Vir die goeie dinge in die lewe moet jy geduldig wag, glo die TV-en-mediapersoonlikheid Rian van Heerden. Maar die dag as daardie positiewe “iets” oor jou pad kom, moet jy die kans aangryp en hierdie nuwe geleentheid omarm.
Dis presies wat hý gedoen het. Toe sy begeerte om te boer in sy vyftigs al hoe sterker word, het hy nie op hom laat wag nie. Hy was baie bewus van die feit dat dit ’n totaal ander beroepsrigting is as die een wat hy al bykans drie dekades volg, maar hy was oorgehaal om iets nuuts aan te pak. Landbou was sy keuse. Daar was vir hom geen beter tyd as nóú nie.
Met sy uiters suksesvolle loopbaan op TV en radio sterk op dreef, sou mens dink hy het reeds alles bereik. Tog, vertel hy, was daar maar altyd ’n hunkering na “’n eie stukkie grond, ’n plasie, ’n nabyplekkie aan Pretoria”.
Rian het gehoor gegee aan dié binnestem en sowat ʼn jaar lank op allerhande eiendomsplatforms begin kuier. Hy sou weet wat die regte eiendom en die regte skuif is. “Toe, op ʼn dag sien ek ʼn plekkie wat vir my nogal mooi is.” Dit pas sy sak, die afstand is reg, en sy hart klop reg oor dié plasie. “Ek hou sommer baie daarvan, maar wonder oor die woorde ‘excluding chaya’ in die advertensie. Wat dít is, weet hy glad nie, maar hy maak ’n afspraak en val in die pad.
Die eiendom voldoen aan al sy verwagtinge, en terwyl hy tussen ’n boord “onbekende” boompies staan, google hy vinnig die naam wat die eienaar, Sharon, dit noem: chaya, oftewel Cnidoscolus aconitifolius, in Suid-Afrika algemeen bekend as boomspinasie of die spinasieboom. Dit is ‘n groot, vinnig groeiende en blaarryke meerjarige struik in die wolfsmelkfamilie Euphorbiaceae. Die plant is inheems aan Mexiko en het al tydens die Maya-beskawing natuurlik voorgekom. Die Mayas het die ongelooflike medisinale eienskappe besef, en vir duisende jare die blare en stamme as voedsel en medisyne gebruik. Dis vandag steeds ’n belangrike deel van die Maya-cuisine. Die blare is gebruik vir allerlei veltoestande, en in eetbare vorm voorgesit is dit ’n energieryke voedsel wat spysvertering aanhelp, jou immuniteitstelsel bou, hoë cholesterol teenwerk en anti-oksidante aan die liggaam verskaf.
Die plant word sowat 5 meter hoog, en die blaargrootte wissel tussen 10 en 30 cm in deursnee.
Nou was sy nuuskierigheid geprikkel, want hy verneem dat Sharon besig is om ’n velroom uit die blare te ontwikkel. “Ek besef toe watse wonderplant dit is.”
Koper en verkoper kom egter nie ooreen op ’n verkoopprys vir die eiendom nie. Hulle kom wel tot ’n vergelyk oor die oorkoop van die honderde gevestigde bome wat Sharon aanvanklik by die koop uitgesluit het. Rian kon ook staat maak op die omvattende navorsing wat sy al hieroor gedoen het.
Al kwessie was: Hy sou moes gou speel. Sharon wou die transaksie binne een week afhandel. Wat beteken het hy moes binne een week ’n ander eiendom vind wat sy sak en sy planne pas.
Niks werk so goed soos druk om in jou doel te slaag nie, en tot sy verbasing vind Rian ʼn plasie na sy smaak binne een week buite Bela-Bela. “Ek het al die boompies laat oorskuif en nog ’n klomp aangeplant.” Hy het dié plasie Maya Chaya gedoop.
Die hervestiging en aanpassing van die bome het egter veroorsaak dat Rian by die 500 boompies verloor het. “Ek het baie gou uitgevind dat chaya-boompies baie sensitief is. Hulle moet baie, baie goed opgepas word.” So het hy ontdek dat hulle ook nie goed reageer op die Bosveldwinter nie, “en ek moes vir elkeen ’n ‘rokkie’ laat maak”.
