DINK GRÓÓT

livingseeds heirloom seeds

Geurige gehaltegroente uit erfenissaad

Onthou jy nog die dae toe Ouma se mielies in die agtertuin suikersoet was, haar pampoene gesmaak het soos pampoen moet, haar tamaties volrond, bloedrooi en ferm was en haar groenbone groen en geurig?

Die teleurstelling is deesdae soms groot wanneer die groente op die supermarkrak ná die kookproses óf waterig en geurloos smaak, óf jy kruie en speserye mildelik moet byvoeg om darem iéts te proe!

Ouma se groente van destyds teenoor vandag se supermarksmaak is presies waarom erfenissaad die afgelope jare al hoe gewilder geword het.

Sean Freeman van Livingseeds Heirloom Seeds (Pty) Ltd naby Klipview het dít in gedagte gehad toe hy jare gelede dié suksesonderneming begin het: Hy wou vir sy pasgebore dogtertjie net die heel beste gee. Dit sluit in gesonde, smaakvolle kos. Hy het geweet die slimste begin van goeie voeding is varsprodukte, veral groente. “Om jou kind die heel beste kos te kan gee, moet jy dit self kweek, het ek besef. Dis toe dat ek groentesaad begin bymekaarmaak het.”

Stadigaan het hoorsê die res begin doen, en navrae en bestellings het gevolg: Livingseeds het tot stand gekom. Aanvanklik het Sean 34 groentesaadvariëteite gelys, waarvan hy 19 in voorraad gehad het. Dit het uitgebrei tot nagenoeg 1 200 vandag, waarvan 1 000 op die eiendom gekweek word. 

Vandag word Livingseeds as een van Suid-Afrika se voorste erfenissaadverskaffers beskou. “Volhoubaarheid is belangrik, en dit word weerspieël in ons reuse-saadverskeidenheid – alles van die hoogste gehalte, perfek vir jou tuin.”

Behalwe erfenisgroentesaad, bestaan Livingseeds se reeks ook uit kruie-, spruit- en mikrogroentesaad. Elke variëteit word met die grootste sorg uitgesoek en gekweek vir puik gehalte en geurigheid. Die grootste deel van die Livingseeds-saadverskeidenheid word op dié plaas in Midvaal gekweek, wat beteken dat dit gewoond is aan die fel Afrika-klimaat van uiterstes.

Sean wys jou egter daarop dat Livingseeds nie ’n groenteplaas is nie. “Baie mense dink ons kweek en verkoop groente hier, omdat hier baie groentesoorte te vinde is. Ongelukkig is dit nie die geval nie. Al ons groente word gekweek om uiteindelik saad te word. Om ons komkommers as voorbeeld te gebruik … ons oes reuse-komkommers, amper oorryp, wat nie wonderlik smaak nie. Hul saad is egter van topgehalte.”

Hierdie lieflike, goed versorgde stuk landbougrond is oop vir die publiek, want die Freeman-gesin het dit omskep in ’n egte besoekerstuin, oorlaai met die varsste reuke en die helderste kleure, ’n plek wat daarvan getuig dat saad van buitengewone gehalte topprodukte lewer. “Ons waarborg ongeëwenaarde gehalte, en daarby ook skaars, ongewone variëteite – van soetrissies met hul kenmerkende smaak tot brandrissies waaraan jy versigtig moet proe, so ook pers, groen en geel boontjies tot ’n ongekende verskeidenheid kruie. Ons kweek byvoorbeeld 20 verskillende soorte basielkruid, elkeen met sy eie, unieke geur – ook meer as 60 soorte blaarslaai en meer as 100 tamatievariëteite. Vir besoekers is dit ’n ware sensoriese reis.”

Niks keer jou om ’n draai hier te maak sodat Livingseeds se kundige personeel jou kan rondwys nie, sê Sean.

Behalwe die groot saadverskeidenheid wat alles in die plaaswinkel te koop is, sal kranige tuiniers ook tuinbou- en besproeiingstoerusting hier vind, “want ons maak voorsiening vir elke tuinbou-entoesias se behoeftes”. Sean en sy span staan ook gereed met waardevolle advies om jou met selfvertroue op jou aanplantingsreis te plaas.

Deur die jare het hy, sy gesin en kollegas die groot behoefte aan kennis van erfenissaad onder die publiek besef. Daarom bied hulle nou gratis naweekswerksessies aan waar wenke ruimskoots uitgedeel word “om tuinbouvaardighede oor te dra en nuwe vriendskappe te bou met mense wat ons belangstellings deel”.

Wat beteken die term “erfenissaad” dan? Wat maak dit anders as gewone groentesaad? 

Dís van die besoekersvrae wat die Livingseeds-span dikwels moet beantwoord. Volgens Sean is dit die saad van ’n plant wat al langer as 50 jaar bestaan en nog nooit geneties gemanipuleer is nie. Die bestuiwing van die plante vind ook deur natuurlike elemente plaas. Chemiese middels vir plaagbeheer word glad nie gebruik nie, “wat beteken dat die saad so suiwer is as wat kan kom. Moederplante word nie chemies behandel nie. Die produkte wat uit ons saad gekweek word, is dus vry van enige chemikalieë. Dit word organies gekweek vir suiwerheid en natuurlike veerkragtigheid”.

Volgens hom is een van die voordele van erfenissaad dat dit in die vraag voorsien van ’n baie spesifieke mark. “Kommersiële boere soek byvoorbeeld vir sade met baie bepaalde gehaltekenmerke, ook saad wat produkte binne ’n baie bepaalde venstertydperk lewer vir ’n volhoubare boerdery wat produkte, personeel en toerusting betref.”

Hy verduidelik: “Met erfenissaad is die venster vir oestyd baie wyer. Kleiner boere of gemeenskapsboere, of dié wat vir spesifieke nismarkte lewer, wil nie graag hul hele oes in een dag afhaal nie. Dis mense wat elke Saterdag, byvoorbeeld, aan markte lewer. Hulle wil eerder gereeld kleiner oeste van die land afhaal, sê nou maar elke maand of ses weke.”

Nog ’n groot pluspunt is dat erfenissaad allerlei uitsonderlike, “anderste” produkte kan bied. Sean noem dit cool variëteite. “Tamaties, byvoorbeeld … jy kry swart, gestreepte en wit tamaties. So ook groenrissies van uiteenlopende kleure en vorms, en aartappels en boontjies van verskillende kleure. Die beste is dat die verskeidenheid binne hierdie variëteite nie één eenders smaak nie. Voorts kan hulle op verskillende maniere tydens die kookproses gebruik word. Nisgemeenskappe vra juis soms na iets baie spesifieks en ánders.”

Van die Livingseeds-saadkopers skaf dit ook aan om self aan te plant net vir ’n eie inkomste, omdat hulle weet hulle bied iets uitsonderliks vir hul eie nismark.

In die 15 jaar dat Livingseeds aan die gang is, het die personeel van een tot 35 gegroei. “So ongeveer 10 van hulle is seisoenale werkers, wat beteken dat ons 25 voltyds in diens het.”

Sean se entoesiasme oor Livingseeds Heirloom Seeds loop oor, ’n vooruitstrewende onderneming wat hy met sorg opgebou het tot ’n gesogte verskaffer van kwaliteit-erfenissaad. “Die beste raad wat ek aan iemand kan gee wat ’n onderneming begin, veral in die landbousektor, is om baie ysters in die vuur te hê. Probeer aanvanklik ’n verskeidenheid – of dit saad is, groenteverbouing, skape, bye, hoenders vir vleis of hoenders vir eiers. Dan kyk jy waarin jy die meeste belangstel en wat vir jou die beste werk. Só weet jy dís die bedryf waarop jy jou moet toespits.”

  • Volg @Livingseeds Heirloom Seeds op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.livingseeds.co.za; of bel 016 1000 824. Adres: Herringweg 26 Klipview, Midvaal 1962, Gauteng
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za