DINK GRÓÓT

Lone Tree Farms: gehalteproduksie oor vier generasies

As daar een aspek is wat ’n kernrol in die suksesverhaal van Lone Tree Farms speel, is dit tyd – met tydsbestuur wat daarmee saamhang. 

Dié plaas naby Fouriesburg in die vrugbare Oos-Vrystaat is al sedert 1948 in die besit van die Osler-familie, waar die vierde generasie nou voltyds met appels en ’n verskeidenheid ander gewasse boer. Tyd het hulle oor byna tagtig jaar geleer dat geslaagde entrepreneurskap iets is wat geleidelik ontwikkel … deur aan te hou probeer en eksperimenteer, en veral deur fyn beplanning. 

Die ander tydsaspek waaraan die broers Doug en Mike, en hul suster, Gill, groot waarde heg, is om aanplantings só te doen dat elke maand van die jaar ’n opbrengs van die een of ander aard lewer. Dit beteken dat hulle ’n wye groep uiteenlopende markte kan bereik, maar ook dat hulle dwarsdeur die jaar werk kan verskaf aan ’n groot groep arbeiders van die omgewing – seisoenaal en permanent.

Doug, bedryfsbestuurder in beheer van appelverbouing, vertel dat hul oupagrootjie dekades gelede die grens van Lesotho oorgesteek het en dié grond, toe nog genoem Sheridan, gekoop het. Van geslag tot geslag het dié boerderyonderneming ontwikkel en gedy tot ’n omvattende onderneming wat hom trots sou maak op hierdie jong geslag in wie se bloed boerdery oor die jare ’n vastrapplek gevind het. 

Doug werk nóú saam met Mike, op sy beurt bedryfsbestuurder van gewasse, en met Gill wat sorg dat die boeke klop. Hul pa, Guybon, hou ’n wakende oog oor sy talentvolle kinders, gee leiding en advies waar nodig, met sy jare lange landbouervaring wat dit rugsteun, veral wat maatskappyontwikkeling betref. 

Lone Tree Farms se vrugteafdeling bestaan hoofsaaklik uit appels van verskillende variëteite, verbou op twee verskillende persele, natuurlik met die broodnodige verpakkings- en verkoelingsgeriewe wat nie net ’n volledige entiteit binne een onderneming moontlik maak nie, maar ook deur ander boere in die omgewing benut kan word. 

Die gewasse-afdeling behels droëlandverbouing van koring, mielies en droëbone, terwyl aartappels met behulp van sprinkelbesproeiing gekweek word. 

Doug, wat as woordvoerder vir die familie optree, vertel met trots van die deursettingsvermoë en volgehoue poging tot vernuwing wat van die een geslag tot die ander aangegee is. Aanpasbaarheid is ’n bykomende faktor wat ’n onderneming laat groei en floreer, meen hy. “Ons is nou die vierde geslag wat hier boer; ons kinders is die vyfde generasie. Die grond is al sedert 1948 deel van ons familie, en oor die jare het ons gesorg dat die onderneming uitbrei.”

In die jare negentig het die Oslers op appels begin fokus. “Ons wou ’n gewas verbou wat ons kan uitvoer, met ander woorde ons het gedink dis ’n goeie plan om ook nou buitelandse geld te begin verdien. Dit het met rasse skrede vooruitgegaan sedert ons ons eerste boorde in 1992 begin aanplant het. Vandag het ons 120 hektaar onder appelbome.”

Alle kultivars appels is op Lone Tree aangeplant, vertel Doug. “Ons het met Royal Gala begin, en nou is daar nege kultivars. Elkeen word binne sy eie venstertydperk ryp. Ons begin appels oes hier in die tweede week van Januarie, en bly daarmee besig tot einde April, wanneer ons met Pink Lady en Sundowner eindig, met verskeie ander kultivars tussenin. Die grootste rede vir die verskillende appelsoorte is dat dit ons die moontlikheid bied om ons pakgeriewe optimaal te benut, so ook die opbergingsgeriewe, met werklewering aan meer werkers. Ons kan ons geriewe en toerusting dus oor ’n langer tydperk benut.”

Om dit te kan bereik, is navorsing en beplanning noodsaaklik, wat dit vir Lone Tree moontlik maak om meer markte wêreldwyd te bereik. “Ons kyk nou ook na die moontlikheid van opbergingsgeriewe waar appels oor ’n langer tydperk gehou kan word. Dit is deel van ons beplanning om oor langer tydperke volgehoue lewering aan die mark te kan bied – met ander woorde ’n konstante leweringstroom om te verhoed dat ons nie net seisoensgerig is nie.”

Nog fokusprodukte van Lone Tree is die sowat 50 hektaar saadaartappels, terwyl die res van die plaas benut word vir droëbone, gespikkelde suikerbone, sojabone, koring en mielies. Alles word op ’n rotasiegrondslag geoes, wat inskakel by die onderneming se beleid van optimale benutting van grond, werksmag en tyd. Dié gewasse word op altesaam 1 500 ha verbou.

Doug sê dis altyd goed as ’n plaas sy eie verpakkings- en opbergingsgeriewe het, “want dan kan jy jou produklewering beter bestuur. Veral appels verg noukeurige bestuur wat gehalte betref. Terselfdertyd sorg ons dat ons ook self betrokke is by die bemarking van ons produkte.”

Maart–April is die plaas se oeshoogtepunt, wanneer daar van sowat 400 seisoenswerkers gebruik gemaak word. “Ons permanente personeel bestaan uit 76 mense, maar omdat ons gesteld is op tydsbestuur om dwarsdeur die jaar te lewer, het ons op ’n gegewe tydstip van die jaar nagenoeg 165 mense in diens.

“Ek dink óns geslag, en hopelik ook die volgende geslag, het by ons pa, oupa en oupagrootjie geleer om groot waarde te heg aan langtermynverhoudings, veral met die maatskappye en kliënte aan wie ons produkte verskaf.”

Doug noem as voorbeelde Lone Tree se verbintenis oor jare met Cape Five, ’n Kaapse maatskappy wat betrokke is by die appeluitvoermark, en Pick n Pay, aan wie al langer as 20 jaar appels gelewer word.

“Uiteindelik is die belangrikste faktor dat alles wat in die produksie- en leweringsketting gebeur, waarde toevoeg. Dit geld beslis nie net die appels nie, maar ook ons boontjies en koringprodukte.”

Optimisme speel ’n groot rol in die Oslers se landboubenadering. “Soos enige ander onderneming het ons ook al ons hoogte- én laagtepunte gehad. Boerdery het altyd sy uitdagings – maar ons probeer groter dink en uitdagings die hoof bied. Ons doen die beste wat ons kan, maar ek kan nie ontken nie dat dit ’n omgewing is wat ons al terdeë getoets het, en blý toets … soos nou met insetkoste, veral diesel, wat ontsettend gestyg het. Desondanks gaan dit goed. Ons bly positief, en ons weet die landbou is ’n bedryf wat nooit tot stilstand sal kom nie. Mense moet eet en ons moet help om die kos op die tafel te hou. Ons glo daar sal altyd ruimte vir ons wees om dit te doen wat ons die graagste doen.”

Vir dié wat waarde heg aan entrepreneurskap, meen Doug sal daar altyd geleenthede in die landbou-omgewing wees. “Dis ’n opwindende loopbaankeuse. Dis ook ’n gebied waar tegnologie ’n al hoe groter rol speel. Daar is dus beslis ruimte vir nuwe toetreders tot die landbou. Ondersoek die bedryf en bepaal waaroor jy passievol voel. Dis ’n leefstyl wat ’n klomp mense pas. Maar moenie vergeet dat dit uitdagings bied nie – een wat jou deeglik gaan toets. Die hoogtepunte vergoed vir die laagtepunte. Dit maak alles die moeite werd.”

Besoek lonetreefarms.co.za of bel 082 828 5961.

Volg Lone Tree Farms en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.