nou nét op pruime, wat dit vir ons moontlik maak om te spesialiseer in die produksie van ’n wye reeks kultivars, wat insluit Zaiger-variëteite soos Midnight Gold, Ruby Dawn, Honey Punch en Flavor King. Ander kultivars is Black Splendor, African Delight, African Rose, Fortune, Honeymoon, Laetitia, Purple Majesty, Ruby Sun, Sapphire, Songold, Fall Fiesta en Sunkiss.”

Zaiger-variëteite het te doen met ’n spesiale steenvrug-genetikakweekprogram waardeur nuwe moontlike kultivars nagevors word, sowel as om toe te sien dat besonderse kwaliteit geproduseer word.

Mark sê dis veral die Black Splendor-, African Rose- en Ruby Dawn-variëteit wat uitstekend op die uitvoermark vaar. Die produksie van hierdie kultivars is volgens hom ’n bietjie moeiliker, maar as jy dit eers onder die knie het, is dit ’n puik toevoeging tot ’n plaas se uitvoeraanbod.

Om met soveel variëteite pruime te boer, is enersyds lonend; andersyds verg dit diepgaande kennis van hul groei- en dragkenmerke. “Jy moet die produksie baie goed bestuur, en dit kan jy net doen as jy hul eienskappe goed ken.” 

Nog ’n faktor wat ’n reuse-rol speel in die produksie van pruime is die wind, sê Mark.

“Die afgelope twee seisoene het die wind seker 20% van ons oes gesteel. Die terugslag lê nie net in die vrugte wat van die bome afgewaai word nie, maar ook in die skade wat aan die bome self aangerig word. Skuurmerke, wanneer jou vrugte teen die blare of teen die bome skraap, kan ’n groot probleem wees, want dit maak dat die vrugte nie meer vir die uitvoermark geskik is nie.  

“Toe ek vyf jaar gelede by die besigheid aangesluit het, het ons seker 50% van die oes weens wind verloor. Ons het hierdie probleem nou redelik oorkom – deur die verskillende kultivars reg te bestuur.”

Alles gaan oor tydsberekening, volgens Mark. “Ons plant nou kultivars wat vroeër ryp word, in Desember, terwyl die ergste wind in die Stellenbosse omgewing in Januarie en Februarie waai. Ons probeer dus om sulke eksterne faktore soos die wind te systap.”

’n Belangrike voorvereiste om kwaliteitpruime te kweek, is grondbestuur, sê Robert de Kock wat die plaas saam met Mark volgens ’n streng tydskedule bestuur. Vir dié doel maak Mount Joy Farms gebruik van Agri Technovation om grondmonsters te ontleed en uit te pluis of daar wanbalanse bestaan, soos te veel of te min kalsium of stikstof. Agri Technovation is ’n maatskappy wat die wetenskap en tegnologie inspan om innoverende boerderypraktyke te help vestig en handhaaf.  

“Ons ontvang dan ’n program wat vir ons uitwys waar hierdie tekorte in die grond lê en word ingelig hoe ons die grondgehalte verder moet bestuur,” vertel hy.

Agri Technovation is ook daar om plase soos Mount Joy te help bepaal watter nematodes in die grond is – watter skadelik is en watter nie. “Grondnematodes help om, op ’n natuurlike wyse, ons grondkwaliteit te verbeter. Dit is noodsaaklik vir ’n voorspoedige ekosisteem. Ons werk nou saam met Agri Technovation om ons te help om vooruitstrewend te boer.”

Mount Joy se kultivarverskeidenheid dra by tot ’n volhoubare onderneming, want jy leer watter variëteite vir watter markte gelewer moet word, sê hy. “Ons produseer vroeë-variëteite, middel-variëteite en laat-variëteite en kan dus ons vrugte oor ’n langer tydperk lewer, selfs wanneer daar minder vrugte in die mark is. Dit is hoe jy jou produksie ononderbroke aan die gang hou.”

Hierdie werksmetode het ook ’n positiewe invloed op hulle werkspan, sê hy. “Dit help nie jy stel kontrakwerkers aan en moet hulle dan ’n ruk lank huis toe stuur omdat daar nie pruime is om te oes nie. Dis die slegste ding wat ’n boer kan doen, want sulke werkers kan dan ander werk kry.”

Die plaaslike verbruikersmark het nog ’n reuse-geleentheid tot groei, volgens Mark. “Ons voer sowat 90% van ons vrugte uit – net 10% word plaaslik verkoop.”

Enige plaas wat ’n positiewe groeikurwe wil toon, moet weet dat kontantvloei een van die belangrikste aspekte is vir ‘n finansieel gesonde onderneming. “Dis waarom diversifikasie nodig is. Ons oestyd is jaarliks net sowat vier maande lank. Daarom het ons ook ’n Air B&B-inkomste uit een van die huise op die plaas, saam met sewe ander wat ons opgeknap het en op ’n permanente grondslag verhuur vir ’n bykomende vaste inkomste.”

Mount Joy het nog ’n sakegeleentheid raakgesien en ontgin in die vorm van hul verpakkingsmaatskappy, Banhoek Fruit Packers. “Ons vrugte word gepluk en gehanteer in ooreenstemming met die beste landboupraktyk. Ons eie vrugte word hier vir die oorsese sowel as plaaslike mark verpak – en hierdie reeds verpakte vrugte ondergaan laboratoriumtoetse om te verseker dat dit voldoen aan plaagbeheerbeperkings soos gestipuleer deur GlobalGap, Tesco Nature’s Choice en ander plaaslike regulasies. Voor uitvoer word die vrugte ook geïnspekteer deur die PPECB, oftewel die Beheerraad oor die Uitvoer van Bederfbare Produkte (Perishable Products Export Control Board). Kwaliteitstandaarde word deurgaans aan die strengste maatreëls en toetse onderwerp.”

Van Mount Joy se ander bestuurspraktyke is pogings om die landgoed se afhanklikheid van nie-hernubare energiebronne soos diesel en ander fossielbrandstowwe te verminder, om afhanklikheid van elektrisiteit in te kort, asook om ’n aktiewe herwinningsprogram op die plaas te handhaaf. “Dit is nie net ons poging om afval en besoedeling hok te slaan nie, maar om ’n bewusmaking te kweek van die voordele van die vermindering van afvalprodukte.”

  • Volg @Mount Joy Farms op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.mountjoy.co.za . Bel 082 414 9994 of skryf aan mark@mountjoy.co.za Adres: Mount Joy Farms, Zevenrivierenpad, Banhoek, Stellenbosch.