DINK GRÓÓT

Living Greens CO: Waar gesondheid wortel skiet

Party nisboerderye ontstaan uit ‘n lang gekoesterde droom. Ander uit ‘n slim sake-idee. Maar soms word ‘n nisboerdery gewoon uit noodsaaklikheid gebore.

Anelda se man het jare lank met chroniese inflammasie en uitputting gesukkel. Hulle het letterlik alles probeer en was raadop toe hulle op ‘n artikel oor mikrogroente afkom. Met ‘n doel in haar hart en hande wat vir niks terugstaan nie, het Anelda aan die werk gespring. Só het sy ‘n besigheid opgebou met ‘n fokus op natuurlike genesing en die belangrike rol wat voedsel daarin speel.

Gevestig in Montagu, het Living Greens CO baie klein begin. Met deursettingsvermoë en kennis het Anelda en haar sakevennoot, Charlene, ‘n gaping in die mark raakgesien en dit aangegryp. Vandag verbou hulle nie net ‘n verskeidenheid mikrogroente nie, hulle vervaardig boonop voedselkapsules.

Maar wat presies is mikrogroente? Wel, dit is jong plantjies wat geoes word voordat hulle groot blare ontwikkel. Die wortels bly agter, terwyl slegs die stingels en eerste blaartjies geoes word. Bekend vir hul helder kleure, aromatiese geure en unieke smake, het mikrogroente die afgelope paar jaar al hoe gewilder geword. Omdat dit besonder voedingsryk is, is daar ‘n groot aanvraag daarna, veral namate meer mense bewus raak van hoeveel voedingswaarde in so ‘n klein blaartjie opgesluit is. Living Greens CO se mikrogroente sluit radys-, mosterd-, sonneblom- en ertjielote in.

Anelda en Charlene het eerstehands beleef hoeveel mikrogroente vir ‘n mens se gesondheid kan beteken en het besluit om ook met voedselkapsules te eksperimenteer. Charlene het met trots die rol van proefkonyn vertolk en die kapsules self uitgetoets. Ná slegs ‘n paar weke was die verandering onmiskenbaar. Vanaf beter slaap tot gesonder hare en sterker naels was die voordele vir haar opvallend.

Living Greens CO glo ook in bemagtiging en werkskepping. Daarom fokus hulle daarop om vroue uit die gemeenskap aan te stel en vir spesifieke rolle op die plaas op te lei. Omdat hulle die natuur hoog ag, vermy hulle enige kortpaaie. Hulle gebruik ook geen skadelike chemikalieë of preserveermiddels in hul produkte nie.

Hierdie nisboere glo dat die pad na beter gesondheid dikwels by die kos op jou bord begin. Soms is die grootste oplossing nie ingewikkeld nie: dit groei stilweg uit die grond.