DINK GRÓÓT

Marina omskep haar passie vir plante in profyt!

Toe Marina Bothma amper 20 jaar gelede saam met haar eggenoot, Tiekie, haar geboorteplek – die groen Hexriviervallei by De Doorns – verruil het vir ’n groter stuk grond naby Keimoes in die droë Noord-Kaap, was dit om saam met hom hul loopbaan in die uitvoerdruiwebedryf voort te sit.

Hier het Tiekie vir ander uitvoerdruiweboere begin werk, terwyl Marina bedags tuis was om, soos sy vertel, “na die terrein om te sien”. Van planne vir eie tydverdrywe of ’n eie sakeonderneming was daar nog geen sprake nie.

Haar passie vir plante het haar wel onmiddellik laat belangstel in die sowat 4 000 kokerbome of boomaalwyne op haar broer se plaas daar naby, van kleineres tot manjifieke volwasse bome – vernoem na die kokers vir hul pyle wat die San-mense toentertyd uit die dunner stamme gemaak het. Die bome word tussen drie en nege meter hoog, met ’n basis van tot een meter breed, en hulle kan tot so oud as 140 jaar word.

“Ek en hy het ’n passie vir hierdie uitsonderlike boom gedeel, en ek het eendag vir hom gesê ek wil graag kyk of ek kokerbome kan kweek. Hy het my aangemoedig, en ek het navraag begin doen oor die moontlikhede.”

Kokerbome is ’n beskermde plant, daarom moes Marina haar papierwerk agtermekaar kry. “Ek het in Kimberley by Natuurbewaring en Toerisme beland en raad gekry by die aangewese mense. Hulle wou heel eerste weet waar ek die saad vandaan gaan kry. Gelukkig het ek intussen ook iemand in die omgewing leer ken met 300 volwasse kokerbome op sy grond. Hy het toe amptelik toestemming gegee dat ek saad by hom kan kry. Die bome op sy terrein is daarna geboekstaaf.”

Op die ouderdom van 61 het Marina met haar onderneming, Koms Kokerboom Kwekery, begin nadat sy as kweker en verkoper van beskermde flora geregistreer is. “Ek het begin met die Aloidendron dichotomum, en later het ek ook van die bedreigde spesies uit die Richtersveld gekry.”

Haar kwekery het uitgebrei vanaf ’n beskeie sewe saadbakkies in vier planthokkies tot waar sy vandag die Noord-Kaap se grootste kokerboomkweker is. Benewens ander vetplante, veral uit die Namakwaland en die Boesmanland, die meeste van hulle ook beskermde flora, hou sy onder meer ook kameeldoring- en kremetartboompies aan. Veral toeriste doen graag aan by Koms, mense uit Upington, Springbok en die Boland, ook Namakwalandse blommekykers en Gautengers wat dié besonderse boom na die noorde van die land wil saamneem. “In ’n stadium wou van die kopers die groot soort kokerboom hê, en ek het dit toe aangeskaf by die Vanrhynsdorp-kwekery, die grootste kokerboomkwekery in die land.”

Deesdae kry sy navrae van plantliefhebbers regoor Suid-Afrika, en padstalle is van haar beste aankopers. “Hulle moet gedurig weer hul voorraad aanvul omdat toeriste die boom so graag aankoop. Mense met ’n passie vir plante soek altyd iets besonders.” 

Kokerbome is met min tevrede, vertel Marina. “Sy wortels wil nie in die water staan nie, hy wil ook nie dat reën in sy kroon bly lê nie. Dus sorg ons vir ’n oorhoofse, fyn missproei sodat die plant gou droogword, anders vrek dit. Kokerbome is baie dankbare plante en groei ongelooflik maklik.”

Kokerbome se ideale groeiomgewing is die woestynagtige, dorre klipwêreld van die Noordwes-Kaap, Namakwaland, Suid-Namibië en die Richtersveld. Dis ’n endemiese spesie aan die sukkulente- en Nama-Karoo-bioom.

Geen uitdaging is vir haar te groot nie, sê Marina. “Ek laat nie toe dat enigiets my terughou nie. Om jou eie onderneming op die been te bring en suksesvol te bedryf, moet jy ’n passie hê daarvoor. Jy mag nie moed opgee nie, maar jy moet leer om te volhard in dit wat jy doen.”

Die kweek van kokerbome is ’n vaardigheid wat moet voortgesit word. Daarom inspireer sy graag jongmense om meer van die boom te wete te kom.

Om Koms Kokerboom Kwekery te besoek, ry met die R27 tussen Keimoes en Kenhardt. Draai wes op die R359 en ry 8,6 km. Dié lieflike kwekery vorm deel van die Kokerboom Voedsel-en-Wynroete tussen Upington en Riemvasmaak.

Vir meer inligting, bel Marina by 072 374 9432 of 054 0195; of skryf aan: bothmakokerbome@gmail.com

Koms is elke dag, behalwe Sondae, oop van 07:00 tot 17:00. 

Volg Koms Kokerboom Kwekery en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel.