Rietpan Kwekery is eintlik boere van boere, wanneer ’n mens mooi daaroor dink, want teen 2016 was omtrent ’n vyfde van die pekanneutbome wat in ons land geplant is deur hulle verskaf. Sedertdien het hulle van krag tot krag gegaan en word hulle vandag landwyd hoog aangeskryf vir die uitstekende kwaliteit van die bome wat hulle verskaf, veral aan ander pekanneutboere.
Tydens ons onlangse besoek aan dié kwekery het ons uitgevind wat hul truuk is: ’n Kombinasie van volhou met die basiese beginsels, deurlopende navorsing en die implementering van nuwe internasionale ontwikkelings in boerderytegnieke. Rietpan Kwekery is gedurig besig om hul grond te verbeter en gebruik ’n organiese, eerder as ’n chemiese, benadering.
Van die verbeterde variëteite wat hulle verskaf, sluit in Wichita, Navaho, Choctaw, Western Schley, Pawnee en Ukulinga. So gepraat van die goeie ou basiese beginsels wat die toets van tyd deurstaan het – hulle verskaf uitsluitlik geënte bome. Enting word al eeue lank vir die voortplanting van vrugtebome gebruik, omdat dit die lewe van die boom verleng en verseker dat dit vinniger vrugte begin dra.
Die algemene konsensus oor pekanneutboerdery is dat dit definitief nie ’n vinnige manier is om geld te maak nie, aangesien die uitlegkapitaal daarvoor hoog is en dit oor ’n baie langer termyn eers vrugte begin afwerp. ’n Pekanneutboom kan byvoorbeeld tot tien jaar neem om volwassenheid te bereik en tot sy volle potensiaal te begin produseer.
Wanneer dit egter eers begin dra, is die opbrengste hoog en kan dit vir 100 jaar aanhou vrugte lewer. Om dié rede word dit ook beskou as die tipe boerdery wat ’n mens vir jou kinders en húl kinders opbou, of as ’n familienalatenskap ontwikkel, as jy wil.
In dié verband … die Amerikaanse Pekanneutraad het onlangs beraam dat Suid-Afrika teen 2027 ongeveer 72 500 ton pekanneute per jaar sal produseer. Dit verteenwoordig sowat 10% van die wêreld se totale verbruik. Hierdie projeksie stem ooreen met die groeitendense in die bedryf, aangesien ons land se pekanneutproduksie van 2006 tot 2018 met soveel as 529% gegroei het.
Pekanneutbome is oorspronklik in Natal en Mpumalanga aangeplant, maar dit het nie juis in dié subtropiese klimaat gefloreer nie. Die bedryf is dus stelselmatig na die Noord-Kaap geskuif, waar Rietpan Kwekery natuurlik ook geleë is. Sedertdien is dit bewys dat pekanneutbome eintlik beter vaar in droër gebiede met lang, uiters warm somers en kort, koue winters.
Indien die regte klimaat en grond dus tot jou beskikking is, klik hier om met die kenners by Rietpan Kwekery te gesels sodat jy aan daardie toekomstige neseier kan begin bou. Een van die eienskappe waarvoor hulle juis bekend is, is die absolute toewyding waarmee hulle voornemende pekanneutboere bystaan om ’n boord te vestig waarmee hulle volhoubare sukses kan bereik.
Kyk gerus ook na hierdie nuttige studie oor die verbouing van pekanneute wat deur die Departement Landbou opgestel is: https://www.nda.agric.za/docs/pecan/pecan.htm. Volg @Nisboere op Facebook om sáám met ander nisboere te leer en jόú storie te deel.