Dit is so dat die chaya gewoond is aan die weersomstandighede en temperatuur van Mexiko. “Ons somer is perfek vir hulle, maar hulle verlang intensiewe sorg in die winter,” sê hy.
Volgens Rian is daar wel oomblikke dat hy nog steeds wonder hoe op aarde hy in die chaya-boerderybedryf beland het, ”as ek daaraan dink dat ek net minder as ’n jaar gelede hiermee begin het”.
Om die bome te verplant, was maar net die eerste fase van sy nuwe landbouloopbaan, maar hy het goed besef fase twee sal moet volg, en dit is om die helende velroom te vervaardig. Hy moes hierdie produksieproses aan die gang kry om sy insetkoste te verhaal. “Sharon het my vertel hoe ongelooflik goed die room werk vir velprobleme. Ek het die monstertjie wat sy vir my gegee het, self getoets, en kan dit beaam.”
Sy volgende mikpunt was die produksie van die poeier met dieselfde kwaliteite.
’n Kleinerige aanleg vir die vervaardigings- en verpakkingsproses is opgerig en met die nodige toerusting ingerig. Dit is hier waar die chaya-blare in reuse-bottels olyfolie ingelê word, om die essensiële lemoenolie van die plant in die olie vry te stel. Dit word ná ‘n paar weke uitgehaal en die olyfolie, deurdring met die blare se essensiële olie, word met ’n roombasis gemeng om die eindproduk te verkry. Die blare word fyngemaal as basis vir die poeier.
“Fase drie is een van die belangrikste aspekte,” vertel hy. “Terselfdertyd ook een van die uitdagendstes: Dit is die bemarkings- en verspreidingsproses.” Vir eers fokus Rian op die twee bestaande produkte, wat hy hoofsaaklik by stalletjies op markte van die hand sit.
Hy gaan egter voort om huiswerk te doen oor nog ander moontlike produkte wat uit die chaya-plant vervaardig kan word. “Daar is nog baie ander goed wat ons met die chaya wil doen, maar in hierdie stadium konsentreer ons net eers op die velroom en die ongelooflike poeier. Ons probeer hierdie produkte so natuurlik moontlik hou.”
Vier goed opgeleide plaaswerkers en ’n plaasbestuurder help Maya Chaya koershou. Die drie wat in die boord werk, sorg vir elke boompie en weet ook al geen blaar word gepluk voordat dit nie so groot soos ’n handpalm is nie. Een werker doen diens in die vervaardigings-en-verpakkingsaanleg, en die plaasbestuurder hou hom ingelig oor die hele boerdery wanneer hy terug in Pretoria is of by markte die Maya Chaya-produkte bemark.
“Hierdie plant gee jou soveel op een slag, mits jy hulle goed versorg,” vertel Rian. Een van die verblydendste aspekte is die goeie terugvoer wat hy ontvang van kopers en ook vriende wat kan getuig van die helende eienskappe van hierdie “wonderwerkplant”, soos hy dit noem.
Oor entrepreneurskap voel hy sterk. Goeie entrepreneurs weet harde werk en passie is die grondslag van sukses. “My beste advies aan enige jong entrepreneur is … vergeet van jou sosiale lewe. Daar bestaan nie iets soos werkure nie. Jou ure word bepaal deur jou kliënte – wanneer hulle iets soek, moet jy dit aan hulle kan verskaf. En die belangrikste is – wanneer jy dink jy ’n aftydjie het, moet jy dié tyd gebruik om te dink na watter vlak jy jou produk volgende kan neem. Vra jouself af wat jy nóg kan doen, wat jy nog ekstra kan aanpak. As entrepreneur mag jy nooit ophou dink nie.
“Jy moet altyd onthou – jou een voet is in die nóú, en die volgende in die toekoms.
“Net soos hierdie plant jou geduld vra, moet jy altyd weet jy moet op die beste dinge in die lewe geduldig wag.”
- Vir meer inligting, volg @Maya Chaya op sosialemedia. besoek www.mayachaya.org, skryf aan info@mayachaya.org of bel 064 068 3842.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.