
Veel hoër gesondheidswaarde as volwasse ekwivalente
Mikrogroente is ʼn sambreelterm vir groente wat tydens hul eerste, werklike blaarstadium van groei geoes kan word. Met hulle ryk kleure, teksture en smake, word mikrogroente, alreeds algemeen in ons voorste restaurante gebruik vir garnering en kulinêre slaaibestanddele.
Mikrogroente het ook die potensiaal om as ʼn superkos ʼn blywende impak te hê op hoe ons groente in die toekoms gaan eet.
Schalk van Rooyen, natuurwetenskaplike en tegniese konsultant vir Laeveld Agrochem op die gebied van botaniese ekstraksies, plantvoeding en die alternatiewe gebruik van plante, meen dat mikrogroente, en in die algemeen meeste jong plante, oor hoër voedingswaarde as hulle volgroeide eweknieë beskik. Dit is omdat die klein plantjies steeds moet groei en groter konsentrasies voeding benodig om volwassenheid te bereik.
Van Rooyen verwys in dié verband na ’n studie getiteld “Assessment of vitamin and carotenoid concentrations of emerging food products: edible microgreens”, wat in die Journal of Agricultural and Food Chemistry * verskyn het. Dié navorsing het bevind dat mikrogroente vier tot ses keer meer vitamienes (bv. vitamien C en E), en ander molekules soos beta-karoteen, as volwasse groente bevat. Nog meer onlangse studies voer aan dat die vitamien- en mineraalvlakke in sekere gevalle tot 40 keer hoër as dié van volgroeide plante is.
Anti-oksidante werk sistematiese inflammasie in die liggaam teen
“Die aanloklike kleure van mikrogroente speel ’n rol in die visuele persepsie van ’n dis en laat slaaie byvoorbeeld meer vars en aanloklik lyk. Maar die intense kleur van sekere mikrogroente dui ook op die teenwoordigheid van verskeie plantmolekules met baie gesondheidsvoordele. Dié molekules ressorteer onder die karotenoïede, antosianiene en pro-antosianiene molekuulgroepe wat baie goeie natuurlike anti-oksidante is wat sistemiese inflammasie in die liggaam teenwerk. Dit help ook met die verbetering van bloedsirkulasie, verlaag cholesterol, beskerm sensitiewe weefsel soos die brein en retina van die oog en help om sekere siektes soos kanker te bestry,” sê Van Rooyen.
Hy voeg ook by dat vlakke van fitochemiese verbindings in mikrogroente hoër is en dat daar ook spesifieke soorte van dié molekules is wat nét in mikrogroente voorkom. “Daarom is dit juis belangrik om eerder die klein plantjies te eet om hierdie unieke molekules te benut.”
Mikrogroente word gemiddeld tussen 10 en 14 dae nadat die saad geplant is én nadat die saadlobbige blare ten volle ontwikkeld is, geoes. Dít sluit plante soos amarant, beet, broccoli, geel en rooi mosterd, roket, radyse, Chinese kool, spinasie asook sonneblom- en ertjielote in.
Andrew Stiebel, medestigter van First Light Farms in KwaZulu-Natal se Middellande sê die vraag na hulle mikrogroente groei bestendig sedert hy en sy sakevennoot Byron Piccione dié nisboerdery in 2017 begin het.
First Light lewer hulle produkte aan restaurante en kleinhandelwinkels (supermarkte, gesondheidswinkels, aanlynwinkels, ens.) met eersgenoemde wat hul grootste mark is. “Die gewildheid van ons produk het veral onder restaurante toegeneem, want ons verseker dat ons mikrogroente bekostigbaar, lang-lewend en van die hoogste gehalte is. Sjefs gebruik slegs ʼn klein hoeveelheid mikrogroente om die smaak, tekstuur en estetika van disse op te kikker, wat dus die gebruik van die produk in die hedendaagse kombuis ‘haalbaar’ maak. Dis egter baie moeiliker om toegang tot die kleinhandelmark te verkry en dit verg baie werk en kreatiwiteit.”
Verg relatief min aanvangskapitaal en min spasie
Mikrogroente is relatief maklik om te kweek en vereis min onderhoud wat bydra tot die toename in gewildheid onder mense wat dit tuis kweek asook die wat dit op klein skaal verbou.
Om ʼn mikrogroente-onderneming op ʼn kommersiële skaal te bedryf, het ook voordele bo ander moontlike nisboerdery-ondernemings. Eerstens vereis dit nie ʼn baie groot kapitaaluitleg om die bedryf op die been te bring nie en word ook relatief min spasie benodig om die mikrogroente te kweek. Verder kan meeste mikrogroente-variëteite binne die eerste twee weke al geoes word. Dit beteken dat tot soveel as 25 oeste per jaar gelewer kan word aangesien dit nie seisoengebonde is nie. Dít vereis ook minder water en energie om te verbou.
Van Rooyen meen egter baie meer moet nog gedoen word om die aanvraag te stimuleer en verbruikersbewustheid oor mikrogroente as ʼn toekomstige superkos aan te wakker. “Verbruikersvraag sal in ʼn groot mate die mark dryf, maar dit behoort verder gestimuleer te word namate meer restaurante dit by hul spyskaarte inkorporeer en dit as standaarditems op supermarkte se rakke verskyn.”
“Verder, aangesien die verbouing van mikrogroente so min spasie verg, bestaan die moontlikheid dat stadsbewoners in hulle massas sal begin om hulle eie mikrogroente te kweek. Dit sal nie net tot skoner lug in ons stedelike gebiede bydra nie, maar ook tot die terugkeer van verskeie insekspesies wat ʼn beduidende rol in ons stede se biodiversiteit kan speel.”
* Xiao, Z, Lester, G.E., Luo, Y. en Wang, Q. Assessment of vitamin and carotenoid concentrations of emerging food products: edible microgreens. Journal of Agricultural and Food Chemistry. 2012. Vol 60 (31): bls. 7644-7651.